Kolgans verewig in Egiptiese kuns Print E-mail
News - Ons Omgewing
Wednesday, 21 May 2008 02:00
Untitled Document

Die kolgans word ’n gans genoem omdat hy meer soos die swaarder gans as ’n eend in vlug lyk. Hy kry sy Engelse naam, ‘Egyptian Goose’, omdat die ou Egiptenare dié ganse as heilig beskou het. Hulle het dié voëls makgemaak en afbeeldings van kolganse kan in baie ou Egiptiese kunswerke gesien word.

Alhoewel dié ’n Afrika-gans is, pas hulle goed aan in Europa. ’n Paar kolganse is in die 1700’s na Brittanje geneem en vandag oorleef ’n populasie van omtrent 500 wilde kolganse nog daar. Blykbaar is daar ook so ’n kolonie wilde kolganse in Nederland.

Die kolgans kom oor die algemeen op klein dammetjies en poele voor, maar kan ver van water af aangetref word waar hulle op grasperke wei. Hulle vreet gras, saadjies en die blare en stamme van waterplante en sal soms sprinkane of wurms vreet.

Kolganse het goed aangepas in stedelike gebiede en maak nes op gholfbane, in parke, skoolgronde en op geboue. In landelike gebiede maak hul nes in digte plantegroei, gate in kranse, bo-op ou Hamerkop- of ander ou voëlneste of binne-in gate in bome. Hulle kan regdeur die jaar broei, maar die piek van hul broeiseisoen is gewoonlik van Augustus tot September. Die wyfie lê vyf tot 12 gelerige wit eiers wat 28 tot 30 dae vat om uit te broei. Die kuikens verlaat die nes na omtrent 70 dae. Hulle is op twee jaar volwasse en kies dan ’n lewenslange maat. In gevangeskap kan kolganse tot 14 jaar oud word.


Die kolgans

So lyk kolgans-kuikens

Familie
Die kolgans, Alopochen aegyptiacus, is ’n lid van die eend, gans en swaan-familie Anatidae. Teen 63-73 cm is dié ligbruin watervoël’n bietjie groter as ’n tarentaal. Hy het ’n ligte rooibruin mantel en binnevlerke. Die boonste deel van sy vlerke is wit met ’n nou swart band oor die laaste ry vere. Sy stert is swart met ’n metaalgroen kleur. Die kop en nek is grys-bruin wat afskaal na ’n romerige kleur op sy bors en gryserige flanke. Daar is ’n kenmerkende groot rooibruin kol rondom die oog en nog ’n bruin kol op die bors. Die snawel is pienk met ’n bruin rand en ’n swart punt. Die bene en voete is ’n rooierige pienk.

Geluid
Mannetjies en wyfies lyk dieselfde, alhoewel die mannetjies ’n klein bietjie groter is. Die maklikste manier om hulle van mekaar te onderskei is om na hul te luister. Dié voëls roep nie gereeld nie, maar sal luid skree as hul bedreig voel of hul gebied beskerm.

Die mannetjies maak ’n blaasgeluid, terwyl die wyfie ’n harde kekkelende geluid maak. Die beste plek om dié verskillende geluide te hoor is rondom hul nes. ’n Paartjie is baie beskermend teenoor hul gebied, veral die nes, en sal indringers luidkeels verjaag.

 

© 2020 Die/The Bronberger