Hy klap net as dit stil is PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Wednesday, 22 February 2012 23:03
Untitled Document

Vreeslik, dié ding dat die malariamuskiete mense deesdae sommer net hier agter die berg in die groot dorp bykom, sê Gert Mossie. Hy was nog nooit baie seker of ‘n muskiet ‘n mens byt en of die verpesting jou steek nie, sê Gert.

Hy dink, sê Groot Piet, ‘n malaria muskiet byt jou eers en dan steek hy jou – aan. Maar een ding wat seker is, sê Piet, is dat die muskiete vanjaar hier in Bronbergwêreld soos nooit vantevore in hulle dermiljoene uitgebroei het. Erger as die hoeveelste plaag van Egipteland, sê Piet.

Ou Buks los die greep wat hy op sy glas met koue bruisdrankie gehad het net vir ‘n oomblik en lig sy voorarm, amper soos met ‘n wit-mag-saluut, om te wys hoe die muskiete hom gepiets het.

Nou lees hy iewers, sê Buks, die slim ouens het vasgestel dat dit nie die muskiete is wat raas, wat jou byt nie. Nee, dis dié wat geluidloos vir hulle bloedmaal naderstaan, wat jou so leegsuig. Vandat hy hierdie brokkie aardskuddende inligting gekry het, klap hy net as hy niks hoor nie, sê Buks. Dit lyk hom dit werk nogal, want die goed byt hom nie meer om die ore nie, maar hy slaap nie veel nie, sê hy.

Hy sal maar sy apteker vir ‘n pilletjie moet loop vra. Een wat ‘n ou so in die klap aan die slaap kan hou.

Hy en sy apteker is op baie goeie voet, sê Buks. In sy goeie ou jongdae het hy die meeste van sy kruideniersware by die bottelstoor gekoop, maar deesdae koop hy die meeste van sy kruideniersware by die apteek, sê Buks.

Rakbie what rôks
Sit hy mos Maandag die TV aan om na daai ‘rakbie what rôks’ van die universiteite te bekyk, toe hy iets baie eienaardigs sien, sê Gert Mossie nou. Wat hy sien is die telling en dit lees: Cut – 0, Wits – 2. Ja, Wits – 2. 

Hy het eers vies gedink dis sokker wat hy per ongeluk ‘raakgeremote’ het. Maar nee, daar voor sy oge têkkel die een outjie ‘n ander outjie dat die stof trek en as dit sokker was sou daai getêkkelde outjie vir die res van die wedstryd gelê en rol en krul en kerm het van die pyn – as hy nog lewendig was.

Dit blyk toe dat, in dié ‘rakbie what rôks; ‘n strafskop vanjaar net twee punte pleks van drie punte tel.

En om die saak verder te konfoes, sê Gert Mossie, tel ‘n skepskop van drie ook net twee, maar ‘n doelskop (vervyfskop) wat eintlik twee punte moet tel, en dus op sy beste eintlik ‘n verseweskop moet wees, tel nou drie punte en is daarom ‘n veragtskop, want ‘n drie tel darem nog vyf, sê Gert.

 

© 2019 Die/The Bronberger