Renoster dié keer deur spoedvraat gestroop Print E-mail
News - Aktueel
Wednesday, 25 April 2012 00:35
Untitled Document

‘n Witrenoster-bul is in die Dinokeng Groot Vyf-wildreservaat doodgery. Die sewe-jarige bul is omstreeks 5 vm op Woensdag 28 Maart op die Rust de Winterpad deur ‘n vragmotor van Cold Sure Distribution getref. Hy het glo 35 meter ver gerol en is op die toneel dood.

Volgens omstanders is dit duidelik dat die vragmotorbestuurder, Azael Lebitso, die spoedgrens oortree het. Een van die grondeienaars in die reservaat, Angus ­Vosges wat eerste op die toneel was, sê dit is byna onmoontlik om ’n renoster dood te ry teen ­60 km/h, die snelperk op dié stuk pad.

‘n Ander voertuig het kort voor die voorval glo ligte geflits vir Azael om stadiger te ry, maar hy het glo nie op die waarskuwing gereageer nie. Azael het gesê die voorval het plaasgevind omdat 'n aankomende motor se hoofligte aan was en hom verblind het en teen die tyd dat hy die bul gewaar het, was dit te laat om te reageer.


Azael Lebitso, bestuurder van die vragmotor
Foto: Beeld

Etienne Toerien, voorsitter van die Dinokeng-bestuursvereniging, het gesê hulle het ’n groot probleem met bestuurders wat die snelperk oorskry en diere op dié pad in die reservaat, wat nie heinings langs die kante het nie, doodry.

Etienne het in die middel van April gesê dat kontrakteurs aangedui het dat dit net twee weke sal neem om spoedwalle op die Rust de Winterpad, die hoofpad deur die reservaat, aan te bring. Ongeveer 18 spoedwalle, een elke 500 m, sal op die 10 km lange pad aangebring word. Hy kon egter nie bevestig wanneer dié werk sal begin nie.

Die reservaat praat met regsadviseurs om moontlikhede vir Azael se vervolging na te vors. Die renoster se horing is verwyder en die departement van omgewingsake stoor dit.

Renosters is ‘n bedreigde spesie en kan teen 2050 uitgewis wees in Suid-Afrika se wildtuine as stropery voortgaan. Stropers het verlede jaar 448 renosters in wildtuine afgemaai en die telling het reeds op 109 gestaan vir die eerste drie maande van 2012.


Die dooie witrenoster
Foto: Michele Whitehead

Renosterhorings word in Sjina en Vietnam gebruik in ‘n verskeidenheid doepas – van dié wat daarop aanspraak maak om kanker te genees tot die wat babelaas wegneem. Die horings het nou ‘n straatwaarde van meer as $65 000 per kilogram wat dit duurder as goud of platinum maak.

Volgens raadslid Danie Erasmus besit die oorkoepelende Tshwane Metroraad tien renosters, ter waarde van R1 890 000,00. Twee van die raad se renosters is in Maart 2010 by die Rietvleidam Natuurreservaat gestroop.

Alle renosters in dié reservaat se horings is daarna verwyder; hulle is met mikro-skyfies gemerk, en DNA-monsters van elk is by Onderstepoort op rekord. Al die renosters by die Rietvlei natuurreservaat is opgeteken in die Nasionale Renoster databank.

Die twee renosters wat gestroop is, is vervang en ‘n ooreenkoms is met die Waterkloof Lugmagbasis aangegaan om dié gebied met radar-toesig te bewaak. Die heinings word op ‘n daaglikse basis gepatrolleer en ‘n proses is aan die gang gesit om die renosters met ‘n elektroniese opsporingstelsel te monitor.

Die koste wat vir die 2011/12 finansiële jaar begroot is om die renosters te beskerm beloop
R2 557 048,00.

 

© 2020 Die/The Bronberger