Gerugte oor ?petrolplaas? het inwoners op agterpote Print E-mail
News - Aktueel
Wednesday, 25 April 2012 00:48
Untitled Document

Gerugte dat ‘n reuse brandstof-opslagplaas en kantoorontwikkeling by die MBT vulstasie in Onbekend gevestig gaan word, is vroeër dié maand heftig ontken.

Inwoners van Onbekend en Kameelzijnkraal het hulle vrese dat MBT grootmaat-brandstof vanaf Mosambiek gaan inbring om in die Bronberg-gebied te berg, in ‘n beswaarskrif aangedui. ‘n Protesvergadering is ook oor dié gerugte gehou.

Johan Fouché, hoof uitvoerende beampte van MBT, sê dat dit glad nie waar is nie. MBT wil glo bloot kantore bou langs ‘n bestaande vulstasie neffens die kruising van Garstfonteinweg-verlenging (M30) met die Bapsfonteinpad (R25).

Hy sê dit is ironies dat inwoners protesvergaderings hou en besware teen ‘n relatief klein kantoorgeboutjie indien, terwyl brandstof reeds vanaf Mosambiek deurgebring word en ‘n paar kilometer verder langs Garstfonteinweg-verlenging in Bashewa deur ‘n ander maatskappy gestoor word.


Johan Fouché van MBT Petroleum

Opslagplaas
Johan sê dat Q4 só ‘n brandstofopslagplaas opgerig het.

 In Junie verlede jaar het Die Bronberger berig dat vyf bogrondse brandstoftenks van 83 000 liter elk plus nog ’n petroltenk in die stoor deur die Garsfontein-gebaseerde Q4 Fuels opgerig is.

‘n Direkteur van Q4, Dreyer van Niekerk, het toe gesê dat die tenkplaas in Garstfonteinweg-verlenging gebruik word om sonneblomolie, wat ’n natuurlike olie is, te herwin asook om die onderneming se trokke te stoor.

Hy het gesê dat Q4 in ’n baie mededingende mark handel dryf en dat hulle mededingers duidelik probeer om hulle te saboteer.

Bashewa
Dié Q4-terrein is naby aan die plek in Bashewa waar MBT Petroleum voorheen ’n brandstof-opslagplaas wou oprig. In Oktober 2009 het Die Bronberger berig dat die planne vir ’n Bashewa brandstofopslagplaas, bestaande uit 12 bogrondse en 10 ondergrondse brandstoftenks met ’n totale kapasiteit van 967 m³, gekanselleer is.

In ’n brief gedateer 17 September het Mills en Otten Omgewingskonsultante alle belanghebbende partye laat weet dat die bestuur van MBT Petroleum nie verantwoordelik gehou wil word vir die risiko van enige ernstige omgewingsimpakte nie en die projek laat vaar.

Volgens MBT se Johan Fouché is die projek gekanselleer om die gemeenskap tegemoet te kom. Hy het gesê dat hy dit duidelik wou stel dat MBT omgee vir die gemeenskap.

MBT Petroleum is in 2005 deur Johan gestig. Dié gelisensieerde groothandel verspreider van brandstofprodukte het ‘n omset van ongeveer R2-biljoen per jaar.

Teenkanting
Johan het in Maart ‘n vergadering van die Onbekend en Kameelzijnkraal-inwoners bygewoon waar inwoners hulle sterk teenkanting uitgespreek het teen die voorgenome kantoorgeboue wat MBT langs die vulstasie beplan. Hulle vrees dat dié ontwikkelingsaansoek vir ‘n kantoorpark, parkeerplekke en verwante gebruike, vir MBT ‘n voet in die deur sal gee om in die toekoms stoorgeriewe op die perseel te bou.

Die voorgestelde kantoorparkontwikkeling is op ‘n hoewe aangrensend aan die vulstasie-perseel wat aan Piet en Tina van der Merwe behoort en deur MBT by hulle gehuur word. Aansoek word gedoen om vir MBT kantore te bou op ‘n stuk grond van drie hektaar wat MBT langs die vulstasie aangekoop het.

Teropo Stadsbeplanners verteenwoordig MBT Petroleum met die ontwikkeling.

Johan sê dat hulle glad nie vir ‘n brandstofopslagplaas aansoek gedoen het nie; slegs vir kantore sodat hulle MBT se hoofkantoor soontoe kan skuif en ‘n opleidingsentrum langs ‘n werkende MBT vulstasie kan hê. Hulle moet nou heen en weer ry van hulle gehuurde kantore in Faerie Glen om die opleiding by dié vulstasie te doen.


‘n Satellietfoto van die kruising van die R25 en M30 waar die vulstasie is. Die blou lyn is ’n stroom wat skynbaar Bronkhorstbaai toe loop

Stoor
Volgens die beswaarskrif wat die gemeenskap by die stadsraad ingedien het dui MBT se toekomsplanne aan dat hulle brandstof direk van die Midde-Ooste wil invoer. MBT sê dat hulle brandstof by Sasol aankoop en ‘n groothandelaar van brandstof is aan 12 vulstasies met die MBT handelsnaam. Hy sê dat Sasol die brandstof stoor en dat dit sinneloos sal wees om dié brandstof weer elders te stoor voor dit aan die vulstasies gelewer word.

Volgens inwoners moet brandstof geberg word in ‘n gebied wat opsy gesit is vir kommersiële-industriële gebruik, soos dié in Waltloo, Bapsfontein, Benoni en Springs waar die nodige infrastruktuur, soos pypwater, elektrisiteit, sekuriteit en brandweerdienste voorsien word.

Johan sê dat die brandstoftenks by die MBT vulstasie binne die wetlike vereistes van die hoeveelheid brandstof wat by ‘n vulstasie geberg mag word, val. Hy sê dat dié vulstasie reeds die afgelope 20 jaar daar is en dat inwoners welkom is om enige tyd daar aan te klop om na die nodige dokumentasie te kyk. Dit word in lêers op die perseel gehou.

Lekkasies
Inwoners is egter steeds bekommerd oor die gevaar van brandstoflekkasies, die invloed daarvan op drinkwater uit boorgate, en die moontlikheid van ontploffings as veldbrande uitbreek.

Inwonersvergaderings is gehou en beswaarskrifte is by die stadsraad ingedien.

Die naaste brandweerstasies is Rynveld, wat 26 km ver is, Pretoria wat 28 km ver is en Bronkhorstspruit wat 35 km ver is.

Volgens Johan het dié MBT vulstasie volledige noodplanne in plek en is wagte deurgaans aan diens.

Die beton-mure rondom die ondergrondse tenks voldoen aan die SABS se veiligheidsvereistes. Daar is goedgekeurde dokumentasie vir die bestaande 60 000 liter brandstof wat by die vulstasie gestoor word.

Johan sê dat die opvangsmure rondom dié brandstof groot genoeg is om alles op te vang, al lek al
60 000 liter gelyk uit.

Die bogrondse tenks is dieselfde soort as dié wat die boere op die omliggende plase gebruik om hulle diesel, wat MBT by hulle aflewer, wettiglik te stoor.

Hy vra hoekom die boere nie bekommerd is dat hulle tenks brandstof sal lek nie.

Inwoners is ook ontstoke oor die was van brandstoftrokke wat op dié perseel gebeur. Johan sê dat die trokke met ‘n waterbasis seep wat deur Sasol goedgekeur is, gewas word en dat die waswater in ‘n skeidingsput inloop waar dit volledig herwin word en gebruik word om die tuine mee nat te spuit.


Die sloot wat volgens MBT oopgegrou is om by ‘n waterpyp uit te kom

Stroom
Volgens die inwoners se beswaarskrif kan sekere dele van die Onbekend plase net vir weiding aangewend word, oor die vleiland-toestande in dié gebied. ‘n Groot verskeidenheid stroompies vloei uit dié vleilandgebied en loop uit in die Bronkhorstspruit-, Roodeplaat en Rietvleidam. Die beswaarskrif bevat ‘n kaart waarop ‘n stroom naby MBT se hoewe aangedui is wat in die Bronkhorstspruitdam sou uitloop.

Die voorsitter van die Bronkhorstbaai-gemeenskap, AP Venter, het ‘n beswaar ingedien dat ‘n brandstoflekkasie in die Bronkhorstspruitdam sal beland. Hy het gesê dat dié dam reeds bedreig word deur steenkoolmyne in die Delmasgebied.

Volgens Johan Fouché is die stroom waaroor die inwoners praat 2 km van sy perseel af en kan glad nie deur die moontlikheid van brandstoflekkasies beïnvloed word nie.

Vlei
Inwoner Johan Lottering sê dat MBT reeds twee-meter diep uitgrawings van slote aan weerskante van die Bronkhorstspruit-Bapsfonteinpad (R25) gedoen het om die vleiland op MBT se 3 ha grond se vloei te herlei.

MBT se Johan sê dat die uitgrawings gedoen is om ‘n bestaande regerings-geïnstalleerde waterpyp oop te grou. Hy sê dat daar nie ‘n vleiland op MBT se grond is nie, maar dat stroompies daar deurloop wat MBT in ‘n dammetjie wil laat inloop as deel van die tuine wat met inheemse bome beplan word.

Volgens Johan spandeer MBT R3-miljoen om die bestaande winkels en tuine op die perseel wat hulle van die Van der Merwes huur op te gradeer. Hulle beplan om die sentrum te omskep in een met ‘n plaasatmosfeer waar tuisgebak en wegneemetes beskikbaar sal wees, amper soos Millies naby Waterval Boven op die N4-snelweg.


‘n Selfoonfoto van die was van brandstoftrokke

Verkeer
Inwoners maak ook beswaar teen verkeersprobleme wat sal volg as dié ontwikkeling goedgekeur word. Dit word bereken dat 10 000 voertuie daagliks reeds van die R25 gebruik maak. Die instelling van die E-tolsisteem op snelweë kan dié verkeer glo met 40% verhoog.

Inwoners vrees ook ‘n geweldige toename in brandstofafleweringsvoertuie, sou dié ontwikkeling goedgekeur word. Daar is op die enkelbaan-pad geen voorsiening gemaak vir voertuie wat in of uit die R25 wil draai by die kruising met Garstfonteinweg-verlenging nie.

Johan sê dat MBT aansoek gedoen het om ‘n wegsnybaan uit die R25 te bou wat makliker toegang tot die vulstasie sal bied. Hy sê dat die perseel wat MBT huur in twee gedeel is en dat MBT se trokke op die tweede deel staan.

Beswaar
Aangeheg by die Onbekend en Kameelzijnkraal-inwoners se beswaarskrif is ook besware van die Groter Oostelike Magaliesberg Bewaringsvereniging (GEMCA) onderteken deur sekretaris Hugh Patrickson, en die Magalies-Bronberg Grondeienaarsvereniging (MBGV), geteken deur Mike Strange.

MBGV se besware lui onder andere dat alle hersonerings en toestemmingsgebruik vir die ontwikkeling op ys gesit moet word tot die ruimte-ontwikkelingsraamwerk vir die gebied gefinaliseer is.

 

 

 

© 2020 Die/The Bronberger