Bekendes en berugtes se lewens vervleg in kothuis van toeka PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Tuesday, 24 April 2012 22:50
Untitled Document

Wat het die digter Eugène Marais, ‘n buite-egtelike liefdesverhouding, die skrywer Rider Haggard, die Tweede Vryheidsoorlog, ‘n verlate kindergraffie en Pretoria se eerste vroulike burgemeester met mekaar te doen? Die antwoord lê verskuil in ‘n geskiedkundige kothuis genaamd Jess’ Cottage, wat lank ‘n landmerk in ou Pretoria was.

Jess’ Cottage het in Railwaystraat 94, Berea gestaan in die omgewing waar die suidelike tennisbane van Bereapark was. Jess’ Cottage se bure reg oorkant die rivier was Harmonie, die tuiste van spioen, siener, sieketrooster en skrywer Johanna Brandt en haar ma en medepligtige, die weduwee van Warmelo.

Dié twee het die Tweede Vryheidsoorlog se suksesvolste spioenasie-ring vlak onder die Britte se neuse bedryf in die omgewing waar die Normaalkollege se koshuise later gebou is.


‘n Met-die-hand gekleurde poskaart van Jess’ Cottage, aanvanklik bekend as die ‘Palatial’, soos die huis in 1880 gelyk het
Foto: stamps-auction.com

Huisie
In die laat 1870’s het skrywer Henry Rider Haggard twee akkers aan die “bokant van Pretoria” gekoop, en voorspel dat grond binnekort baie werd sou wees. Met die tyd van die Britse okkupasie in die Eerste Vryheidsoorlog het Henry en sy vriend, Arthur Cochrane, daar vir hulle ’n sinkdakhuisie, bestaande uit twee kamers en ’n kombuis, gebou wat hulle spottenderwys ‘The Palatial’ gedoop het.

Toe Henry jare later ‘n illustrasie van die huis gesien het in ‘n uitgawe van ‘South Africa’, gedateer 4 Februarie 1911, kon hy sien dat daar intussen baie aangebou is, en dat die bloekombome wat hy aangeplant het, reuse bome geword het.


Die omslag van ‘Jess – A tale of the Boer War’

Henry was ‘n entoesiastiese tuinier en het ‘n wingerd aan die voorkant van die huis aangeplant asook ‘n baie spesiale roostuin. Hy het vir sy ma gevra om vir hom neute en akkerpitte van sy gunsteling bome uit Engeland te stuur om hier aan te plant.

Wat alles binne die mure van dié kothuis afgespeel het, was iets waaroor ou Pretoria se skindertonge lekker geklap het. Dié huis het later bekend gestaan as Jess’s Cottage – sommiges sê na aanleiding van Henry se boek ‘Jess – A tale of the Boer War’ en ander sê as gevolg van ‘n verhouding wat hy met ‘n vrou genaamd Jess gehad het.


Henry Rider Haggard, sittend, en sy vriend Arthur Cochrane, wat Jess’ Cottage gebou het
Foto: Uit ‘Diary of an African Journey’

Boek
Die boek speel in die Eerste Vryheidsoorlog af, van 1880-81. Kaptein John Niel kom in die Transvaal aan en begin op ‘n mede-Brit, Silas Croft, se plaas werk. Dit is daar waar hy in ‘n liefdesdriehoek met Croft se twee susterskinders beland. Bessie is ‘n beeldskone vrou maar Jess, alhoewel nie so mooi nie, is meer intelligent. John raak verloof aan Bessie, maar nadat hy saam met Jess in die beleg van Pretoria vasgekeer is, besef hy dat Jess eintlik die een is wat hy liefhet.

Mense was baie nuuskierig om uit te vind op wie die karakter Jess gebaseer was en of skrywer Henry met haar ‘n verhouding gehad het. Volgens Leon Rossouw se boek, ‘Die groot verlange: Die verhaal van Eugène N Marais’, was dit Eugène Marais se suster, Gezina Constantia Marais, bekend as Jess, wat as inspirasie vir die boek gedien het.

Dit het later uitgekom dat Henry ’n buite-egtelike babadogtertjie in Kerkstraat se begraafplaas agtergelaat het toe hy uit Pretoria weg is. Maar nee, Jess was nie die ma van Henry se dogtertjie nie.

Toe Henry as Britse koloniale amptenaar en landbouhervormer in die 1870’s in Pretoria beland het, het hy ‘n verhouding met ‘n getroude vrou, Johanna Catharina Ford, ’n nooi Lehmkuhl, gehad.

Henry is in 1881 terug Engeland toe. Blykbaar was dit daardie jare bekend dat Henry een of ander romantiese ‘komplikasie’ in Pretoria gehad het, maar die besonderhede daarvan het eers in 1925, lank na Henry se dood, aan die lig gekom.


Dié foto wys die bloekombome in die agtergrond wat Henry Rider Haggard jare voor dié foto geneem is, aangeplant het
Foto: Sallo Epstein and Co

Jess
Hoekom die kothuis en die boek na Jess vernoem is as Henry dan niks met haar te doene gehad het nie, bly ‘n tergende geheim. Ou Pretoria se skindertonge het gesê dat Henry met Jess ook ‘n verhouding gehad het.

Jessie Marais is op 17 Januarie 1854 gebore, die dogter van Catharina Helena Cornelia, ‘n nooi van Niekerk, en Jan Christiaan Nielen Marais, ‘n prokureur wat op 29 November 1822 in Stellenbosch gebore is.

Blykbaar het hulle 13 kinders gehad, maar die name wat in ou Pretoria bekend was, was natuurlik dié van haar broer, die digter Eugène Marais, broers Charl, Hendrik en Melt en haar susters Catharina Dougall en Elizabeth Niemeyer.


‘n Groep offisiere van die Staatsartillerie met Melt Marais in die middel
Foto: Rosa Swanepoel se Ou Pretoria nuusbrief

Die Marais-gesin het klaarblyklik in 1868 in Pretoria aangekom. Een van die seuns, Melt Marais, het uitgeblink in sport en is gereeld in ‘De Volksstem’ genoem. In 1876 is daar ‘n sportdag gehou om President Burgers se verjaarsdag te vier. Die 16-jarige Melt het die 150 jaarts gewen en ook die hoogspring vir seuns met ‘n hoogte van drie voet 10 duim.

Melt was ‘n makelaar en algemene agent in vennootskap met Kuranda, van die firma Kuranda & Marais, met ‘n kantoor in die Commercial Chambers op Kerkplein. Die vennootskap is later verbreek en Melt het op sy eie voortgegaan. Hy is ook gekies as Veldkornet vir Pretoria en het ‘n leidende rol in die verset teen die Engelse gespeel.


Jess se dogter, Mabel Malherbe, was Pretoria se eerste vroulike burgemeester
Foto: Ancestry24.com

Rex
Jessie Marais het met Frank Rex, ’n afstammeling van George Rex, stigter van Knysna, getrou. Vir geslagte lank het die mense geglo dat hy Koning George III se buite-egtelike seun by Hannah Lightfoot was.

Volgens oorlewering is George na Suid-Afrika verban en is verbied om ooit te trou. Al het hy nooit hier getrou nie, het hy 13 kinders gehad: vier kinders by ’n vrygestelde slavin, Johanna Rosina van der Caap, en nege kinders by een van haar dogters by ’n vorige meester, Carolina Margaretha Ungerer.

Die gerugte oor George se blou bloed het tot in 2004 geloop toe sy gebrek aan koninklike gene bevestig is deur genetiese toetse op sy nasate.


‘n Foto van die jeugdige Eugène Marais, Jess se jonger broer

Mabel
Een van dié nasate was Jessie en Frank se dogter Mabel, wat in 1931 gekies is as Pretoria se eerste vroue-burgemeester en wat later die tweede vrou en die eerste Afrikaanssprekende vrou wat tot die Parlement verkies is, geword het.

Mabel Catherine Rex was 20 jaar oud toe die Tweede Vryheidsoorlog uitgebreek het. Sy het by die Rooikruis aangesluit waar sy Kenne N de Kock Malherbe ontmoet het. Ná die oorlog is sy vir drie jaar as ’n verpleegster opgelei by die Diakonessehuis in Haarlem, Nederland.

Met haar terugkeer in 1904 het Mabel met Kenne getrou en haar aan liefdadigheid in Pretoria begin toewy. Sy het gou ’n prominente lid van verskeie vroueverenigings geword; en het op die uitvoerende raad van die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie en die Nasionale Vroueparty gedien.

Mabel het die Afrikaans-Hollandse Leesunie gestig en, met die aanmoediging van haar oom, Eugène Marais, het sy die eerste Afrikaanse vrouetydskrif - ‘Die Boerevrou’ - in 1919 begin.


‘n Olieverfskildery deur Pierneef van Jess’ Cottage
Foto: Pretoria Stadsraad se versameling

Eugène
Mabel se oom en Jessie se broer, Eugène is op 9 Januarie 1871 in Daspoort, Pretoria gebore as Catharina en Jan Marais se jongste kind. Dié bekende digter, skrywer, joernalis, natuurkenner en prokureur het sy laerskooldae in Pretoria en op Boshoff in die Vrystaat deurgebring.

Hy was 13 jaar oud toe hy en sy oudste suster, Lizzie, en haar kinders Paarl toe getrek het. Eugène het tot 1887 by die Paarl First Class Public School skoolgegaan en het as skoolseun reeds gedigte in die Paarl District Advertiser publiseer. Hy het op 16-jarige ouderdom gematrikuleer en was daarna joernalis by die ‘Land en Volk’ in Pretoria tot 1896, toe hy na die buiteland is om eers medies te studeer en hom toe as regsgeleerde te bekwaam.

Toe die Tweede Vryheidsoorlog uitbreek is Eugène as ‘n indringer-vyand in London beskou. Hy het later by ‘n Duitse ekspedisie aangesluit wat ammunisie en medisyne deur Mosambiek na die Boeremagte sou neem. Hier het hy egter malaria opgedoen en voor die voorraad afgelewer kon word, is die oorlog beëindig.

Vanaf 1905 het Eugène die natuur in die Waterberge bestudeer. Dié studies het gelei na boeke wat uiteindelik as ‘Die siel van die mier’ en ‘Die siel van die aap’ bekend sou staan.


Die huis wat nou op die plek staan waar Jess’ Cottage was
Foto: CA van Tilburg

Morfien
Eugène het met Aletta Beyers getrou. Sy is sowat 10 dae ná die geboorte van hulle seun, Eugène Charles Gerard, Eugène se enigste kind, op die ouderdom van 24 jaar aan kraamkoors dood.

So het die romantiese mite ontstaan dat Lettie se ontydige dood Eugène na morfien gedryf het. Hy het egter reeds voor sy huwelik morfien begin gebruik, maar Lettie se dood het waarskynlik ‘n rol in sy toenemende verslawing gespeel.

Sommiges spekuleer dat die diefstal van Eugène se idees, die plagiaat wat Maurice Maeterlinck gepleeg het toe hy ‘The life of the white ant’ in 1926 gepubliseer het, Eugène se uiteindelik selfmoord tot gevolg gehad het.

In 1936 het Eugène in ‘n rondawel op Pelindaba, die Preller-plaas, gebly. Vandaar het hy op 29 Maart 1936 in die ouderdom van 65 jaar deur die nat veld na ‘n buurman gestap om ‘n haelgeweer te leen met die voorwendsel om ‘n slang te skiet. Hy het homself in die bors geskiet. Die wond was nie fataal nie en Eugène het toe die haelgeweer in sy mond gesit en die sneller getrek.


Lettie en Eugène Marais se grafte
Foto:Daan Prinsloo

Die Raad van Atoomkrag het later ‘n gedenksteen, hoewel nie op die korrekte ligging nie, daar aangebring.

Daar is egter geen gedenksteen op die perseel waar Jess’ Cottage was nie. Vandag staan daar ‘n ander huis op die grond wat Rider Haggard geglo het waardevol sou word, en verbygangers sou nooit kon raai dat dit die plek is wat eens op ‘n tyd na Eugène Marais se suster vernoem is nie.

 

© 2019 Die/The Bronberger