Toe blaas die Ingelsman die aftog PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Thursday, 24 May 2012 08:29
Untitled Document

Engelse, Hanskakies en ander ongewenstes het destyds dikwels na daardie deel van die Waterberge as die “backveld” verwys. Die ‘bekveld’, sou deurtrapte Waterbergers sê. Want in die Waterberge van weleer, was Engels nie groot nie. Die naaste wat die meeste inwoners van dié mooi wêreld in ‘n leeftyd aan die Rooitaal sou kom, was die gereelde dosisse Engelse sout waarmee hardnekkige kwale reggesien is. 

Dis daar waar Eugène Marais na die rysmier en bobbejaan se siele loop soek het en waar hy dokter-dokter met sy verbode wondermiddels onder die boere en veral onder hulle vrouens gespeel het. En dit is daar waar Hennerik van Vore ‘n bestaansboerdery bedryf het – net soos sy voorgeslagte van toet af dit gedoen het en sy nageslagte dit vandag nog doen.

Hulle vertel dat ou Hennerik van Vore sy lewe lank net twee Engelse woorde geken het; ‘dêmmit’ en ‘foksterriër’. Daarom kon ‘n mens verwag het dat dinge sou lol toe die Ingelsman op Skuinskloof begin kuier. Die ander rede vir ‘n aardigheid met die verwaande, oorlamse Ingelsman se gekuier was natuurlik dat daardie deel van die Waterberg gewemel het van die bittereinders. Ou Hennerik was self ‘n verbitterde bittereinder en die Ingelse oorlog was nog baie vars in die geheue.

Nou was Hennerik en Saar van Vore geseënd met ‘n hele string kinders. Daar was nie veel werk op Skuinskloof om ‘n man besig te hou nie en van alternatiewe vermaak was daar nie eintlik sprake nie. Elf klein Van Voretjies was die gevolg. Hiervan was ‘n volle tiental seunskinders met Hannie die enigste hennetjie in die nes.

Anders as die ou uitskotbulletjie op Skuinskloof, was Hennerik by uitstek suksesvol wat die kwantiteit betref, maar nes die ou optelbulletjie was die kwaliteit nie juis na wense nie.

Die seuns was almal half ‘stadig’ met weinig ‘n fluks haar op die gesamentlike tien koppe te tel. Hulle kon ook allermins as ‘mooi van aansig’ beskryf word en die monde het permanent oopgehang. Die mense van die omgewing het bespiegel dat iets in die gene teenwoordig is wat veroorsaak dat die rugvelle te kort is. As die mond toegemaak sou word, sou dit tot gevolg hê dat die agterent ooptrek.

Maar Hannie was van ‘n heel ander aansien en aard. Sy het iewers in die middel van haar bondel boeties in die wêreld gekom. Slim en fluks, was die kind en gou het sy bekend geraak as ‘Mooi Hannie’, die dogter van Hennerik en Saar Skuinskloof.

Sommiges het agterhands gefluister dat Sollie, die reisende smous, iets met Hannie se andersgeit te doene gehad het. Diegene wat dit gesê het, het op die maande voor Hannie se aankoms teruggeloop en wetend daarop gewys dat Sollie juis in daai tyd op Skuinskloof aangedoen het, toe Hennerik saam noorde toe is om olifante te loop jag.

Maar hoe dit ookal sy, Hannie was mooi en slim en fluks en anders as die ander inwoners van die gebied, kon sy meestal verstaan as die Ingelsman praat en kon sy selfs ‘n bietjie terugpraat, sodat die Ingelsman kon verstaan.

Die eerste keer wat die klein Collins wou kom kuier, het Hennerik hom met die 12-boor in die hand oortuig dat dit nie ‘n haalbare plan is nie. Maar toe raak Hannie baie opstandig en dreig met wegloop en erger en op die koop toe het die predikant dié Sondag gepraat oor naasteliefde en vergifnis en goed en jou werklik gesê dat dit ook vir Ingelsmanne geld.

Hennerik was glo platgeslaan, maar in ‘n hoek. En die Ingelsman se opsittery het begin. Maar as die klein Collins gedink het dit gaan ‘plain sailing’ wees, dan het hy nie rekening gehou met Mooi Hannie se span ‘stadige’ boeties nie. Nie dat daar veel kwaad en moedswil in die klomp was nie, maar ‘n gebrek aan nuuskierigheid en dikvellige volharding was nie een van hulle baie swakhede nie.

Van die begin af kon Hannie en haar Ingelsman hulle nie draai nie, of een van die Van Vore-seuns was byderhand. As hulle saans by die kers op die bank wou sit, het een of meer oopmond na hulle gesit en staar. As hulle in die veld gaan stap het, was dit of een agter elke klip of boom geskuil het. En selfs die paar keer wat die Ingelsman vir Hannie met sy spoggerige trêppie dorp toe gevat het, het Hennerik daarop aangedring dat een van sy seuns moet saam om ‘voor die perd te staan’.

Só het dit aangehou tot die Ingelsman, wat dit net nie meer kon uitstaan nie, uiteindelik die aftog geblaas het en vir Hannie met ‘n gebroke hart agtergelaat het.

Daarná, as kuiermense saam met hom op die stoep gesit en koffie drink het, het Hennerik glo met deernis in sy oë gekyk na sy klomp ‘stadige’ seuns wat nutteloos op die plaaswerf rondlê en dan met ‘n behaaglike sug laat hoor: “Ja, alles gebeur met ‘n doel . . .”

 

© 2019 Die/The Bronberger