Nuwe riglyne steek stokkie voor onderverdeling Print E-mail
News - Aktueel
Thursday, 24 May 2012 10:53
Untitled Document

Grondeienaars wat beplan om te onderverdeel in die Bronberg-gebied is op hulle agterpote oor die nuwe ontwikkelingsriglyne wat die Tshwane Metroraad in sy voorlopige ruimtelike ontwikkelingsraamwerk voorstel.

Volgens dié raamwerk mag onderverdeling nie kleiner as 5 ha groot wees in gebiede sonder pypwater nie. Die meeste van die kleinhoewes in dié gebied is 8,6 ha, wat beteken dat hulle glad nie onderverdeel mag word nie omdat een van die twee stukke grond kleiner as 5 ha sal wees.

Onderverdeling van tot 1 ha sal toegelaat word in gebiede waar daar ‘n pypwaterstelsel is wat deur stadsraad goedgekeur is. Onderverdeling word goed- of afgekeur volgens ‘n digtheidskaart wat deur die metroraad opgestel is.

Grens
Volgens André van der Walt, raadslid vir wyk 101, is die stedelike grens wat Kungwini Plaaslike Munisipaliteit voorheen opgestel het, nie volgens aanvaarbare beginsels gedefinieer nie. Hy sê dat daar lukraak op plaasgrense besluit is en dat Kungwini se vorige beplanningsdepartement hom in elk geval nie aan openbare kommentaar gesteur het nie.

Met die metroraad se oorname van die gebied, is daar nou gevalle waar grense bots. Dele waar onderverdeling en ontwikkeling voorheen goedgekeur is, gaan nou buite die stedelike grens val.

Herstel
“Iewers moet ons begin om Kungwini se chaos te herstel,” sê André. Kungwini het nie ‘n goedgekeurde ruimtelike ontwikkelingsraamwerk in plek gehad nie. Die laaste voorlopige raamwerk wat deur Setplan opgestel is, is nooit goedkeur nie. Verskeie ander meesterplanne en strategiese beplanningsdokumente het ontbreek.

Volgens André het dit veroorsaak dat baie ontwikkelingsprojekte nie by die nodige beplanningsbeginsels gehou het nie. Die effek op ons gebied se infrastruktuur was rampspoedig. Dit terwyl die hoewegebied oos van Pretoria, wat nou die metroraad se streek ses genoem word, een van die grootste ontwikkelingsgebiede binne die metroraad se grense is.

Groei
“Veral die Hazeldean Node gaan baie groot ontwikkel in die afsienbare toekoms, met groot winkelsentrums en hoë- en lae-digtheid behuising. Dit is baie belangrik dat die infrastruktuur, soos paaie, stormwater en riool, die ontwikkeling kan dra, anders eindig ons op met ‘n situasie soos in Olympus en Zwavelpoort waar die infrastruktuur onvoldoende is,” sê André.

Hy sê dat dié soort infrastruktuur-ontwikkeling aan private ontwikkelaars oorgelaat word. Hulle moet pa staan vir die rekening en dit op hulle beurt weer van die kopers verhaal. “Dit terwyl ons nog ‘n baie verhoogde grondbelasting betaal, wat beteken dat ons eintlik dubbel belas word vir basiese dienste wat die stadsraad behoort te voorsien.”

Positief
Volgens André is die metroraad se stadsbeplanning departement ‘n geweldige verbetering op Kungwini en is dit genoeg rede om positief te wees en om deel te neem aan openbare deelname vergaderings.

Hy sê dat so ‘n aand in Junie gereël gaan word waar die stadsbeplanners, ontwikkelaars en inwoners inligting sal kan uitruil oor toekomstige ontwikkelings en ontwikkelingsprobleme in dié streek.

 

© 2020 Die/The Bronberger