Dodelike bakterie uitgewis by tehuis Print E-mail
News - Aktueel
Thursday, 24 May 2012 10:56
Untitled Document

Vier inwoners van die Paul Jungnickelhuis vir Gestremdes in Zwavelpoort is verlede maand skielik dood. Die personeel en ander inwoners van die tehuis sukkel nog om die trauma van dié ervaring te verwerk.

Thea du Bruyn, direkteur van die Kungwini-welsynorganisasie waaronder die tehuis val, sê dat dié sterftes moontlik aan die Shigella-bakterie gekoppel kan word. Shigella veroorsaak koors, maagkrampe, naarheid, braking en los stoelgang wat soms bloed en mukus bevat. Die bakterie kom in ontlasting voor en kan in die mond beland, as ‘n pasiënt nie sy of haar hande was nie.

Toe die teenwoordigheid van die Shigella-bakterie eers bevestig is, kon die korrekte medikasie, ‘n antibiotika genaamd ciprobay, voorgeskryf word. Dit was egter geen maklike taak om uit te vind watter bakterie teenwoordig was nie.

Thea sê dat al haar personeel hulle gewig 24-uur per dag ten tye van die krisis ingegooi het. “Ons het die ding gevat en gesê ons moet net hierdeur kom en dit wen.”

Thea is reeds 21 jaar by die Paul Jungnickelhuis en sê dat almal daar in rou is. Dit is die eerste keer sedert die ontstaan van dié tehuis in 1983 wat so iets gebeur, sê sy.

Uiteraard moet ‘n mens na ‘n indeks-pasiënt soek as daar ‘n uitbraak van ‘n oordraagbare siekte is. In dié geval het die bakterie blykbaar van buite af in die tehuis ingekom. Die indeks-pasiënt was die eerste een wat ‘n los stoelgang gehad het. Sy is in ‘n provinsiale akademiese hospitaal opgeneem en weer ontslaan sonder dat Shigella geïdentifiseer is.


Die ingang na die Kungwini-welsynorganisasie, waaronder die Paul Jungnickelhuis val, in Lynnwoodweg-verlenging, Zwavelpoort

Ander inwoners het dieselfde simptome begin toon en het nie op behandeling gereageer nie. Ná konsultasie met ‘n dokter is ‘n besluit geneem om bloed- en stoelgangmonsters vir toetsing te stuur.

Op 16 April het die resultate getoon dat ‘n vorm van die Shigella-bakterie teenwoordig was in die monsters en toe eers kon die regte soort antibiotika voorgeskryf word aan pasiënte.

Inwoners met Shigella-simptome is dadelik geïsoleer in ‘n isolasie-eenheid wat deur die tehuis daargestel is. In die daaropvolgende dae is hoë-risiko pasiënte by die provinsiale akademiese hospitaal opgeneem.

Die tehuis het die Departemente van Gesondheid en Maatskaplike Ontwikkeling en verskeie gesondheidsinspekteurs vir bystand genader. Daar is dadelik werk gemaak van die riglyne wat dié departemente se inspekteurs gebied het en die bakterie het nie verder versprei nie.

Geen personeellede, inwoners in die kinderhuis of kleuterskool op die perseel het die bakterie opgedoen nie. Die oordraagbaarheid van die siekte geskied meestal as gevolg van die gebrek aan persoonlike higiëne. Dit is moeiliker om dié konsep onder verstandelik gestremdes tuis te bring. Die tehuis het 140 inwoners en 50 personeellede wat na hulle omsien.

Thea sê dat familie van die inwoners begrip het vir die situasie en dat niemand hulle kinders of familie-lede uit die tehuis weggeneem het nie. Sy wil die inwoners se familie, die vrywilligers en mense wat skenkings gemaak het, bedank vir hulle begrip en ondersteuning deur dié moeilike tyd.

Teen Die Bronberger se spertyd het die Kungwini-welsynsorganisasie nog geen amptelike verslag oor die oorsaak van die vier inwoners se dood vanaf enige regeringsinstansie ontvang nie. Daar was ook nog geen amptelike verslag oor die bron van die infeksie beskikbaar nie. Voedsel-, water- en oppervlakte-monsters is by die tehuis geneem en die resultate sal, sodra beskikbaar, bekend gemaak word op die organisasie se webtuiste: www.kwo.org.za.

 

© 2020 Die/The Bronberger