Kat-vrouens help hawelose honde PDF Print E-mail
News - Artikels
Monday, 25 June 2012 20:43
Untitled Document

Die ‘Whiskers and Tails’ kat-projek hou aan groei. Die groep vrouens wat dié projek in die Zwavelpoort, Shere en Mooiplaats-gebied gestig het, het hulle laas maand ook oor honde ontferm.

In Maart het ‘n begeesterde groep vroue begin bewys dat rondloperkatte goed is vir ‘n hoewegebied. As hulle gesteriliseer en ingeënt word, hou hulle ander katte wat sal aanteel weg en beheer peste soos rotte en muise.

Petro Anderson, een van die projek se stigterslede, vertel dat hulle in die laaste maand nog vier rondloperkatte gevang, gesteriliseer en weer vrygelaat het. Hulle het huise gevind vir twee baba katjies wat goed aangepas het, en is op soek na ‘n huis vir nog twee katjies.

Shenzi
Petro sê dat hulle omtrent ‘n maand gelede ‘n dragtige rondloperhond langs die Zwavelpoort-teerpad gered het. Hulle het haar Shenzi gedoop en sy het in die begin van Junie sewe klein hondjies gekry. Dié babas moet binnekort huise kry.

Die projek kon ook sy eerste pleegouers op sy databasis aanteken. Twee Jack Russel hondjies is by die Nkombane nedersetting langs die Zwavelpoort-teerpad gered en enetjie, genaamd Popeye, het reeds ‘n permanente huis gekry.

Agt baba Labrador/Alsatian kruisings is ook in die begin van Junie in Zwavelpoort gevind. Petro sê dat slegs twee van die hondjies na hulle toe gebring is en nou deur pleegouers versorg word, maar dat die ander ses hondjies soek is.


Shenzi se sewe babas het huise nodig

Foksie
Verlede jaar in Oktober het ons berig dat Foksie, ‘n hartseer langbeen foksterriër, voor plot 422, Zwavelpoort gevind is. Dié hondjie het vreeslik oor sy mense getreur, maar is ingeneem deur Arie Neven wat gesê het: “Hy is veilig en warm met ‘n vol maag, maar ek dink met ‘n leë hart.”

Foksie se mense is nooit gevind nie en Arie het die hondjie gehou. Net voor Kersfees laasjaar is Arie tragies oorlede toe hy met sy helikopter in ‘n pretrit-kabel naby Sun City vasgevlieg en neergestort het.

Intussen is Arie se plot verkoop en het Foksie ‘n nuwe huis nodig; sy hart is weer gebreek. As jy vir Foksie wil aanneem, bel vir Santie Neven by 082-716-5494.

Skenkings
Petro wil almal bedank wat tot dusver skenkings aan die kat-projek gemaak het, veral ook vir ‘Animals in Distress’ wat agt katbedjies aan die projek geskenk het.

Donasies om te help om rondloper katte te steriliseer kan as volg inbetaal word: Rekeningnaam: Faerie Glen Dierekliniek, rekeningnommer: 51010039646, bank: FNB Lynnwood, takkode: 252045, verwysing: Whiskers & Tail. Die verwysing is baie belangrik, anders word die inbetalings nie vir die projek gebruik nie.

Vir meer inligting, kontak Carol by 082-643-8886, Marcelle by 082-775-0161 of Petro by 083-604-0074.
 

© 2019 Die/The Bronberger