Oom Gawie en die mouterkar PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Monday, 25 June 2012 21:09
Untitled Document

‘n Mouterkar was in die kindertyd van oorlede oom Bloukop ‘n rare en wonderlike affêre. Jy het daarvan gehoor as jy tanne tel of as jy prentjies in ‘n ou koerant of tydskrif in die buitehuisie sien, maar op Rietfontein was daar tot net voor sy tienerjare nie ‘n enkele ‘mouterkar’ in lewende lywe te sien nie, het oom Bloukop vertel. Dit was nou tot voor oom Gawie Rousseau sy Fordjie in Johannesburg loop haal het.

Dit was ‘n hele gedoente om die transaksie per brief en telegram te beklink en toe die groot dag aanbreek was dit die jonge Bloukop wat oom Gawie met die trêppie van die plaas af stasie toe gevat het. Saam op die trêppie was oom Gawie se oornagtassie, kompleet met slaapjurk en -mus, skoon hemp en só en ‘n splinternuwe wit stofjas, keps en rybril vir die terugtog. Dan was daar die mandjie met padkos wat tant Leen gepak het en ‘n trommeltjie met geld vir Cohen, by wie die mouterkar aangekoop is. Dit het lank se spaar aan die room- en wolgeldjies gekos om die verlangde bedrag bymekaar te maak, het oom Bloukop vertel.

Oom Gawie het van mouterkarre en hulle werkinge niks geweet nie, maar Cohen het hom verseker dat dit geen probleem is nie. Hy sal hom sommer vinnig touwys maak. Maklik, het hy gesê. En so is oom Gawie Rousseau vroegdag met die trein daar weg om die Fordjie te gaan haal en oom Bloukop is met die trêppie terug plaas toe waar die groot wag begin het. Amper soos nagmaal het dit op Rietfontein gelyk, soos familie en bure en selfs kennisse uit die dorp uit saamgetrek het in afwagting op oom Gawie en die mouterkar se aankoms. Maar dit sou ‘n lang wag wees . . .

Die moeilikheid het al daar in Johannesburg begin, het oom Bloukop vertel. Binne ‘n enkele uur is die transaksie beklink en het Cohen oom Gawie se geld in die sak en oom Gawie het Cohen se mouterkar. Die ‘touwys maak’ is blitsig afgehandel en oom Gawie en die Fordjie is glo hikkende-rukkende Johannesburg uit. En net daar waar oom Gawie die eerste keer moes stilhou, het die probleem sy kop uitgesteek. Elke keer as die mouterkar en sy bestuurder stilhou, dan vrek die ding.

En oom Gawie kan die Ford enkelhandig om te dood nie weer aan’t loop kry nie. Van die ‘spark’ en die ‘air’ en die slingerdraai het die Cohen hom nie mooi geleer nie.

In die stad kon oom Gawie telkens iemand se hulp kry om die Fordjie weer op die pad te kry as hy die slag gevrek het. En dit het sommer baie gebeur dat die gedoente soos ‘n steeks donkie loop staan het. Dan moes die stomme oom Gawie hom telkens op vreemdelinge verlaat om die wiele weer aan’t rol te kry.

Die verwagte tyd van aankoms op Rietfontein is naderhand met etlike ure oorskry en van die afwagtendes het die ‘ergste’ begin verwag, het oom Bloukop vertel.

Tant Hansie Vlakplaas, wat glo kon ‘sien’, het selfs begin uitlatings maak oor die verskriklike oordeel wat sou saamloop met die sonde van die begeerte en die gelol met die natuur deur perdlose perdekarre te wil aanskaf.

Maar so teen skemer, net toe van die ooms ‘n soekgeselskap op die been wou bring, hoor hulle in die verte ‘n dreuning – ‘n dreuning soos wat in daardie wêreld nog nooit vantevore gehoor is nie. Die dreuning van die Rietfonteinse distrik se heel eerste mouterkar. En bokant die dreuning uit hoor hulle wat wag, die bulderstem van oom Gawie: “Hardloop! Hardloop! Maak oop, maak ooop!”

Oom Bloukop het vertel dat die stofwolk van die Fordjie in sy aantog na die opstal opgejaag het, amper oortref is deur die stofwolk wat die verwelkomingsparty se stormloop na die werfhek veroorsaak het.
‘n Kortkop voor die voortsnellende mouterkarretjie sien hulle vir Geelbooi, die beeswagter, oop-en-toe hol vir die laaste hek voor die werf. En hy kry die hek net-net oop voor oom Gawie en die Fordjie daardeur blits en met ‘n paar knorre en knalle en ‘n gekreun in ‘n rook- en stofwolk voor die opstal tot stilstand kom.

Oom Gawie Rousseau het later vertel dat hy geweet het, as hy hier in Rietfontein se kontrei loop staan, gaan hy g’n niemand kry wat hom en die Fordjie weer aan die gang sou kon sit nie. Gelukkig sien hy toe vir Geelbooi net daar waar hy van die grootpad afdraai. En so het hy die beeswagter sommer in die ry opgelaai. ‘n Ent voor elk van die sewestuks plaashekke spring Geelbooi dan af, hardloop die Fordjie verby, maak die hek voor oop en spring weer op – gereed om die volgende hindernis kaf te draf . . .

 

© 2019 Die/The Bronberger