Rhenosterfontein: Laaste rusplek van Pretoriase pionier PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Sunday, 22 July 2012 05:48
Untitled Document

Een van die eerste pioniers wat Pretoria in die 1850’s begin ontwikkel het, is in 1883 op die plaas Rhenosterfontein begrawe. Ná sy dood is Rhenosterfontein ‘n paar keer onderverdeel en het die plek waar hy begrawe is verlore geraak.

Dit wil lyk of dié plek vroeg in Julie, bykans 130 jaar ná Jan Francois (Frans) Schutte se dood, gevind is. Frans se weduwee, Martha Salomina Dorothea, se gebreekte grafsteen is in die veld gekry deur Chris Joubert, wat sedert sy geboorte so bykans agt dekades gelede, op Rhenosterfontein woon. Bekende landmerke vandag op die ou plaas is Diamantvallei Landgoed, Diamond Valley en Rhinopark.


Die ou opstal op Rhenosterfontein soos hy tot 1948 gelyk het. Dié opstal is met die slag van Donkerhoek deur die Britse troepe oorgeneem en as hospitaal gebruik

Frans
Die man wie se graf verdwyn het, is die een wat destyds deur kommandant-generaal MW Pretorius gevra om die Kerkplaats Elandspoort vir die toekomstige Pretoria uit te lê en te bou. Frans Schutte was later landdros van Pretoria en Volksraadslid.

Sy verhaal begin in die Oos-Kaap. Hy is op 22 Julie 1810 in die George-distrik gebore en het later in die Cradock-distrik beland vanwaar hy in Oktober 1841 na Natalia getrek het. Oor die volgende aantal jare het hy die land vol getrek – van Weenen, waar hy heemraad was, tot Potchefstroom, Andries Ohrigstad (wat later Ohrigstad geword het), die plaas Doornfontein, wat die hedendaagse Bedfordview en Germiston insluit, tot by Magaliesberg, wat ons vandag as Rustenburg ken.


Die eerste kerk in Pretoria in 1857, die Nederduitsch Hervormde kerk “Pretoria-Philadelphia”.  Dié kerk is in 1857 voltooi, maar het in 1882 afgebrand. ‘n Tweede Gereformeerde kerk is van 1884-5 gebou. Dié kerk is in 1904-05 gesloop nadat die kerk in 1899 die plein aan die regering van die Zuid-Afrikaanse Republiek (ZAR) verkoop het.
Foto: Gereformeerde Kerk, Pta

Eerste
Frans en veldkornet Paul Kruger het in Februarie 1850 die eerste Kerkplaats Magaliesberg, wat Rustenburg sou word, gebou. Hy is in Augustus 1853 as ouderling van Pretoria verkies en het in die tweede helfte van 1854 na erf 321, Elandspoort, wat Pretoria sou word, verhuis.

Dié erf is deur MW Pretorius aan hom geskenk en is vandag op die noord-westelike hoek van Kerkplein en Kerkstraat. Hy het ook erf 322 aan die noord-oostelike hoek van Kerkplein en Kerkstraat besit.

Met die hulp van veldkornet Andries Van der Walt, het Frans in April 1855 begin om die eerste kerk op Kerkplein te bou. Met dié kerk se inwyding in Februarie 1857, het Frans op ‘n deel van die oorspronklike plaas Elandspoort, waar Sunnyside vandag is, gewoon.


Frans en Martha Schutte van Rhenosterfontein se seun, Daniël Egnatius, was die eerste kommissaris van Polisie in die ZAR
Foto: Tian Schutte versameling

Sunnyside
Die plaas het oorspronklik in 1840 aan JGS Bronkhorst behoort. Ná sy dood in 1848 het sy dogter, MJ Minnaar, op die gedeelte van die plaas oos van die Apiesrivier gewoon. Teen 1857 is dié deel aan ses mense verkoop, waarvan Frans een was. Op 22 Julie 1875 het Frans sy deel aan JE Mears verkoop, wat dieselfde jaar die voorstad Sunnyside daar gevestig het.

Frans se erf 321 op die noord-westelike hoek van Kerkstraat en Kerkplein is in 1857 aan Evans en Churchill verkoop. In 1864 het Frans sy erf 322, op die noord-oostelike hoek van Kerkstraat en Kerkplein aan Dr BGAD Arnoldi verkoop.


Frans en Martha Schutte van Rhenosterfontein se dogter, Catharina Jacoba, is met Donkerhoek se Donkie Wolmarans getroud
Foto: Tian Schutte versameling

Sanssouci
Stephanus Schoeman het op 23 Maart 1860 ‘n gedeelte van die plaas Daspoort by Frans gekoop. Dié deel was bekend as Sanssouci en was ongeveer 14 ha groot en die verkoopsprys was 4 000 Ryksdalers.

In Die Bronberger se Mei-uitgawe, in die artikel oor Boomstraat se inwoners van vervloë jare, het ons genoem dat Sanssouci in die laat 1800’s aan Tielman de Villiers behoort het. Boomstraat se oorspronklike naam was Schuttestraat, vernoem na Frans. Die naam is reeds voor 1860 na Boomstraat verander.


Jacobus Marthinus Andries (Donkie) Wolmarans
Foto: Tian Schutte versameling

Struben
In die 1860’s het Frans ‘n wye reeks aktiwiteite aangepak. In 1860 het hy op Johan W Struben se skoolkomitee gedien. Johan was Harry en Fred Struben, wat die eerste goud aan die Witwatersrand ontdek het, se pa, en voorsaat van die Mallesons van Hazeldean.

Op 4 Junie 1860 het Frans en Andries Van der Walt Pretoria se eerste opgaardam en watervore ten bedrae van £120 voltooi.

Frans het op 2 November 1863 Pretoria se vierde landdros geword, ‘n pos wat hy tot 12 Oktober 1864 beklee het. Dit was sy plig om Pretoria vanaf 19 April 1864 in 'n munisipaliteit te verander, maar dit het deur die mat geval weens 'n tekort aan fondse.

In September 1866 is Frans verkies as ‘n lid van die Volksraad. Hy het egter na die tweede sitting van die raad op 2 November bedank, maar is weer tot die volgende Volksraad, wat in Mei 1867 gesit het, verkies. Na sy aftrede het Frans op Rhenosterfontein gaan boer.


Van links na regs is Daniël Egnatius Schutte, president Paul Kruger en Zacharias de Beer
Foto: Tian Schutte versameling

Kinders
Frans was getroud met Martha Salomina Dorothea, gebore Schoeman. Hulle het 10 kinders gehad; ses seuns en vier dogters. Een van die seuns, Daniël Egnatius, was die eerste kommissaris van Polisie in die Zuid-Afrikaanse Republiek. Hy is op 5 November 1896 in dié pos aangestel. In die Eerste Vryheidsoorlog was hy generaal PJ Joubert se adjudant.

Nog ‘n seun, Christiaan Ernst, was die laaste hooflanddros van Pretoria. Hy is in 1894 aangestel as lid van die bestuur van die ‘Meisjesskool’ in Pretoria en in 1899 as die rektor van die Staatsgimnasium. Sy ampstermyn as hooflanddros het gestrek van 3 November 1892 tot 10.30 vm op 5 Junie 1901 toe Pretoria deur die Britse magte oorgeneem is.


Die Jan Francois Schutte wat op 22 Desember 1932 oorlede is, was met Chris Joubert se ouma se suster getroud

Oorlede
Hulle pa Frans se testament is op 23 November 1881 opgestel en hy is op 25 Maart 1883, ná 'n siekbed van 15 dae, op die plaas Rhenosterfontein oorlede. Sy weduwee Martha het ‘n aankondiging van sy dood in die koerant laat publiseer waarin sy gesê het dat Frans haar met 54 kinders, kleinkinders en agterkleinkinders nagelaat het.

Sy het SJ du Toit en Paul Kruger bedank vir hulle gebede en vertroostende woorde ná haar man se dood.

Martha is daarna met Josephus Johannes Wolmarans getroud – die koper van ‘n gedeelte van Rhenosterfontein en ‘n Voortrekker wie se ouers reeds in 1840 noord van die Vaalrivier was. Hy was ook die veldkornet wat Frans se doodsertifikaat ingevul en onderteken het.


Die graf van Catharina Jacoba, Donkie se vrou, op Donkerhoek. Sy is later weer getroud met Rudolph Jacobus Laubscher. Sy is egter langs Donkie in die plaaskerkhof so 200 m van die Donkerhoek villa af, begrawe. Catharina se graf is steeds daar, maar Donkie is later deur die regering in die Helde-akker in Pretoria herbegrawe
Foto: Cullinan Bewarea

Donkerhoek
Dié Wolmarans was ‘n broer van Jacobus Marthinus Andries (Donkie) Wolmarans, wat die imposante ou villa teen die Magaliesberg op Donkerhoek gebou het. Donkie Wolmarans was ‘n lid van Paul Kruger se Volksraad en het hoof van die Uitvoerende Raad van die Transvaalse Republiek geword.

Hy was egter ook Frans en Martha se dogter, Catharina Jacoba, se man. Catharina en haar ma Martha is met twee broers getroud wat toe bykans bure geword het op Rhenosterfontein en Donkerhoek.

Donkie het sy gedeelte van die plaas Donkerhoek op 15 Junie 1896 gekoop en het dit Wolmarans Rust gedoop.

Martha is in November 1888 op Pienaarspoort oorlede, maar dit is ‘n gedeelte van haar gebreekte grafsteen wat vroeg in Julie deur Chris Joubert op Rhenosterfontein gevind is. Dit beteken waarskynlik dat sy langs haar eerste man Frans begrawe is en dat sy grafsteen met die jare tot niet gegaan het.


Die Donkerhoek-villa wat Donkie Wolmarans gebou het

Rhenosterfontein
Chris Joubert het op Rhenosterfontein, ‘n plaas wat 540 morg groot was, grootgeword. Hy het onthou dat hy een keer so 40 jaar gelede, verlate grafte in die veld sien staan het. Toe hy die grafte in Julie weer gaan soek het, kon hy net Martha se gebreekte grafsteen kry.

Chris se ouma, Christina Joubert, se suster, Johanna Margaretha Elizabeth (Hannie), is met ‘n Jan Francois Schutte getroud. Hy was die seun van Wessel Johannes Stephanus Phillipus Schutte – ‘n seun van die Frans Schutte wat Pretoria se eerste kerk gebou het.

Jan was aan ‘n rolstoel vasgekluister en hy en Hannie het geen kinders gehad nie. Toe Jan in 1932 oorlede is, het Hannie hulle deel van Rhenosterfontein in twee gedeel. Sy het die helfte aan haar suster Christina Joubert gegee, wat dit op haar beurt aan een van haar seuns agtergelaat het, wat die plaas in die 1960’s in plotte onverdeel het.

Met Hannie se dood in 1969 het Chris se pa, Andries, die ander deel van die plaas geërf. Op sy gedeelte van die plaas staan die ou opstal steeds wat in die Anglo-Boere-oorlog met die Slag van Donkerhoek as Britse hospitaal gebruik is.

Kerkhof
Chris het sy tante Hannie, wat later weer met ‘n Erasmus getroud is, in 1969 in die familie-kerkhof begrawe waar haar eerste man, Jan Francois Schutte, lê. Haar skoonma is ook daar begrawe – Wessel Schutte se derde vrou, Alettha Catharina, wat weer met ‘n Fourie getroud is.


Chris se oumagrootjie, die twee susters, Hannie en Christina se ma, lê ook daar – Christiena Wilhelmiena Els, gebore Pieterse – sowel as Chris se oupa Christiaan Joubert, en sy ouma Christina Wilhelmina, wat later weer met ‘n Oosthuizen getroud is.

Die gebreekte grafsteen van kerkplaats-pionier Frans Schutte se vrou Martha is ver van dié kerkhoffie in ruie veld gevind.
 

© 2019 Die/The Bronberger