Oor julle hoenders Print E-mail
News - Briewe
Monday, 27 August 2012 18:45
Untitled Document

Oupa Noki van Boschkop skryf:
Ek en die tante bly nou hier in julle dorp en is so bly om julle koerantjie te kan lees. Veels geluk, neef. Dis regtig mooi.

Ons was ook maar boere in die Tuli Blok totdat my prostaat en die tante se knieë ons hierheen gebring het. Het ook met hoendertjies geboer. Nes julle. Dis so mooi dat julle elke keer hulle kiekies plaas onder aan die blaaie van julle oulike koerantjie. 

Veral nommer 16 is vir my so ‘n mooi haan, amper nes ons ou Misbank. Daardie was nou ‘n mooi haan.

Maar ons het daardie jare nog nie ons hoenders genommer nie. Sien nou maar eers die vee inspekteur wil dit seker so hê.

Die nommer 14 is ook mooi, maar hy is nog nie kapabel nie. Hy staan ook sleg swaar op die regtervoet. Seker luise. Neef moet kyk.

Dan groet ek maar tot later. Die tante wag.

Dit is algemene gebruik om nie bladsynommers onder aan volbladadvertensies te plaas nie. Maar oom Noki het ‘n punt beet. Waar dit moontlik is sal ons dit wel in die vervolg doen. - Red

 

© 2020 Die/The Bronberger