Die intelligente hond PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Monday, 27 August 2012 16:58
Untitled Document

Vriend Henri Burger van Tzaneen vertel dat sy vriend Hansman anderdag om ‘n hardekoolvuur daar langs die Olifantsrivier ‘n aardige storie vertel het. Die gesprek om die vuur het gegaan oor intelligensie toe Hansman skielik dié storie uit sy jonger dae onthou:

"My oorlede oom Johannes het 'n hond gehad wat baie intelligent was," het Hansman gesê. "Wagter was 'n kruising tussen 'n Labrador en 'n boelhond."

"Oom Johannes het op Soekmekaar gebly, en hy het 'n slag gehad om geld uit niks te maak. Oom Johannes het baie van geld gehou. En van vrouens,” het Hansman vertel.

“Sy seun, neef Hannes, was 'n man wat nou weer geweet het hoe om geld te uit te gee, en hy het 'n affiniteit vir die lekker lewe gehad.”

“Na skool is Hannes Stellenbosch toe om te gaan leer, maar sy affiniteit het hom gekós. Toe hy die derde keer eerstejaar is, raak sy geld weer op 'n kol op.”

Keelvol
“Teen hierdie tyd was oom Johannes al effe keelvol vir sy seun se deurtrekkery en het hy gedreig om die geldkraantjie toe te draai.”

“Neef Hannes skryf toe vir sy pa 'n brief, en vertel hom van 'n ou wat hy in die Strand ontmoet het wat honde leer praat. Synde Wagter nou so intelligent is, dink hy dit sal 'n goeie idee wees as sy pa Wagter afstuur sodat hy geleer kan word om te praat. Dit kos R800. Oom Johannes sien toe onmiddellik die moontlikheid vir geldmaak met 'n pratende hond, en sit die hond op die trein. Die R800 telegrafeer hy."

Engels
"Na 6 maande doen oom Johannes navraag oor Wagter se vordering. Neef Hannes laat weet dit gaan uitstekend, die hond praat Engels vlot. Oom Johannes besef toe 'n hond wat Engels praat, sal nie deug in Soekmekaar se wêreld nie, want omtrent niemand sal hom verstaan nie. Hy doen navraag of hulle nie die hond Afrikaans kan leer nie. Nog R1 500, laat weet neef Hannes."

"Aan die einde van die jaar kom neef Hannes en die tweetalige Wagter met die trein huis toe. Op Soekmekaar is 'n groot ding gereël. Daar is 'n verwelkomingskomitee op die stasie, die pers is daar, die burgemeester gaan 'n toespraak maak, en Wagter moet die hoofrede lewer. Mense het van oral gekom en toegangsgeld betaal om die hond te sien en veral te hóór."

Trane
"Langs die pad besef neef Hannes hy het probleme, en iewers in die Karoo gooi hy in die middel van die nag die stomme Wagter by die treinvenster uit. Toe die trein by Soekmekaar stasie instoom, sien Neef Hannes nie kans om af te klim nie. Hy vra die kondukteur om sy pa te laat roep. Toe sy pa by hom in die kompartement kom sit, is neef Hannes in trane.”

Waar is Wagter dan,” wil sy pa weet. “Pa sien,” snik neef Hannes deur die trane, “ek en Wagter het oor baie goed gesit en gesels langs die pad. Toe ons hier by Munnik deurkom, toe begin Wagter snaakse stories praat. Hy sê hy gaan vir die mense op die stasie vertel van pa se liefde vir vrouens, en hoe pa in die verlede in die distrik rondgekuier het terwyl hy wat Wagter is in die warm kar moes wag. Toe vererg ek my vir sy nonsenspratery en gooi hom by die venster uit."

"Oom Johannes het 'n hele ruk stil gesit en dink, toe vra hy: “Is jy seker die vervlakste Wagter is dood, ou seun?”

 

© 2019 Die/The Bronberger