Die mense agter die ou en die nuwe name PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Monday, 27 August 2012 17:39
Untitled Document

Na wie is die nuwe straatname in ons gebied vernoem? Die maand herdenk ons die mense na wie vorige straatname, soos Hans Strijdomrylaan, Generaal Louis Botha-rylaan en Charlesstraat vernoem is. En ons sê vir julle wie Solomon Mahlangu, January Masilela en Justice Mohammed was.


Hans Strijdomrylaan se naam is na Solomon Mahlangu-rylaan verander. Die pad loop deur gebiede soos Equestria, Constantiapark, Erasmuskloof, Faerie Glen, Monumentpark en Wapadrand.

Hans Strijdom

Johannes Gerhardus Strijdom was die vyfde eerste minister van Suid-Afrika. Hy is op 14 Julie 1893 in die plaas Zandvlakte in die Baviaanskloof naby Willowmore in die Oos-Kaap gebore.

Ná sy studies in die regte het hy by sy familie se volstruisboerdery betrokke geraak en het daarna na Pretoria getrek waar hy ‘n pos in die staatsdiens gehad het.

Hy het in 1918 as prokureur in Nylstroom begin praktiseer en is in 1929 tot die parlement verkies. Hans het die leier van die Nasionale Party geword en het DF Malan as eerste minister opgevolg. In die 1948 parlement het hy as die leeu van die noorde bekend gestaan.

Verskeie standbeelde van hom is deur die land opgerig, waarvan die bekendste waarskynlik die beeld op Strydomplein in Pretoria was. Dié standbeeld het in 2001 omgeval en twee mense beseer. ‘n Deel daarvan staan nou by Hans se huis-museum in Nylstroom.

Hans is op 24 Augustus 1958 in Kaapstad oorlede, maar hy is in die heldeakker van die ou Kerkstraat-begraafplaas in Pretoria begrawe.

Solomon Mahlangu

Foto: NDR
Solomon Mahlangu was ‘n anti-apartheidsaktivis wat die eerste umKhonto we Sizwe-lid (MK) was om deur die regering gehang te word. Hy is op 10 Julie 1956 op Doorenkop, ‘n uitbreiding van Middelburg, gebore en het in Mamelodi grootgeword.

Hy is deur sy ma as enkel-ouer grootgemaak en het op hoërskool in politiek betrokke geraak. Hy het in September 1976 die grens na Swaziland oorgesteek om by MK, die gewapende vleuel van die ANC, aan te sluit.

Hy is later teruggestuur na Suid-Afrika op MK-operasies; is deur die polisie gevang en tronk toe gestuur. Sy hofsaak het maande geduur en is deur buitelandse pers bygewoon. Toe Solomon die doodsvonnis kry, het hy gesê hy het geweet dat die regering ‘n voorbeeld van hom wou maak



Generaal Louis Botha-rylaan is na January Masilela-rylaan verander. Dié pad loop deur voorstede soos Garsfontein, Lynnwood Glen, Lynnwoodrif, Lynnwoodpark, Menlyn en Waterkloof Glen. Die pad was oorspronklik as die ou militêre pad bekend en is in die Tweede Wêreldoorlog as ‘n direkte verbinding tussen Roberts Hoogte (Voortrekkerhoogte) en die Zonderwater militêre kamp buite Cullinan, gebou.

Louis Botha

Foto: Wikipedia
Louis Botha het, met weinig meer as twee jaar formele onderrig, in 1910 die Unie van Suid-Afrika se heel eerste eerste minster geword. Hy is op 27 September 1862 in Greytown, Natal gebore.

Louis het as jong man deelgeneem aan die Boere se salwing van Dinuzulu tot koning van die Zoeloes.

Hy is in 1897 tot die Volksraad verkies en, met generaal Piet Joubert se dood in die Tweede Vryheidsoorlog op 7 Mei 1900, is Louis as kommandant-generaal aangestel. Hy was deel van die veldslae van Colenso, Spioenkop, Belmont, Stormberg, Magersfontein, Donkerhoek en Dalmanutha.

As eerste minister het hy in 1914 die Unie se weermag teen Duits-Wes-Afrika gelei. Na sy terugkoms van die ondertekening van die vredesberaad van Versailles het hy siek geword en is op 27 Augustus 1919 aan longontsteking oorlede. Hy is in die Rebeccastraat begraafplaas in Pretoria begrawe.

January Masilela

Foto: Sipho Maluka
January Masilela, voormalige sekretaris van verdediging, is in 1955 in die Mhluzi-township buite Nelspruit gebore. Hy het Suid-Afrika in 1975 verlaat en in Zambië by die ANC aangesluit.

January het ‘n lid van umKhonto we Sizwe (MK) geword en sy basiese militêre opleiding in Libië ontvang. Hy het militêre kursusse in verskeie lande, soos Duitsland, voltooi.

Hy het van 1982 tot 1984 by die Moskou-instituut vir sosiale wetenskappe studeer en ’n senior diploma in sosiale wetenskap ontvang. In 1987 het hy as MK se politieke kommissaris in Botswana gewerk.

Ná sy terugkeer in Suid-Afrika was Masilela betrokke by plaaslike politiek in Mpumalanga en het gedien as adjunk sekretaris-generaal van die ANC. Hy het in 1999 sekretaris van verdediging geword.

January is op 24 Augustus 2008 in die ouderdom van 53 in ’n motorbotsing op die N4-hoofweg naby Bronkhorstspruit dood.


Charlesstraat wat links uit Atterburyweg vurk net ná Menlyn is na Justice Mohammed-straat verander. Vreemd dat dié nuwe straatnaam verkeerd gespel is – dit moet eintlik ‘Mahomed’ wees.

Charles Marais

Charles se pa, Lang Piet Marais en King Coffee - die langste en kortste man in toeka se Pretoria
Foto: Engelbrecht, SP, Eeufees-Album

Charles Marais was die seun van Lang Piet Marais, ‘n oom van die digter Eugene Marais, wat in die middel tot laat 1800’s bekend gestaan het as die langste man in Pretoria. Petrus Johannes Marais is op 22 Mei 1838 in die Kaapprovinsie gebore op die plaas Nectar. Hy het hom in 1861 in Pretoria gevestig waar hy ‘n mynmaatskappy gestig het en later direkteur van die Lydenburg Gold Prospecting Co en aandeelhouer in Transvaal Mining was. Hy het verskeie winkel- en dranklisensies gehad en het op komitees gedien, soos die een vir die stigting van ‘n skool vir jong dames; die stigting van ‘n hoërskool; en hy was voorsitter van die komitee vir die stigting van ‘n perdereisiesklub.

Sy seun Charles was ‘n landmeter wat dorpsontwikkeling, soos dié van Brooklyn en Silverton, gedoen het. Beide Charles- en Maraisstraat in Brooklyn is na hom vernoem. Maystraat in Brooklyn is vernoem na sy vrou, Catherine May Venitia Emmitt.

Rupertstraat in Brooklyn is vernoem na Charles se broer, Rupert Ford Marais. Hy was ‘n prokureur, vennoot in die firma SW Pienaar Prokureurs wat ‘n belang in die daarstelling van Brooklyn gehad het. Rupert het later ‘n advokaat in die Hooggeregshof geword. Stellastraat is na sy vrou vernoem.

Ismail Mahomed

Hoofregter Ismail Mahomed
Foto: Ex-QDMS

Ismail Mahomed was die eerste hoofregter van Suid-Afrika ná 1994. Hy is op 5 Julie 1931 in Pretoria gebore, die seun van Indiese winkeliers. Ismail het in 1950 by Pretoria Boys High gematrikuleer en in 1953 sy BA graad by Wits gekry, en in 1954 sy BA Honneurs met ‘n onderskeiding in politieke wetenskap. Hy het sy LLB in 1957 voltooi.

Ismail is in 1979 aangestel as regter van die Appèlhof in Swaziland en in 1982 het hy ‘n appèl-regter in Lesotho geword. Hy het later hoofregter van Namibië en president van die Lesotho Appèlhof geword. Hy was een van die voorsitters van die ‘Konvensie vir ‘n Demokratiese Suid-Afrika’ gesprekke.

In 1991, toe die ANC nie meer verban was nie, het hy die eerste nie-blanke persoon geword om aangestel te word as ‘n permanente regter van die Hooggeregshof.

Ismail is in 1995 by die Konstitusionele hof aangestel en het in 1998 hoofregter geword, ‘n posisie wat hy beklee het tot kort voor sy dood. Hy is op 17 Junie 2000 in Johannesburg aan pankreas kanker oorlede.
 

© 2019 Die/The Bronberger