Haar eie stel winkeltanne PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Tuesday, 25 September 2012 22:54
Untitled Document

Ou Liesbet kom help twee keer in ‘n week hier in die huis sedert Winnie destyds Tom Burke toe is om ‘n bybie te loop kry en toe nooit weer teruggekom het nie, vertel Gert Mossie anderdag.

Liesbet kon maklik ‘n Ripina van Winkel gewees het wat iewers uit die laat sestigs uit skielik in die nuwe Suid-Afrika wakker geskrik het. Vir haar het dinge nie veel verander nie, behalwe dat sy destyds nie die vurige organiseerder vir daai politieke party met die drie vroue, een van elke soort, op die paalplakkate sou kon wees wat sy vandag is nie, sê Gert.

Dis Liesbet wat eenmaal verseg om hom enigiets anders as ‘Bas’ te noem, sê Gert. Hy het lankal bes gegee met pogings om haar tot ‘n ander aanspreekvorm om te haal. En toe die vrou van die huis oorkant die pad, waar ‘n kleurling-gesin hulle intrek geneem het, vir Liesbet net R60 vir ‘n dag se ‘piece job’ wou betaal, het sy erg verontwaardig en effe verward kom vertel: “Ek weet nie of is sy die miesies of wat nie, maar sy is baie suinig.”

Liesbet kom Dinsdae en Vrydae. Een Vrydag was dit vir hom vreemd toe sy hom met die intrapslag met baie meer oorgawe en vriendelikheid as gewoonlik groet. Met ‘n baie breë glimlag het sy in die deur bly talm ná die gebruiklike: “More Bas.”

En so merk hy deur die loop van die oggend elke keer as hy en Liesbet se paadjies kruis, dat sy oordadig vir hom smaail. Hy het net begin bekommerd raak oor ou Liesbet se intensies met die nuwe attensies waarmee sy hom so oorlaai, toe sy vrou die tergende geheim opklaar: “Dis die tande man. Ou Liesbet het tanne gekry.”

Omdat hy half sleg voel oor sy onoplettendheid, maak hy ‘n groot ‘song-en-‘n-dans’ toe sy hom weer met haar skitterwit, bykans ‘larger-than-life’ glimlag gooi: “My magtie, ou Liesbet. Kyk net jou mooi nuwe tande. Waar kry jy hulle?”

Nee, vertel sy met ‘n wye, wit glimlag, dis eintlik haar ‘tjommie’ se tande. Sy leen hulle vir haar broer se begrafnis Saterdag in Zebediela. Vandag was blykbaar ‘n oefenlopie om haar aan die goed gewoond te maak, vertel Gert Mossie.

Net voor tjailatyd kom staan Liesbet baie benoud in sy kantoordeur. Dié keer glimlag sy nie. Sy staan met haar duim en wysvinger vasgeklem op die botande van die stel. “Die Bas moet help. Die tanne hy wil nie uit nie!”

Gert sê hy verduidelik toe maar dat hy nie juis ervaring van winkeltanne het nie en stel voor dat hulle haar tandarts toe vat. Hy sien ou Liesbet dink diep na oor die saak. Nee, sê sy eindelik, sy dink nie die tandarts is die regte plan nie. Sy dink sy moet haar liewer haas na die regmatige eienaar van die stel tande toe. Dié sou sekerlik weet wat om te doen. En só is ou Liesbet hier weg, sê Gert.

Soos hy gesê het, werk Liesbet Vrydae en Dinsdae by hulle, maar die Maandagoggend staan sy vroeg voor die hek. Weer haar gewone tandelose self.

Dit blyk toe dat die vroulike ydelheid die oorhand gekry het oor gesonde verstand. Liesbet het besluit om die ongerief en pyn te verduur ter wille van die wit glimlag waarmee sy die bedroefde familie en vriende op die begrafnis wou verras.

Sy is met die stel geleende tande nog soos ‘n vasgemesselde baksteen in haar mond Zebediela toe en terug. Eers Sondag het die ‘tjommie’ en almal wat blykbaar kon en wou, gehelp om die gebit los en uit die ou mond te dwing.

Maar dit was blykbaar alles die moeite werd. Liesbet en haar geleende glimlag moes ‘n groot ‘hit’ op die begrafnis gewees het. Dié dat sy Maandag en nie Dinsdag nie, kom werk het. Want Dinsdag is dit kliniekdag en sy wil ‘klieniekie’ toe om haar eie stel winkeltande te bestel.

 

© 2019 Die/The Bronberger