Tien ?toekas? uit ons tien jaar gedenk die families van ons kontrei PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Tuesday, 25 September 2012 23:04
Untitled Document

Die afgelope tien jaar het ons julle vertel van die lief en leed van die families wat oorspronklik op ons kontrei se plase geboer het – van Piet Retief se agterkleindogters wat Zwavelpoort geërf het en die Voortrekker Daniël Jacobus Erasmus wat ‘n groot aantal plase in die distrik besit het, tot die Annandales van Nkwe, die Strubens van The Willows en die Barnards van Boschkop. Ons het tien ‘toeka se dae’ artikels uit ons tien jaar gekies om na terug te kyk.

Só het alles begin

Dié is die heel eerste ‘toeka-foto’ wat in Die Bronberger geplaas is in September 2002. Ons het gevra of lesers weet waar dié Tweede Vryheidsoorlog-foto geneem is. Piet Colyn het laat weet dat die foto naby die fontein op sy plot geneem is. Die fontein het in menseheugenis nie eenkeer opgehou water gee nie, selfs nie in die groot droogte van 1899 tot 1902 nie. Blykbaar sou die enigste lopende water wat die kommando’s op daardie roete kon kry Piet se fontein wees.

Die Viljoensusters van Zwavelpoort

In Oktober 2002 berig ons dat Piet Colyn ‘n afstammeling is van die drie Viljoensusters, agterkleindogters van Piet Retief, wat die oorspronklike plaas Zwavelpoort geërf het. Op dié 1919 Zwavelpoort-foto is Piet se grootouers, Isabella Susanah, een van die Viljoensusters, en haar man Gert Petrus Bezuidenhout. Die ander twee susters was Deborah en Martiena, en elke suster het iewers in die laat 1800’s 481 morg gekry.

Isabella en Gert het op hulle deel van die plaas begin boer met Afrikanerbeeste. Gert was blykbaar ‘n aantreklike man wat teen ‘n hoë ouderdom nog sy hare gekleur het en vir die mense vertel het hy is baie jonger as wat hy was. Isabella was nie sy eerste vrou nie – en toe ook nie sy laaste nie. Toe hy weer trou het sy nuwe vrou Gert se nege kinders weggestuur. Piet se ma, wat ook Isabella Susanah gedoop is, is Lichtenburg toe gestuur, maar sy moes terugkom om Gert se nuwe vrou op te pas toe dié suikersiekte kry met haar eerste swangerskap. Dit is dié dogter Isabella wat toe op die ou einde met ‘n Colijn vars uit Holland uit, getrou het.

Die Fouries langs die wapad

In Januarie 2003 het ons by die Fouries gaan kuier en Doreen het vertel dat die dele rondom die Boschkop-Tierpoort grondpad in die 1800’s Fourie-wêreld was. Hulle het ‘n regeringservituut gereël om die Boschkopgrondpad te maak en uitspanplek te gee vir die mense wat met hul waens hier verbygetrek het.

Dié foto van die "Bosch Kop Governmentskool" is in 1916 geneem. Die meisie reg agter die onderwyser in die tweede ry van agter af is die 16-jaar oue Maria Fourie, Doreen se man, Andries, se ma. Maria se ouers, Anna en Johannes Petrus Fourie, het die opstal, wat in 2003 ‘n sigbare murasies was waar die Boschkop grondpad in Lynnwoodweg inkom, gebou.

Ouma Anna het gehoor dat die kakies op pad is en huise afbrand, en sy het haar meubels, staanhorlosie en bakke wat sy as trougeskenke gekry het in ‘n spoelsloot begrawe, en dit netjies met sinkplate bedek voor die grond weer bo-oor gegooi is.

Die kakies het brode uit ouma Anna se bakoond gesteel, hoenders op die werf geslag, en die Fouries na Irene Konsentrasiekamp toe gestuur. Hulle het blykbaar nie so siek soos die res geword nie omdat ouma Anna die bulsak saamgevat het om op te slaap.

Nkwe en die Annandales

Die storie van Nkwe is die storie van die Annandales – ’n familie wat ten tye van ons April 2003 uitgawe al 108 jaar lank in Tierpoort gebly het. In dié uitgawe het die 84-jarige Oom Francois Annandale vir ons die oorspronklike 1895 kaart en transport van sy grond en die Tweede Vryheidsoorlog oorblyfsels wat hy in die verskansings op die berg agter sy huis gekry het, gewys.

Die dam net bokant Nkwe-oord se bekende swemgat is geskep toe oom Francois se pa, George Annandale, die wal in 1930 gebou het om sy landerye te besproei. Die plaas was 385 morg groot met landerye tot onder by Lynnwoodweg. Wyle oom Francois het in 2003 nog oor ’n 100 morg aan weerskante van die Tierpoort-teerpad, besit.

Hy het vertel dat mense toe reeds 45 jaar lank in die poele van die Pienaarsrivier geswem het oor naweke. Nkwe-oord het homself gemaak, het hy gesê, en al wat hy en sy vrou Bettie gedoen het, was om ’n toegangsprys te begin vra.

Die Van Stadens van Onbekend

Hans en Hannie van Staden het die plaas Onbekend in 1924 gekoop. In Junie 2004 het ons vir die eerste keer by hulle dogter, die 86 jaar oue tannie Willa Dreyer, gaan kuier.

Volgens tannie Willa is haar familie uit hulle regmatige rykdom uit verneuk. Haar pa Hans was ses jaar oud toe hy gesien het hoe die hoofgoudrif aan die Witwatersrand in 1886 ontdek is op sy oupa, Gerhardus Cornelis Oosthuizen, se plaas Langlaagte. Die feit dat die goud daar ontdek is deur sy skoonseun, Hermanus Johannes van Staden, was vir jare lank onbekend. Daar is geglo dat Peter Bernardus de Ville dié goud ontdek het.

Die Paarlse Sindikaat het die plaas van Gerhardus Cornelis Oosthuizen gekoop vir £6 000 en de Ville was een van die mans wat namens die sindikaat sake gedoen het. Die sindikaat het vir oupa Oosthuizen ’n pragtige Bybel gegee, versier met egte goud wat uit die plaas gehaal is, maar hulle het selfs dié goud verloor toe oupa ’n tweede keer met ’n Bester-vrou, wat na sy dood met die Bybel vort is, getrou het.

Van Wolfaardt Landgoed tot Woodhill

In Januarie 2005 vertel ons dat Woodhill Gholflandgoed gebou is in die hartjie van die destydse spog melkplaas, Wolfaardt Landgoed. Die plaas was 980 morg groot en Wolfaardt het dit in 1926 vir vier pond en tien sjielings per morg by Gey von Pittius gekoop. Hy is in 1954 oorlede en sy seun Pieter het op die melkplaas aanhou boer.

In 1974, toe Pieter nog ‘n melkery bedryf het wat 3 500 liter melk per dag gelewer het, het die stadsraad besluit om hom te onteien. Die Pretoriase Stadsraad het daardie jare die Niemand Kommissie aangestel om erfpryse te probeer afdwing. Dit was hulle beleid om plase uit te koop en dan self dorpsontwikkeling te doen.

Pieter het ‘n groot geveg aan die gang gesit en sy grond is eers in die 1980’s aan die stadsraad verkoop. Intussen het die stadsraad lelik vasgebrand met die ontwikkeling van Garsfontein, en het toe nooit die Wolfaardt-grond ontwikkel nie. Pieter het tot 1993, toe die stadsraad stukke van die grond begin verkoop het, as huurder daar aangebly.

Die deel waar Woodhill vandag staan is deur ‘n ontwikkelingskonsortium, wat CJ Irons, Kroon & Seuns en EG Chapman ingesluit het, gekoop. Erfverkope het in die laat 1990’s begin en Woodhill is amptelik op Donderdag 25 Maart 1999 geopen.

Blink Dael, Oks en Dowe Koos van Mooikloof

In April 2005 vertel ons die verhaal van Mooikloof. Die Voortrekker Daniël Jacobus Erasmus was in 1854 die eerste eienaar van Mooikloof, Doringkloof, Zwartkop, Rietfontein, Grootfontein, Rietvlei, Tierpoort, Bashewa, Welbekend en Tweefontein.

Hy was met Cornelia Jacoba Susanna Kruger getroud en hulle seun, Stephanus Erasmus, het Mooikloof van sy pa geërf. Sy broer, Generaal Daniël Jacobus Elardus Erasmus, het Rietfontein, Grootfontein, Tierpoort, Bashewa en Welbekend geërf.

Met Stephanus Erasmus se dood, het sy seun Daniël Jacobus Erasmus (Blink Dael) Mooikloof geërf. Blink Dael was Stephanus se enigste kind. Hy was glo ‘n losbol en verkwister en was verplig om Mooikloof aan sy aangetroude neef, Jacobus Gerhardus (Dowe Koos) Opperman te verkoop.

Dowe Koos is net na die Tweede Vryheidsoorlog met Sibella Margaretha Erasmus getroud. Sy was ‘n dogter van Generaal Daniël Jacobus Elardus Erasmus van Grootfontein, en het Rietfontein van haar pa geërf.

Met Dowe Koos se dood in 1942 het sy dogter, Susara Jacomina Margaretha, en haar man, Daniël Pieter (Oks) Liebenberg, Mooikloof geërf. Oks het Mooikloof in 1950 aan ene mnr Sacks verkoop, die man wat Rietfontein in plotte opgesny het nadat hy die grond van Marie Vorster, dogter van Jacobus Gerhardus en Sibella Opperman, gekoop het.

Sacks het Mooikloof aan die eiendomsontwikkelaar, Tucker, wat later skoonpa van Anneline Kriel geword het, verkoop. Volkskas het Tucker finansier en toe dinge skeefloop, het Volkskas met die grond opgeskeep gesit tot dit aan die Bester-broers verkoop is.

Die Bester-koninkryk het egter begin wankel, en die broers wou Mooikloof as ’n grys dorpsgebied ontwikkel waar 20 100 mense op 4 800 enkelwoonerwe en in 360 groepswooneenhede gevestig sou word.

Omliggende ploteienaars was hierteen gekant en veldtogte teen die verklaring van Mooikloof as vryevestigingsgebied is in 1989 geloods. Ná die idee laat vaar is, het die Besters bankrot gespeel en Mooikloof is deur Leorand Eiendomsmakelaars oorgeneem. Leorand het die landgoed in 1994 as perdetema-ontwikkeling begin bemark.

Grootfontein se Erasmusse

In Julie 2006 berig ons dat Erasmus-afstammeling Elta Viljoen en haar man Frans steeds op ’n deel van die oorspronklike plaas Grootfontein, wat haar oupagrootjie Generaal Daniël Jacobus Elardus Erasmus met ’n perd in Paul Kruger se tyd uitgemeet het, woon.

Sy seun Petrus Johannes Ernst, Elta se oupa, het die grond by hom geërf en op sy beurt nagelaat aan sy seun Pieterman, wat saam met sy vrou Sannie op die foto verskyn. Pieterman se seun Danie het die deel van die plaas waarop die 1880 familie-opstal is, geërf. Hy het ’n deel van sy grond verkoop en dit is waar die landgoedontwikkeling Grootfontein gebou is. Danie het ‘n deel van die grond oorgehou en het ten tye van ons berig steeds in die opstal gewoon.

’n Ander deel van die plaas het aan Kokkie Erasmus behoort. Hy het ’n perderesiesbaan gebou wat vandag as Sinovichrylaan, wat van Garstfonteinweg-verlenging tot by die Delmaspad loop, bekend staan.

Die Sinovich groep van maatskappye het in 1997 ’n deel van die plaas by die Erasmus-familie gekoop en het Rietvlei View Landgoed in 1999 ontwikkel. Kokkie het 15 hektaar van sy plaas uitgehou, waar hy gebly het tot hy in 2004 oorlede is.

Donkerhoek se villa

Donkerhoek se trotse ou villa uit die 1800’s is deur ’n destydse lid van Paul Kruger se volksraad, JMA (Donkie) Wolmarans gebou, berig ons in Junie 2008. Groot dele van die struktuur van die Wolmaranshuis, soos die houtsneewerk, vensters, balke, vloere, deure en kaggels, is uit Engeland en Europa verskeep en met ossewaens na Pretoria gebring. In die tweede Vryheidsoorlog is die huis deur die Engelse opgekommandeer om as hospitaal te dien.

In 1916 is die gedeelte van die plaas met die huis op deur ’n seun van Donkie, Jacobus Wolmarans, aan ’n sakevennoot van Sammy Marks, J Levin, verkoop. Die huis en grond is in 1924 deur JB Wouda gekoop en sedertdien woon sy nageslagte daar.

JB Wouda was Dave Brink, wat sy hele lewe nog daar bly, se oupa. Dave se ma, Ella Brink, was ’n bekende in die omgewing en het die grootste deel van haar lewe, tot haar afsterwe ’n paar jaar gelede, in die ou opstal gewoon.

Ella het vir jare die Avondson Hotel bedryf. Die hotel is langs die ou Bronkhorstspruitpad op die plaas gebou. Ella se ma was in die vroeë 1900’s die eienaar van die bekende Wouda losieshuis in Pretoria.

The Willows se Strubens

In Januarie 2010 vertel ons die verhaal van die Struben-plaas, The Willows, die Strubenbroers Harry en Fred, en ’n mislukte boerdery wat tot die ontdekking van goud gelei het. Harry het The Willows, geleë langs die buurplaas Hazeldean, in 1862 gekoop en sy broer Fred het as sy assistent gewerk. Op The Willows het Harry vele mislukte boerderypogings met volstruise en beeste gehad. In 1870 het hy besluit om met skape te begin boer en het met sy gesin en ’n wavrag vol ivoor wat hulle vir skape geruil het, afgesit na Aliwal-Noord.

Daarna het hulle van die ontdekking van diamante gehoor, die skape verkoop en is diamantveld toe. Weens siekte is hulle terug na The Willows waar Harry sy belange in die diamantvelde verkoop het en begin reis het. Toe die Eerste Vryheidsoorlog uitbreek, is The Willows verwoes.

Intussen het Fred in 1892 in Barberton goud gesoek, nie gekry nie en is terug na The Willows. Die twee broers sou binnekort platsak wees en het besluit om na New Zealand te emigreer. Net voor hulle dit kon doen het ’n vriend wat saam met Fred in Barberton was, daar aangekom met ’n klip wat hy op sy plaas, Wilgespruit, gekry het. Fred was seker dat dié klip goud kon bevat en hy het Harry oortuig om die buurplaas, Sterkfontein, met sy laaste geld te koop. Op die tweede dag het Fred daar tekens van goud gevind en die res, soos hulle sê, is geskiedenis.

Boschkop se baanbreker Barnards

In Maart 2011 berig ons dat ons gesigte by die Barnard-name op die grafstene by Waterlake Farm, kon sit. In Desember 2010 het ons geskryf dat dié grafstene ’n verhaal van die lief en leed van Boschkop se Barnards vertel; van die seuns wat in die Tweede Vryheidsoorlog gesneuwel het; dié wat in die 1914 rebellie dood is; en van die Groot Griep wat die familie so genadeloos getref het.

Coba Maree het laat weet dat sy afstam van die Terblanche egpaar wie se name as kinders op die Barnard-vader se graf gelys word. Magdalena Christina Terblanche, ’n nooi Barnard, en Daniël Johannes Terblanche was Coba se oumagrootjie en oupagrootjie. Magdalena was ’n dogter van Petrus Johannes Barnard en Jacoba Johanna Aletta, ’n nooi van Dÿk, wat die oorspronklike Victoriaanse herehuis laat in die 1800’s op die plaas Boschkop gebou het.

Die Terblanche se dogter, Jacoba Johanna Aletta, bekend as Kotie, was Coba se ouma. Kotie is met Gert Viljoen getroud en hulle oudste kind was Coba se pa, Jacobus Johannes Viljoen. Jacobus is met Hendrina Cecelia Breytenbach getroud. Hy is in 1973 oorlede en Hendrina in 1975.

Ons kon die grafte van Coba se ouma en oupa, Kotie en Gert Viljoen, sowel as haar oumagrootjie en oupagrootjie, Magdalena en Daniël Terblanche, by die Boschkopse plaasbegraafplasies opspoor. Gert is ongeveer 17 jaar voor Kotie oorlede. Daniël is amper 40 jaar voor Magdalena oorlede. Tog is Kotie, as ’n Potgieter, en Magdalena, as ’n Wolmarans, by hul eerste mans begrawe.

Op die foto: Coba se oumagrootjie, Magdalena Christina Wolmarans, het agt kinders gehad. Gert en Kotie Viljoen, Coba se oupa en ouma, sit in die middel by haar oumagrootjie Magdalena.

 

© 2019 Die/The Bronberger