Het jy gehoor? / Have you heard? - Jun 2008 PDF Print E-mail
News - Het Jy Gehoor
Thursday, 19 June 2008 23:01
Untitled Document

’n Visserman was verstom toe hy ’n yslike baber magteloos en moeg in ’n dam sien dryf met ’n rubberbal in sy bek. Die baber het duidelik die bal probeer insluk toe dit in sy bek bly vassteek. Elke keer as die vis bodem toe duik, het die bal hom weer oppervlakte toe gedwing. Die visserman het ná ’n kwaai gesukkel om die bal uit die visbek te kry, uiteindelik ’n gat met sy knipmes daarin gesny en kon toe die afgeblaasde bal verwyder. Baber se kind het uitgeput, maar ongedeerd weggeswem.

xxx

Boewe wat skrootyster stroop is die afgelope tyd baie bedrywig in die Zwavelpoort-gebied. Alles wat van metaal gemaak is loop deur. Mense se hekke, drinkbakke vir perde, swaar trekkergewigte, enjins en selfs draad, hekke en ‘droppers’ word gesteel. Kan dit wees dat die nuwe skrootwerf in die gebied iets hiermee te doen het? ’n Wit bakkie met die registrasienommer NVF769GP word met van die voorvalle verbind.

xxx

Ou Piet sê hy het anderdag eerstehands die vreeslike trauma van ’n xenofobiese aanval ervaar. Hy sê toe hy geswaai by die huis aankom, het sy vrou hom soos ’n vreemdeling behandel. Daai is nog niks, sê ou Allan toe. Hy wat Allan is het anderdag nugter by die huis aangekom toe behandel sy hond hom soos’n vreemdeling en byt hom.

xxx

Wat hy nie verstaan nie, sê Gert Mossie, is hoekom sy bank hom ’n fooi vra vir “onvoldoende fondse”. Hulle weet mos voor hulle heilige siele, hy’t nie geld nie.

 

© 2019 Die/The Bronberger