Ta? Miem trek Wespark toe PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Wednesday, 24 October 2012 05:37
Untitled Document

Vriend Alwyn Nel, wat hom deesdae in daai plek wat die boere sommer Pêrt noem, in Australië bevind, het onlangs effe nostalgies geraak. Die Internetgesprek het gegaan oor Johannesburg se geskiedkundige Wespark-begraafplaas en dit het ou Alwyn weer aan tant Miem laat dink. Ek laat hom in sy eie woorde verder vertel:

In my weermagdae het ek bevriend geraak met Kenny Rehbock. Ons het altwee in Johannesburg gebly en saamrygeleenthede huis toe gedeel. So het ek die Rehbock-familie van Rosettenville leer ken. Kenny was die laatlam in die familie, en sy ouers was reeds op ‘n gevorderde ouderdom.

Tant Miem en oom Ken was alledaagse mense. Ta' Miem het in Vrededorp grootgeword. Fietas. Vir baie mense het dit ‘die verkeerde kant van die treinspoor’ beteken. Oom Ken is aan die ander kant gebore. Engelsman.

Maar die liefde tussen die twee het geblom, en ta’ Miem se gunsteling storie was oor toe
sy oom Ken vir die eerste keer gebel het. Hulle was maar arm en huistelefone 'n luukse. Sy het oom Ken toe van 'n tiekieboks af gebel - ‘n nuwe ervaring vir die jonge Miem.

Maar met die nodige vooraf instruksies het ta’ Miem deurgekom en gepraat tot die geld klaar was. Toe sy die laaste tiekie ingooi, sê oom Ken, “gee my gou die nommer dan bel ek terug”. So gesê, so gedaan. Maar tant Miem het nie geweet sy moes die gehoorbuis terugsit op die mikkie nie. Sy het net koebaai gesê en toe staan sy en wag met die ding in haar hand dat die telefoon moet lui. En sy wag, en sy wag, en sy wag . . .

Na so uur se gewag is sy nou hoogs de duiwel in vir dié man wat haar nie terugbel nie. Op hierdie punt van die storie steek sy 'n siegret aan en hy wip so op en af tussen die lippe as sy verder vertel. Sy sê sy smyt daai foun terug op die mikkie, en jou wragtag, daar lui die ding.

Vies praat sy met die luiende telefoon terug: “Jou agterent Kennith Rehbock, ek is nie jou blêddie fool nie.” Sy vat haar handsak en los daai foun laat hy lui. Sy was al om die blok toe lui die ding nog steeds, het tant Miem vertel. Dan kyk sy vir oom Ken en dan skater die twee van die lag.

Tant Miem en oom Ken het 'n doppie geniet. Richelieu brandewyn met Pepsi. Die Lexington was altyd naby, ook as sy die kospotte roer. So tussen die lippe sit die siegret en hy dans eers boontoe en dan ondertoe, een oog toegeknyp teen die rook wat brand.

“Boetie, gee vir ma die garlic paste, seblief. Ag ma, kry tog asseblief net so ‘n bietjie class.”
“Class se gat Boetie, ek is so gemaak en so gelaatstaan.”

Kenny het 'n kleintjie dood gehad daarin om in Rosettenville te bly. Ag nee, heng ma;
hoekom trek julle nie na 'n beter plek toe nie. “Ma se kop is nog altyd in Fietas. Julle kan 'n fortuin vir die ou huis kry, en trek na ‘n baie beter woonbuurt toe.”

Hy het dit hoeveel maal gesê in die kort tydjie wat ek hulle geken het. Dan het tant Miem so na Kenny gekyk en gesê. “Bokker dit, Boetie; ek het genoeg in my lewe getrek. Daar is nie 'n manier wat ek weer trek nie. Van hier af trek ek Wespark (die begraafplaas) toe. Dit sal my laaste trek wees.”

Dit was die winter van '83 toe die longe en die Lexington mekaar nie meer kon verduur nie. Tant Miem het die longontsteking afgemaak as 'n lastige verkoue, en gesê: “Pa, gooi vir ons 'n brandewyntjie, ek drink hom reg.”

Maar daar van die huisie in Rosettenville het die swart kar haar Wespark toe gevat. Kenny het gevra dat Avbob haar terugvat huis toe, ter voorbereiding vir haar laaste trek. En toe het ons 'n glasie Richelieu en Pepsi op tant Miem geklink. En daar van die groen geverfde stoepvloer in Rosettenville af, het tant Miem Rehbock Wespark toe getrek.

 

© 2019 Die/The Bronberger