Die kroon in Koos Pote se vertoonkas PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Wednesday, 21 November 2012 06:49
Untitled Document

In ou Koos Pote se biologieklas/laboratorium was ‘n menslike voorvinger in ‘n botteltjie met formalien uitgestal. In ‘n vertoonkas teen een muur, tussen ‘n bottel met ‘n muis-embrio en een met ‘n platanna daarin, was die vinger. 

En die oorspronklike eienaar van die kroon van die uitstallings in Koos Pote se vertoonkas, was nog saam met hom op skool, al moes hy, as alles volgens skedule verloop het, toe al lankal uit gewees het, vertel Gert Mossie anderdag.

Suutjiespoep Lennert en Piet Ore Steyn was boesemvrinne, sê Gert Mossie. Koshuisbrakke; kamermaats en droogmakers van formaat, was Suutjiespoep en Ore. En toe die rekordeksamen nader kom was nie een van die ouens juis toegerus om daarvan ‘n klinkende sukses te maak nie.

Iewers het ou Suutjiespoep gehoor dat dit maklik is om ‘n mensbeen te breek, as die betrokke ledemaat wat gebreek wil word, deeglik en langdurig met asynlappe toegebind word.

Suutjiespoep redeneer toe dat ‘n gebreekte wysvinger aan die skryfhand die nodige gestremdheid sou voorsien om die middel te heilig. Die vinger word in asynlappies gehou vir wie-weet-hoe-lank. En toe is die tyd ryp, reken hy en Piet Ore.

Agter die skoolswembad se muur, onder die ou kareeboom het ou Suutjiespoep sy gepekelde wysvinger op ‘n baksteen neergesit en sy oge toegeknyp. Die opdrag was dat Piet Ore met die halwe baksteen in dié se hand, moet raakslaan en moet hard slaan. Een geweldige, goedgemikte hou.

Hulle het daardie wysvinger later tussen die stof en droë kareeblare opgespoor en só het dit in Koos Pote se klas in ‘n botteltjie beland.

Suutjiespoep Lennert was vir ‘n aantal jare agterna nog die kadetorkes se beste trompetspeler, maar hy moes glo ure se oefen insit om die ‘drukke’ weer reg te kry, sê Gert Mossie.

Boetie Ray ry alleen
Sy oom Reinier Oosthuizen was ‘n gerekende man in die Bosveld, sê Gert Mossie anderdag. En soos dit maar met gerekende mense oral gaan, het ook oom Reinier verskillende noemname by die verskillende mense wat sy lewenspad gedeel en gekruis het, gekry.

Vir hulle was hy oom Nierie, sê Gert Mossie. Die groot, ondeunde ouboet van sy oorle ma wat ‘n kind wat op sy Bandelierkop-plaas kom kuier het, baie belangrik en spesiaal laat voel het – amper soos ‘n grootmens.

Die meeste werkers op die plaas het oom Nierie as my ‘Kroon’ aangespreek. Hy was ‘Raynier’ vir sy vrou, tannie Hettie, en ‘Renier’ vir sy vriende.

Sy ou korrelkop buurman waarmee daar ‘n ewige twis oor grensdrade en goed was, het hom ‘Oosthuis’ genoem en vir sekere van sy grênd, half Ingelse skoonfamilie, was hy Ray. En dit was een van hierdie verlangse aangetroudes wat op sy beurt ook aangetroud is, wat hom ‘Boetie Ray’ genoem het.

Dié einste aangetroude, ene Valie, het tydig en ontydig op die plaas kom kuier. Geen kwaad was daar volgens oom Nierie aan dié man nie, maar Valie was nie vreeslik breed met die verstand bedeeld nie en hy het oom Nierie nie vir ‘n oomblik in vrede gelos nie. En dan was dit: “Boetie Ray, hoe? En Boetie Ray, wat? En Boetie Ray, waarom? En weet Boetie Ray, hoekom?” totdat oom Nierie glo die mure wou uitklim.

Daarom het oom Nierie met dié kuierslae elke dag iets uitgedink wat op die dorp gedoen moes word, vertel Gert Mossie.

En toe, een aand aan etenstafel, maak Valie keelskoon en laat waai met: “Boetie Ray? Kan ek vir Boetie Ray iets vra, asseblief, Boetie Ray? As Boetie Ray nou weer dorp toe ry, Boetie Ray, met die bakkie ry, nè Boetie Ray, kan ek dan asseblief saam met Boetie Ray ry, Boetie Ray?”
Die volgende dag is oom Nierie vroeg weer met die bakkie dorp toe. Alleen.

 

© 2019 Die/The Bronberger