Print E-mail
News - Briewe
Wednesday, 19 December 2012 08:41
Untitled Document

Terry van Wapadrand skryf:
Julle voorblad was so mooi met die loeries wat sit en skinder, maar die lelikste ding het my getref en nou sit daar letterlik net een loerie en treur hom dood oor sy maat wat so lelik van hom af weggeruk is.
‘n Mens sal nooit dink dat daar in die rustige omgewing van Wapadrand sulke gewetenlose skurke woon nie. Ek raai dit was klein skurkies wat met grootmens speelgoed gespeel het. 

Die Sondagoggend het ons nog die loeries bewonder hoe hulle hoog sit en vere kam in die reën. Dit was so mooi om te sien en ons het net weer besef hoe bevoorreg ons is om eintlik so na aan die natuur te wees waar ons in Wapadrand woon.

My dogter het kom kuier en onder 'n groot ou Jakarandaboom parkeer, soos altyd. Sy is huis toe, en het baie dringend gebel en gesê haar kar was vol bloed en sy moes dit sommer gou in die reën was, want dit het omtrent soos 'n tref-en-trap ongeluk gelyk – vars, rooi bloed wat die reën nie eers kon afwas nie.

Ons het in die boom waaronder sy gestop het gaan kyk en het 'n arme loerie sien bloei – hy was uitgeput en was nog nie dood nie; het net daar gehang.

Later het ek my hekke gesluit en reggemaak om ligte aan te sit vir die aand toe ek op 'n pyl met 'n afgebreekte punt trap. Die logiese verduideliking was dat die arme loerie met die pyl geskiet was en dat die punt in hom afgebreek het.

Ek sou vreeslik graag die pyl persoonlik aan die eienaar wou terug gee, maar soms is dit beter om maar net jou sê in Die Bronberger te sê. Die skuldige knapie weet wel wie hy is. 

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2020 Die/The Bronberger