Legende van ?n eksentrieke prokureur en sy troetel-leeu PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Wednesday, 19 December 2012 07:06
Untitled Document

Die storie van Rudolph Gustavus Coetsee en Oubaas die leeu het destyds soveel opspraak verwek dat selfs Eugène Marais ‘n artikel oor dié buitengewone man en sy mak leeu geskryf het.

In Oktober verlede jaar het ons vertel dat ‘n troetel-leeu in die dertiger jare in Cullinan koning gekraai het. Agterkleinkind Amelia Hüsgen het familiefoto’s en -staaltjies van haar oupagrootjie en sy leeu met Die Bronberger gedeel.


Amelia se oupagrootjie, Rudolph Gustavus Coetsee, die veelbesproke prokureur van Cullinan, op sy motorfiets

Gebore
Rudolph is op 5 Junie 1889 in Philipstown gebore. Hy is op Stellenbosch as onderwyser opgelei, maar het van beroepsrigting verander en as ingeskrewe klerk by die prokureursfirma van Deneys Reitz aangesluit.

Hy is op 6 Oktober 1914 in Pretoria met Fredericke Adolphina Maria Dicke getroud. Sy was die dogter van Johann Adolph Dicke en Friederike Krüger van die distrik Ventersdorp/Krugersdorp.


Die foto wat Amelia se oupagrootjie tot die dag van sy dood in sy beursie rondgedra het. Dit is ‘n hartseer foto van Oubaas in die dieretuin

Rudolph en sy bruid Fredericke, staande in die middel tussen broers en susters, op hulle troudag
.

Rudolph en Fredericke het sewe kinders gehad: Anna Fredericka, Rudolph Johannes, Amelia Margaretha, Ida Dicke, Amie Lodewicus, Adolphina en Adolph Gustav.

Rudolph het op Bronkhorstspruit en Cullinan as prokureur gepraktiseer. Daarna het hy hom by die bekende prokureursfirma Ross en Jacobs in Pretoria gevoeg. Later in sy lewe het hy Staatsdiensinspekteur geword en na Bronkhorstspruit teruggekeer.


Oubaas en sy hond-maatjie, genaamd Theo, is saam agter aan die motor vasgebind om seker te maak hulle wag geduldig tot Rudolph gereed was om verder te ry

Die Coetsee kinders: Sus, Fien, Ida, Coetie, Amelia en ‘n onbekende vriend. Boet sit voor langs Theo die hond wat op sy rug lê en karring aan Oubaas die leeu

Eksentriek
Ons storie speel af toe Rudolph en sy gesin op Cullinan gewoon het. Sy kleinkinders vertel dat hulle oupa Rudolph baie vreemde gewoontes gehad het. Alles wat hy besit het was gemerk, van sy tandeborsel tot sy gediertes, en daarvan was daar baie. Die merk was egter nie net ‘n eenvoudige naam nie; nee, elke item het sy volle name, die posadres, straatnaam en -nommer, dorp en dan ook die inventarisnommer gedra.

Rudolf was dol oor foto’s neem en rolprente maak. Hy was die eerste private persoon in die land wat ‘n rolprentkamera en projektor besit het. Hy het die projektor in 1923 gekoop en het films oor die veld, diere, voëls en wildtuine gemaak wat hy gratis by skole en koshuise vertoon het. 

In die depressie-jare het Rudolph 'n rolprent in die Krugerwildtuin vervaardig en dit daarna vertoon. Die plaas waar Phalaborwa vandag is het aan hom behoort en dr Hans Merensky het dit later by hom gekoop. Die plaas Newington B het ook aan hom behoort. Hy was lief vir die bos, was ‘n goeie skut en het graag op sy Phalaborwa-plaas langs die wildtuin gaan jag.


Oubaas se ma is bo-op ‘n man wat sy doodgebyt het, geskiet

Rudolph lê onder Oubaas vasgevang terwyl hulle speel

Jag
Met een van die jagtogte wat Rudolph saam met sy mede Cullinanse prokureur, ‘n mnr Maloney, onderneem het, het ‘n groot tragedie gebeur. ‘n Leeuwyfie het ‘n swart man gevang en hulle moes die wyfie bo-op die man doodskiet.

Hulle het ontdek dat die wyfie nog welpies gesoog het. ‘n Groot soektog is op tou gesit en toe hulle die welpies kry, was dit vir Rudolph hartverskeurend om te dink dat hy die hulpelose wesentjies se ma doodgeskiet het.

Dit is toe wat hy en Maloney besluit het om die welpies self groot te maak. Klaarblyklik het Rudolph die mannetjie gevat en Maloney die twee wyfies.

Op die Coetsee-werf is die mannetjie mak grootgemaak en het die naam Oubaas gekry. Amelia vertel dat Oubaas haar oupagrootjie se uitkyk oor diere en jag heeltemal verander het. Hy het agter op sy leeufoto’s geskryf dat hy nie kon glo dat hy eens sulke diere geskiet het nie.

Rudolph het tot geëksperimenteer met musiek wat hy vir die leeu gespeel het om hom te kalmeer, en hy het ‘n film, genaamd ‘Logogotu’ oor Oubaas se lewe gemaak.

Hy wou graag vir Oubaas leer om te jag en het hordes donkies vir dié doel aangekoop in Matthupi se nedersetting, genaamd Boons.

Rudolph in sy jaguitrusting
.
.
.


Die Coetsee-gesin se huis in Cullinan. Die familie weet nie meer waar dié huis gestaan het nie, maar dit wil lyk asof dit dalk net die huis mag wees waar Cullinan Backpackers vandag is

Wandel
In Oktober verlede jaar het Arie Minnaar vertel dat hy en sy broer Willie gereeld by Wiekie Coetsee gaan speel het en dat hulle Oubaas dan aan ‘n leiband vir ‘n wandeling gevat het. Arie se familie het in 1859 die plaas Elandsfontein, waar Cullinan se diamante later gevind is, afgebaken.

Dit was met een só uitstappie dat Oubaas losgeruk het en ‘n donkie wat daar naby gewei het, aan die nek gegryp het. Dit is dan juis met donkies wat hy geleer is om te jag. Oubaas is daarna in ‘n draadkamp by die boord aangehou, maar een dag het trekmuile wat in die myn gebruik is te naby aan Oubaas se kamp op die soetgras kom wei en toe was die gort gaar. Die ogiesdraad het onder Oubaas se gewig meegegee en hy het ‘n muil aan die keel beetgekry.


Logogotu is die naam van die film wat Rudolph oor Oubaas se lewe gemaak het

Dieretuin
Die myn se reëls was streng en Oubaas moes dieretuin toe. Die ooreenkoms was egter dat die leeu daar afgelewer moes word. Die eerste probeerslag met ‘n motorfiets en sy-waentjie het nie gewerk nie en die Coetsees het Oubaas in hulle Oldsmobile gelaai.

Die dieretuin se kurator het ingestem dat Rudolph vir Oubaas kon besoek. Blykbaar het Rudolph altyd in Oubaas se hok gaan sit as hy vir sy sake moes voorberei en dan het die leeu tjoepstil met sy groot ou kop op die prokureur se skoot gelê.

Oubaas het twintig jaar oud geword en Rudolph het ‘n kiekie van Oubaas in sy dieretuinhok tot die dag van sy dood, op 9 Januarie 1977, in sy beursie rondgedra.  
 

© 2019 Die/The Bronberger