Teleurgesteld in Tant Miertjie se kos PDF Print E-mail
News - Briewe
Tuesday, 29 January 2013 15:19
Untitled Document

Danie Erasmus van die Bronberg-gebied skryf:
Ek geniet Vreethans se rubriek en beskou hom as gesaghebbend. Dit verseker ook dat kompetisie die mark dryf, as gevolg van die verrassingsbesoeke wat hy bring aan eetplekke in ons omgewing.

Ek en familie het ‘n baie onaangename ondervinding gehad. Ons was by ‘n familiebyeenkoms op Oujaarsdag waar ons ‘n niggie se 75ste verjaarsdag by Willem Prinsloo Landboumuseum se “Tant Miertjie se kombuis” gevier het. Ons het almal na die maaltyd uitgesien, want ‘n mens gaan spesifiek na hierdie restaurant toe om Boerekos te eet.

Toe ons plaasneem, was dit opmerklik dat daar geen broodjies met botter op die tafel was nie. Toe ons die glase met vonkelwyn vul was daar in twee gaste se glase dooie vlieë wat eers na die uithaal van die servet met die vul van die glase opgemerk is.

Die handelsmerk van “Tant Miertjie se kombuis” is die tradisionele Boerebrood met konfyt, maar was nêrens te vinde nie. Die volgende is aangebied toe dit opskeptyd is: rys, ‘n variasie van bobotie; bevrore groente (wortels, ertjies en mielies), skaapafval en gebakte beesrib.

Die bobotie was rooi van kleur en veels te warm as dit met die tradisionele gereg vergelyk word. Dit was oordoen met speserye en rissies. Die afval wat in ‘n waterige sousie met gekerfde wortels bedek was, was meer in die Afrika-tradisie as in die Boeretradisie voorberei.

My ma het my geleer dat alle dele so wit soos papier moet lyk – ‘n laaste oorstrooi met gebluste kalk wat oornag in ‘n koel plek gebêre is en in die more met koue water afgespoel word voordat dit pot toe gaan. Dalk sal so ‘n wenk vir toekomstige gaste tot voordeel wees.

Daar was geen fout met die gemengde groente nie. Geglasuurde patats of groenboontjies sou beter in die tradisionele milieu ingepas het. Die beesrib was redelik, maar baie droog. ‘n Skeppie vleissous en gebakte aartappels sou die beesvleis perfek afgerond het. Slegs ‘n bak beetslaai was die enigste slaai om van te kies.

Die nagereg het bestaan uit ‘n snytjie Kersfeeskoek, amper so dun soos ‘n skeermeslemmetjie, met vla en roomys. Laasgenoemde was nie voldoende vir ons twintig stuks nie.

Die koste van R100 plus R5 toegangsfooi het regtig nie die spyskaart regverdig nie. Die algemene indruk wat ‘n mens van die geboue en terrein kry is dat Ditsong by hierdie fasiliteit ‘n groot bestuursprobleem het. Dit is mees opvallend as ‘n mens die ablusiegeriewe gebruik. Dit stink baie erg – ‘n goeie kenmerk dat die bestuur afwesig is.

Mariana Zdara, bestuurder: Ditsong Willem Prinsloo Landboumuseum skryf:
Tant Miertjie se Kombuis by Ditsong Willem Prinsloo Landboumuseum word uitgekontrakteer. Die nuwe kontrakteur het in Maart 2012 begin. Tot dusver het ons nog geen klagtes oor die restaurant ontvang nie. Ek kan daarvan getuig dat die restaurant altyd baie netjies en skoon is.

Tant Miertjie se Kombuis is nie ‘n restaurant met ‘n volle spyskaart elke dag nie, omdat die besoekers by die museum dit nie regverdig nie. Die restaurant verkoop dus gedurende die week ligte etes. Verder is daar elke Sondag ‘n buffetete met tradisionele boerekos op bespreking.

Vir alle funksies soos verjaardae en eindjaar funksies moet daar ‘n vooraf bespreking gedoen word en sal die spyskaart bespreek word en aangepas word na elke kliënt se behoeftes. Daarna sal daar ook op die prys ooreengekom word.
Volgens die kontrakteur het hulle ‘n groepbespreking van 29 mense gehad vir die dag. Die spyskaart was bespreek met die organiseerder sowel as die koste. Die betrokke organiseerder was tevrede met die diens wat hulle gelewer het. Volgens haar het daar ook ‘n groepie van vyf mense opgedaag wat die Sondag buffetete se spyskaart wou hê.

Daar is aan hulle verduidelik dat die buffetete slegs op Sondae beskikbaar was. Verder is daar aan hulle verduidelik wat beskikbaar was en die kostes. Dus daar was geen vooraf bespreking vir die familiebyeenkoms waar mnr Erasmus sy niggie se 75ste verjaarsdag gevier het nie en hy was bewus van wat daar beskikbaar was teen watter koste.

Wat die gehalte van die tradisionele boerekos aanbetref sal dit opgeneem word met die kontrakteur, en al die wenke sal deurgegee word. Wat die Boerebrood en konfyt aanbetref, kan ons dit weereens slegs op bespreking aan besoekers lewer.
Wat die geboue en terrein aanbetref, ondervind die museum ernstige probleme met die Departement van Openbare Werke wat verantwoordelik is om ‘n kontrakteur aan te stel met 10 personeellede wat na die terrein en tuine omsien.

Die kontrakteur se kontrak het verval sonder dat die departement ‘n nuwe kontrakteur aangestel het. Dit beteken dat die museum met die reeds beperkte personeel en toerusting ook hierdie reuse taak moes aanpak. Verder help die museum ook om na een van ons suster museums se terrein om te sien.

Ten spyte van die probleme was die terrein in ‘n goeie toestand toe die meeste personeel  verpligte spesiale verlof geneem het vanaf 25 Desember tot 2 Januarie en net die nodigste personeel aangebly het. Ek neem aan dat met die baie reëns die gras baie hoog gegroei het en onversorg voorgekom het teen 31 Desember. Dieselfde geld ook vir die rioolstelsel wat voor Kersfees uitgepomp was, maar met die reëns volgeloop het teen 31 Desember.

Ditsong Willem Prinsloo Landboumuseum vra om verskoning vir al die ongerief wat die kliënt beleef het en verseker die lesers dat dit nie die normale stand van sake by die museum is nie.

 

© 2019 Die/The Bronberger