Lemoentjiedoring ‘n moet vir voëlkyk-tuin PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 29 January 2013 15:32
Untitled Document

As jy lief is vir voëls is die lemoentjiedoring een van die beste struike om in jou tuin aan te plant. Voëls soos tiptolle, spreeus, houtkappers, kransduiwe, bosduiwe, tarentale en fisante vreet dié struik se vrugte.

Die ryp vrugte is egter nie vir mense baie lekker nie, maar die sade van die vrugte is tradisioneel as ornamente deur die Zoeloes gedra. Hulle het ook die lemoentjiedoring se bas gebruik om ‘n medisyne wat disenterie behandel, te maak.

Die lemoentjiedoring se blare word deur koedoes, klipspringers, grys en blouduikers, asook vee gevreet en sy digte blaregroei bied die ideale nesmaakplek vir skaam voëls.


Die lemoentjiedoring kan tot vier meter hoog en vier meter wyd word
Foto: Wikipedia

Heining
Sy skerp stekels en digte groei maak die lemoentjiedoring ook ‘n goeie sekuriteit-versperring om ongewenste mense of diere uit ‘n spesifieke gebied te hou. Omdat hy so dig groei, kan dié struik ook aangeplant word as windskerm of hy kan as formele heining gesnoei word om privaatheid te bied of ‘n ongewenste uitsig te verdoesel.

Die lemoentjiedoring groei goed onder groot bome en kan in skaduwee of vol son floreer. Hy kan naby mure of plaveisel geplant word omdat hy nie ‘n aggressiewe wortelstelsel het nie. Boonop is dié plant baie gehard; hy kan koue weerstaan en kan droogte hanteer. Sy blare verwelk ‘n bietjie as hy baie droog is, maar hy herstel gou nadat hy weer water gekry het.

Vinnig
Jong plante groei vinnig, tot 800 cm per jaar, en kan gesnoei word om ‘n klein boompie te vorm. Hulle doen ook goed as buitenshuise potplante. As hy nie gesnoei word nie is dié immergroen plant ‘n slordige struik wat tot vier meter hoog en vier meter wyd kan groei. Die jong stamme is ‘n glanserige groen, terwyl ouer takke bruinerig tot liggrys word. Daar is klein, smal, groen stekels op die stamme.

Die blare is ‘n glanserige en helder groen aan die bokant en ‘n dowwer groen aan die onderkant. Klein stervormige wit tot roomkleurige blommetjies verskyn van September tot November. Die vrugte, wat van Februarie tot Mei gedra word, is vlesig en helder oranje.


Die vrugte
Foto: MD Hepplewhite & Witkoppen Wildflower nursery

Familie
Lemoentjiedoring, Cassinopsis ilicifolia, val in die wit peer familie. Hy het sy genus naam, Cassinopsis, gekry omdat hy so baie na die genus Cassine (soos die boslepelhout) lyk. Die Griekse woord ‘opsis’ vertaal min of meer as ‘lyk na’. Die spesienaam ilicifolia is omdat sy blare soos huls (“holly”) lyk.

Dit is maklik om dié plant van saad te kweek; 70-80% van alle sade ontkiem. Saai die saad in ‘n goed gedreineerde medium en plaas op ‘n plek met genoeg lig. As die saailinge die een-blaar stadium bereik, kan hulle in groter houers uitgeplant word.

 

© 2018 Die/The Bronberger