PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Tuesday, 29 January 2013 17:37
Untitled Document

Hy het nou al te lank op hierdie ou ondermaanse rondgedwaal om enige ernstige voornemens vir die nuwe jaar te neem en dit dan ‘rugbaar’ te maak, sê Gert Mossie. 

Al wat ‘n ou daardeur vermag, is om nuwe skietgoed vir jou skuldige gewete, jou vrou, jou skoonma en jou pêlle te gee. Skietgoed om die hele jaar lank te torring en te teem oor jou gebrekkige wilskrag, jou swak deursettingsvermoë en jou twyfelagtige karakter. En dít is glad nie verbruikersvriendelik vir die ‘voorspoed’ wat almal hom telkens vir die nuwe jaar toewens nie.

Daarom, sê Gert, het hy besluit om sy bek hierdie jaar na buite te hou en het hom in sy ‘eie binneste’ voorgeneem om in 2013 eerder antwoorde te probeer vind op ‘n aantal tergende vrae. Vrae wat hom oor die jare heen al aan’t wonder het.

Klein jakkalsies wat in die kopwingerd pla, soos byvoorbeeld; wat is ‘rugbaar’ nou eintlik? En hoekom kry ‘n mens ‘hond se gedagtes’ oor byvoorbeeld iemand wat nie honde wil aanhou nie, maar vrouens versamel soos wat ander ouens dit met seëls sou doen? Wie kan dan hond-haar-af-maak oor hoe ‘n hond se gedagtes werk en wanneer kry ‘n hond tog sy dag?

En die groter jakkalse pla ook, sê Gert Mossie. Dieper jakkalse, soos; hoekom wil ons almal baie graag eendag hemel toe gaan, maar tog is almal vrek bang vir die dood? Oor sake soos dié, wil hy in 2013 antwoorde soek.

Hy wonder of daar regtig mense is wat dit regkry om die ansjovissmeerbotteltjie se prop nommerpas weer terug te sit as dit eers oopgemaak is. Hy neem hom voor om vanjaar vas te stel hoekom verpakkingsmense in die algemeen dit so moeilik moontlik maak om by die aangekoopte kosse en goed uit te kom, sê Gert.

Hoekom, wonder hy, laat die nuwe, reusagtige groot apteke in ons gebied die hondsiek mense ‘n halfmyl loop om doer in die verste hoek in lang toue te loop staan en wag vir hulle voorskrifte, terwyl die gesonde mense hulle tjoklits en koeldrank voor by die ‘till’ kan aankoop?

Hy gaan hierdie jaar iemand opspoor wat hom sal vertel hoekom ‘n vrou om te dood toe nie haar mond kan toemaak as sy besig is om haar oge in te kleur nie. Die gewoonte van jong mammas en oumas om hulle monde wyd oop te maak as dit eintlik die baba, wat hulle met ‘n lepeltjie voer, is wat dit moet doen, laat hom ook nog altyd kopkrap. En hoekom is daar nie in ons taal ‘n vroulike vorm vir slegte mense nie. Is alle skurke, boewe, diewe, inbrekers, rampokkers, lieplappers en politikusse dan mans?
Dit is veral hierdie tyd van die jaar dat hy telkens wonder hoekom oorle Noag nie maar destyds daai twee muskiete en twee vlieë met ‘n plak bygekom het nie, sê Gert Mossie.

As hy nou weer vanjaar wegbreek na die mooi waters van Mosambiek toe, sê Gert, wil hy tog vir ‘n vulstasie-eienaar iewers langs die pad vra hoekom hulle die kleedkamers se deure sluit. Is hulle dalk bang iemand maak die goed skoon?

Hoekom verander die regering bykans al die mooi, onskuldige plekname in die land na iets bykans onuitspreekbaar, maar hulle raak nie aan daardie grenspos met die naam van ‘Houtkop’ nie?

En as ‘hulle’ nou eers begin om die Bronberg se plotplekname te verander, wonder hy of Witpoort eerste aan die beurt sal kom en of Donkerhoek net so sal bly?

 

© 2019 Die/The Bronberger