Dierbare buurvrou PDF Print E-mail
News - Briewe
Thursday, 28 February 2013 05:35
Untitled Document

Anoniem van Grootfontein skryf:
Daagliks lees ons van moord, verkragting en oor die algemeen wetteloosheid. Dan vertel ons mekaar hoe ons moet saamstaan, laer trek, uitkyk vir mekaar en al die mooi dinge.
Dan is daar ‘n buurvrou in Grootfontein. Eish. Eish.

So ruk terug het sy eksepsie geneem dat my honde durf blaf vir haar, en nie vir haar werkers nie. Sy nooi haarself toe oor en soos die Engelsman sou se, “panel beat” sy die klomp van ons. Sy ry oor Pa, looi vir sussie en toe sy vir vroutjie vat, toe vat sy. Neus af, bril stukkend, oog toe en pot blou tot in die hospital. Baklei kan die tannie.

Ons is nou in ons eer gekrenk na die pak en hardloop hof toe. Goeie en sterk saak. Dis toe ook so, en om haar “size 60” boude uit die tronk te hou bied manlief (vriendelike kêrel) so ‘n klein finansiële vergoedingtjie.  Hiervan hou sy ook nie maar sy teken en groet ons vriendelik met ‘n kort vet middelvingertjie na die hofverrigtinge.

Ons lê nou laag. Ons is mos bang vir nog ‘n pak, maar toe kom die moeilikheid se kind weer. Op 12 Februarie beland een van my Foxies ongelukkig in haar erf. Vroutjie skraap moed bymekaar en ry toe maar om en vra vriendelik of sy die hondjie kan kry. Dis mos nou nie te veel gevra nie, of is dit?

Watwou, Buurvrou weier en jaag summier vir vroulief weg. Ons hond in haar jaart, kan nie wees nie.

Nou staan ons aan die buitekant van die geëlektrifiseerde fort en beraam planne om hond se kind daar uit te kry. Buurvrou se tuinjong kom bied hulp aan maar vergeet dat buurvrou nie ‘n humorsin het nie. As hy durf help, is hy sy ou werkie kwyt, so voetsek en gaan aan met jou werk, word die arme man toegesnou.

Nou is dit Buurvrou se groot oomblik van glorie en ons magtelose gevoel van angs. Sy is mos goed verskans en word beskerm deur die elektriese heining en, wag vir dit, haar boerboel. Kyk, my Foxie van ‘n jaar oud is mos ‘n gevaar en gaan haar verskeur. Al hoe sy haarself kan beskerm is om die boerboel los te laat en aan te hits dat hy die Foxie maar moet eet. Dan kry die boel darem ook aandete.

Daar is ‘n gesegde dat ‘n hond en sy baas na mekaar aard. Jong, dis waar. Self gesien. Toe die tweetjies my gewaar waar ek op die draad afstorm, want nou gaan ek ‘n groot reddingspoging van stapel stuur, laat spaander altwee. Buurvrou in die huis in en hond se kind op die stoep. Lafaard hond.

Buurvrou staan nou in haar slaapplek en probeer deur die venster die boel oorreed om sy aandete te vat, maar soos ek sê, lafaard se kind.

Die storie het darem ‘n gelukkige einde. Alhoewel ek kan bevestig dat daai drade lewe in het, kon ek darem die ou Foxie red en het sy nie die boel se aandete geword nie.

Op ‘n ernstige noot, kan jy jouself indink om langs sulke bure te bly? Ek kan nêrens die term vrou, mense of enige iets van die aard gebruik nie want ek dink nie daar is plek in die samelewing vir sulke bure nie. Dink jou in, sy weier om die hond te gee, maar hits haar hond aan om die hond aan te val en jy moet staan en kyk.

Lekker nè, hier in dié Suid-Afrika.

 

© 2019 Die/The Bronberger