Gesprek draai weer na Oscar PDF Print E-mail
News - Briewe
Monday, 25 March 2013 14:19
Untitled Document

Juanita Jamneck van Mooiplaats skryf:  
Daar sit ek op my verjaarsdag-Sondag in een van my gunsteling restaurante saam met my familie en, soos by so baie ander geleenthede die afgelope tyd, draai die gesprek maar weer na die Oscar Pistorius-verhaal.

My man wou al 'n paar keer weet wat dink ek daarvan, want volgens hom is my gevoel gewoonlik reg.

Ek behou egter uitspraak voor want ek het nie al die feite nie maar is slegs op die onbetroubare media aangewese.

Die gesprek, weliswaar effe hard want van die vier mense aan tafel is ek al een wat behoorlik kan hoor, draai na die polisie se optrede. Ek speel onmiddellik duiwelsadvokaat soos wat ek so lief is om te doen. Die stelling is gemaak dat die polisieman dan nou self aangekla word van poging tot moord, ens.

“Die feit dat Hilton Botha weer aangekla word op 'n klag wat in 2011 terug getrek is, verbaas my want hoe kan die Staat hulleself so in die voet skiet deur dan nou hulle eie getuie in 'n slegte lig te wil stel,” sê ek.

“Dit lyk vir my,” gaan ek ewe driftig voort, “volgens die koerantberigte, dat die man in elk geval net sy werk probeer doen het en hoe verwag julle moes hy 'n wegjaende taxi stop? Vir hom waai en vra: Taxietjie stop asseblief?”

Die volgende oomblik staan 'n netjies geklede dame langs ons tafel, kyk my vas in die oë en sê: “Ek is Hilton se ma. Ek wil net vir jou dankie sê . . . Jy is die enigste persoon wat hom nog verdedig het.”

Daarmee draai sy om en stap weg. Die knop in my keel het my sommer doodstil gemaak. Onthou maar daar is ander mense wat deur al die bespiegelinge geraak word.

 

© 2019 Die/The Bronberger