Wees soos ?n windpomp PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Monday, 25 March 2013 16:44
Untitled Document

“Tja, waar vlieg die jare tog nie heen nie, nè?” Groot Piet het hom stewig op die kroegstoeltjie in ‘sy’ hoek vasgewig. Sy gebottelde verversing hou hy bykans liefderik in sy vet vuis voor sy bors vas.

Die ander ouens in die kuiergat weet al: Groot Piet praat nie baie nie, maar as hy die dag ‘n ding op die hart het, is dit ‘n diep en ‘n gewigtige ding.

“Geen genesing bestaan vir die gewone verjaarsdag nie,” sê Groot Piet. “En die bier wat deur die blaas is, sal die dors nooit weer les nie.” Piet staar stip na die koedoehorings hoog teen die muur, so al asof hy dink aan die biltong wat nooit weer aan die bok sal loop sit nie.

Allan Prentjies sit sy koerant neer en vra versigtig: “Kan ek vir jou nog ‘n bier koop, ou Piet? Verjaar jy dan vandag?”

“Nee, ek skimp nie, ek het in Desember al verjaar, maar die tyd stap vorentoe en die mensdom boer agteruit en jy kan maar daai bier koop, dankie,” sê Groot Piet.

“Dis oor vandag se ouers gans te gehoorsaam aan hulle kinders is, dat die ou mensdom so agteruit boer,” sê Gert Mossie nou. “Bandeloos, rigtingloos en sedeloos.”

“Dis nes jy daar sê,” sê Piet. “Toe ons nog kinders was, was kinders nog kinders en grootmense was grootmense en hulle was wys en hulle was reg, al was hulle verkeerd. Grootmense het gepraat en kinders het geluister.”

“Ons was windpompe. Vandag se laaities is boormasjiene,” sê Piet. “Ek het geluister toe my oorle pa my die dag daar op die ou Climax-pomp dié waardevolle lewensles leer: “Pietie,” het oorle pa gesê, “jy moet vandag mooi na my luister.” “Dis goed, oorle Pa, ek sal mooi luister.”

“Jy word nou mooi groot, Pietie, en een van die dae is jy bekwaam. Ek wil hê jy moet soos hierdie ou windpomp wees, Pietie. Soos hierdie ou Climax, moet jy deur die lewe gaan en nie soos ou Swart Dawid se masjien wat hierdie einste gat geboor het nie.”

“Wees soos ‘n windpomp, Pietie, en nie soos ‘n boormasjien nie,” het oorle pa gesê. “Staan liewer op een gat en pomp, as om altyd nuwe gate te loop soek om te boor.”

“En van toe af tot vandag toe nog, is ek ‘n windpomp. Vandag se laaities is boormasjiene,” sê Groot Piet.

Piekok
Laat hom dink, sê Gert Mossie. Dit is goed om die mooi en die waarhede uit die verlede te neem en daarop te bou, maar soms moet gesonde verstand en die tegnologie ‘n rol speel.

Vat nou maar die storie van die ‘piekok’ en die weerlig wat vrind Hennerie van Tzaneen vertel:
’n Jaar gelede het KZN se minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Nomsa Dube, gesê sy gaan die departement van wetenskap en tegnologie vra om ondersoek in te stel na die oorsaak van weerlig, vertel Hennerie.

Dit was ná sewe mense naby Eshowe deur weerlig doodgeslaan is. Sy wou glo ook weet hoekom dit net swartmense is wat deur weerlig raakgeslaan word.

“Dalk,” sê Hennerie, het sy tuinman, Samuel, die antwoord vir die minister en hoef sy nie die mense van wetenskap en tegnologie met die netelige probleem op te saal nie.”

Onlangs het ‘n kwaai elektriese storm op Tzaneen toegeslaan en die volgende dag wil Samuel min of meer dieselfde as die agbare minister weet – “waar kom daai laaitnieng vandaan?” Hennerie probeer toe verduidelik van statiese elektrisiteit op 'n makroskaal, maar dit maak geen indruk op Samuel nie.

“Nee,” sê Samuel, hy dink dis die ‘piekok’ wat die ‘laaitnieng’ maak. “Die ‘piekok’,” sê hy, “laaik van vliegmiere en as dit reën, dan vlieg die ‘piekok’ in die hoge boom in om die vliegmiere te vang. En die strale van die son blink van die ‘piekok’ se vere af, en dit maak die laaitnieng. En daai annerman onder langs die spruit, hy't baie ‘piekoks’, dis hoekom die laatnieng so kwaai was hier by ons,” verduidelik Samuel.

Hennerie sê hy gaan Samuel se verklaring aan die minister voorlê en hy hoop dit sal vir haar gemoedsrus bring en baie heilsame piekokmaaltye vir die weerliggeteisterde mense van Zoeloeland.

 

© 2019 Die/The Bronberger