Brandbach bedreig deur mynbedrywighede Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 25 March 2013 16:48
Untitled Document

Die Brandbach Bewarea, Onverwacht gemeenskap en Cullinan Boere-Unie het op 5 Maart ‘n gemeenskapsvergadering gehou om dié landelike gebied teen sandmyn-bedrywighede in die Malanspruit se vleilande te beskerm.

Infrasors is die eienaar van gedeelte 63 van die plaas Brandbach 471JR en het aansoek gedoen om, as Delf Cullinan, silikasand daar te myn. Infrasors is die sambreelmaatskappy waaronder die Lyttelton Centurion dolomietmyn, die Marble Hall kalksteenmyn en Delfsand in Pienaarspoort ook val. Afrimat het op 1 Maart die beherende aandeelhouer van Infrasors geword.

Verlede maand het ons berig dat Pienaarspoort en Elandshoek-inwoners al jare veg teen dit wat hulle Delfsand se roekelose mynbedrywighede noem. In Junie verlede jaar het ons berig dat die Departement van Waterwese ‘n kriminele klagte teen Delfsand gelê het vir die oortreding van die Nasionale Waterwet.

Etienne Coetzee, voorsitter van die Brandbach Bewarea, sê dat dieselfde onwettige bedrywighede nou in hulle gebied plaasvind en dat die mynmaatskappy reeds begin het om ‘n pad deur die vleiland te bou sonder toestemming van Waterwese.


Etienne Coetzee van die Brandbach Bewarea en Joan du Toit van die Cullinan Bewarea aan die woord by die vergadering
Foto’s: Elsabé Maré

Brandbach
Infrasors het in 2009 ‘n aansoek om in Brandbach vir silikasand te myn by die Departement vir Minerale en Energie (DME) ingedien. Die gemeenskap het die aansoek teengestaan.

 As deel van die vereistes is die aansoek verwys na die Gautengse Departement vir Landbou en Landelike Ontwikkeling (GDLLO) vir ‘n goedgekeurde omgewingsplan asook na die Departement van Waterwese wat goedkeuring moes uitreik omdat die voorgestelde myn teen ‘n vleiland in die Malanspruit geleë is.

Op 4 Julie 2012 is die aansoek vir ‘n goedgekeurde omgewingsbestuursplan deur GDLLO afgekeur. Infrasors het appèl aangeteken en die Brandbach Bewarea het toe weer daarop beswaar aangeteken. 
Op 13 Januarie vanjaar is die bewarea deur die MEC in kennis gestel dat sy die aansoek om appèl deur Infrasors gehandhaaf het. Die aansoek is terug verwys na die hoof van die departement vir verdere ondersoek.

Die MEC het sekere voorwaardes voorgestel wat in die besluit vervat moet word. Indien die omgewingsbestuursplan goedgekeur word, word dit aanbeveel na die DME, wat dié plan as deel van hulle voorwaardes vir die mynlisensie insluit. Dit sluit Waterwese se beheerplan in.
Die myn mag nie met hulle mynverwante aktiwiteite begin voor DME nie die mynlisensie uitgereik het nie en voor hulle hersoneringsaansoek nie by die Tswane Metro-Raad goedgekeur is nie.


By dié lewendige vergadering het verskeie lede van die gehoor hulle sê gesê

Begin
Op 16 Januarie het die mynmaatskappy begin om ‘n pad van meer as 10 meter breed en 1 100 meter lank deur die vleiland te bou sonder enige toestemming van Waterwese. Hulle het terselfdertyd begin met die konstruksie van hulle aanleg op die plaas.

Op 22 Januarie het Trevor Robinson, Infrasors se hoofuitvoerende beampte, ‘n persverklaring uitgereik waarin hy verklaar dat die MEC en GDLLO die omgewingsbestuursplan goedgekeur het en dat Waterwese ook goedkeuring verleen het.

Volgens Brandbach Bewarea voorsitter, Etienne Coetzee, is dié inligting verkeerd en het Waterwese slegs goedkeuring vir algemene waterverbruik vir landboudoeleindes gegee, en nie om met ‘n sandmyn in die vleilande van die Malanspruit te begin nie.

Waterwese-beamptes het die Brandbach-terrein op 24 Januarie besoek en bevestig dat geen aansoek om langs die vleilande te myn, goedgekeur is nie. Hulle is besig om die saak te ondersoek. Die bewarea het ook klagtes by die Departement van Omgewingsake ingedien, wat die saak nou ondersoek.


Verteenwoordigers van die Onverwacht swart Afrikaner-gemeenskap

Afhanklik
Die Brandbach en Onverwacht-gemeenskappe is afhanklik van die Malanspruit rivierstelsel. Dié stelsel voed die Elandsrivier wat die Renosterkopdam van water voorsien en in die sensitiewe Olifantsrivier invloei.

Die gebied bestaan hoofsaaklik uit boere wat hulle lewensbestaan uit landbou maak. Die padinfrastruktuur is ontwerp vir landbouverkeer en nie ‘n vloot van 20 tot 40-ton vragmotors op ‘n daaglikse basis nie.

Etienne sê dat die “besoedeling en bedreiging van ons ondergrondse water, die vernietiging van die fauna en flora, die verwoesting van ons oeste en nadelige beïnvloeding van ons vee, deurnag gedreun van groot masjinerie asook die onafwendbare de-evaluering van ons eiendomme” die Brandbach Bewarea gedwing het om aksie te neem teen die onwettige mynbedrywighede.

Om deel te word van dié aksie, kontak Etienne Coetzee, voorsitter van die Brandbach Bewarea, by 078-120-0162 of This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it ; ondervoorsitter Hentie O'Callaghan by 072-678-0500 of This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it ; sekretaresse Jenni von Willich by 082-552-9580 of This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it ; of Braam Lourens by 082-575-0031 of This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

Advies kan ook bekom word by Joan du Toit, voorsitter van die Cullinan Bewarea by 082-681-5122 of This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it ; Reline Badenhorst by 082-381-8336 of This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it ; en Karen Yssel by 082-575-0222 of This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .


Boere in die Brandbach-omgewing het notas geneem oor hoe om saam te staan teen mynbedrywighede

 

© 2020 Die/The Bronberger