My ma se mense PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Monday, 29 April 2013 12:52
Untitled Document

My ma se mense

Nie net raak sy korttermyn geheue deesdae uiters swak nie, sy korttermyn geheue raak deesdae uiters swak, sê Gert Mossie. Die diep frons op Grootpiet-in-die-hoek se voorkop verklap sy intense nadenke hieroor.

Tog snaaks, sê Gert Mossie, hoe verleentheid die een ding is wat ‘n mens nooit vergeet nie. Jy kan so oud word soos jy wil, die verleentheid wat jou langs jou lewenspaadjie oorgekom het, dié sal jy altyd onthou.

Dit laat hom nou weer dink aan 'n baie lankalse voorval: Dié dag het hy sy stomme ma, in sy brose onskuld natuurlik, in die diepste denkbare verleentheid gedompel, en hy self het ‘n goeie skeut daarvan ingekry, sê Gert.

Hulle was net mooi op 'n nuwe plattelandse dorpie gevestig toe sy ma op 'n dag besluit die tyd is ryp om die sosiale wiele aan die rol te sit – soos dit in daai dae die gebruik was.

Al die voorvroue van die dorp word genooi vir 'n koekentee, sê Gert Mossie. Elkeen wie se mans iets en iemand op die dorpie is kry ‘n uitnodiging. Mevrou dominees, mevrou dokter, mevrou die burgemeester, mev die skoolhoof, die vrouens van die bankbestuurder, die koöperasiebestuurder, die hooflanddros en diverse ander pilare van die gemeenskap se wederhelftes ruk die dag op. 'n Opperste ou spul poue, uitgevat in hulle pronkerigste vere, sê Gert.

Nou was sy oorle ma 'n welsynwerker van beroep en het sy ingeval met haar liefdestaak knap ná hulle intrek in die nuwe dorpie.

Die drie kinders, waarvan hy die jongste was – en eintlik nou nog is – sê Gert, en hulle pa ook, was van die gewoonte om na Ma se 'welsyngevalle' te verwys as 'my-ma-se-mense'. 

Die kinders was nie aldag te partydig vir my-ma-se-mense nie, veral omdat die ‘gevalle’ heel te dikwels die trotse nuwe eienaars van Gert-hulle se gunsteling speelgoed en klere geword het.

Ewenwel, sê Gert, hy hou hom die dag van die kenmekaar besig in die voortuin toe 'n erg gehawende vrou met 'n baba op die heup en 'n string trensige snotneusies aan die hand, opdaag. Die stomme vrou se oge is potblou getimmer. Sy wil vir Ma sien. Dringend.

Die koekentee daar binne het net mooi aan die gang begin kom.

Duidelik is dit 'n noodgeval en hy waag hom in die pouhok in om vir Ma te loop roep – al is hy voor die tyd vreeslikhede voor die oë gesweer as hy hom nie skaars hou en gedra nie, sê Gert Mossie.

Van die sitkamer se deur af probeer Gert om Ma se aandag met kop- en handbewegings te trek, maar tevergeefs. Ma beduie hy moet inkom. Eers moet die kleine Gertjie sy mooi maniertjies voor die poutannies uitstal en hulle op- en aanmerkings verduur, voor Ma hom laat praat: “Dis Ma se mense. Hier buite,” blaker hy dit uit. “Nou, maar toe-toe, nooi hulle binne,” sê Ma, vas onder die indruk dat dit nog van haar uitgelese gaste is wat opgedaag het.

Die grenslose verleentheid van sy ma en die naakte skok in die uitdrukkings van die span pouvroue toe hy met my-ma-se-mense by die voorkamerdeur inkom, sal hom altyd bybly, sê Gert. ‘Maar het ek julle al die storie vertel van die verleentheid met my-ma-se-mense?’

 

© 2019 Die/The Bronberger