Eerste weermagbevelvoerder sterf tragiese waterdood as rebel PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Monday, 29 April 2013 12:58
Untitled Document

Angie Kleijn

Van Boeregeneraal in die oorlog tot voorsitter by die Vrede van Vereeniging-samesprekings; van die eerste bevelvoerder van die Uniale Weermag tot ‘n tragiese waterdood in die 1914 rebellie . . . Hoe het dit gebeur dat genl Beyers, ’n sterk swemmer, in die Vaalrivier verdrink het?

Die verhaal van Christiaan Frederik Beyers se vervolging deur regeringstroepe, wat hy knap tevore nog aangevoer het, het gemoedere destyds hoog laat loop.


Genl Beyers is in 1912 as eerste kommandant-generaal van die Unie gekies

In ‘Van huis tot paleis . . . só is ou Pretoria se siekes en soldate versorg’, het ons verlede maand vertel dat genl Beyers sy huis in Sunnyside geskenk het om ‘n ses-bed hospitaaltjie te begin vir verarmde Boere wat na die vrede in 1902 nie mediese sorg kon bekostig nie.

Tog is dié man aanvanklik burgerskap in die ZAR geweier omdat hy in die Kaapkolonie gebore is.


Christiaan Frederik Beyers en Mathilde Konig se troudag
Foto: BidOrBuy

Gebore
Christiaan Frederik Beyers is in 1869 naby Stellenbosch in ‘n welvarende familie van Bolandse wynboere gebore. ‘n Ramp het sy gesin vernietig toe Christiaan in sy tienerjare was. Sy pa het geld in ‘n bank belê wat weke later moes sluit en knap daarna is sy pa dood. Christiaan moes in sy pa se plek boer, maar kon darem skool voltooi en aan die Victoria Kollege (later die Universiteit van Stellenbosch) studeer.

In 1889 verlaat hy die Kaapkolonie om werk te soek in Pretoria. Nuwelinge in die ZAR moes 14 jaar wag om genaturaliseerde burgers te word en as Kapenaar kon hy geen vaste betrekking by die staat kry nie.

Christiaan het mettertyd as prokureur gekwalifiseer en in 1894 ‘n praktyk in Boksburg geopen. Hy is met Mathilde Konig, ‘n gesofistikeerde vrou wat Frans, Duits, Afrikaans en Engels vlot kon praat, getroud. Hulle huwelik was kinderloos.


Genl Beyers in die Engelse Oorlog

Burger
In 1896 in die Eerste Vryheidsoorlog was Christiaan ‘n vrywilliger teen die Jameson-inval. Dit het hom gehelp om gouer vir ZAR burgerskap te kwalifiseer.

Met die uitbreek van die Engelse Oorlog in 1899 het Christiaan pas 30 geword en het as ZAR burger aan al die belangrike veldslae aan die Natalse front deelgeneem.

Die gebrek aan dissipline onder die Boere het hom gepla en hy en eendersdenkendes het ‘n veldkornetskap gevorm. Christiaan is as assistent-veldkornet aangestel en by die gevegte naby Belfast en by Donkerhoek (Diamond Hill) het hy bevel oor klein groepies gehad. Sy Donkerhoek-sukses was so merkwaardige dat kommandant-generaal, Louis Botha, daarvan gehoor het.

Na die val van Pretoria in Junie 1900 het Christiaan ‘n krygsraad as plaasvervanger bygewoon. Hier het hy as junior geweier om stil te bly oor onbekwaamheid op die slagveld.


Groepfoto met pres Kruger, sittend in die middel, en genl Beyers, tweede van links in die voorste ry,
in die laat 1890's
Foto: Zuid-Afrikahuis

Rang
Louis Botha het in September 1900 begin om die ZAR militêr te herorganiseer, en Christiaan is tot die tweede hoogste rang, assistent-kommandant-generaal, bevorder en na die noordelike distrikte van Waterberg en Zoutpansberg gestuur.

Natuurlik was daar weerstand teen dié skielike bevordering en aanstelling van ‘n bloedjong man van buite die distrikte. Christiaan het die noordelike distrik, wat byna uit die oorlog onttrek het, weer gemobiliseer en is van toe af deur algar as genl Beyers aangespreek.

Op 13 Desember 1900, toe oorlogsmoegheid baie Boere verlam het, het hy en genl De la Rey ernstige verliese aan ‘n Engelse mag naby Krugersdorp toegedien. Dit het die Boere se moraal so verstrek dat hulle vir nog bykans 18 maande daarna met die stryd kon voortgaan.


Genl Beyers se vertrek na Europa, 1912
Foto: Zuid-Afrikahuis

Vrede
In 1902 was genl Beyers die voorsitter by die samekoms op Vereniging om vredesvoorwaardes te bespreek. Hy was aanvanklik teen vrede gekant en in ‘n lang toespraak het hy as volg afgesluit: “Ek moet my gewete volg . . . my gewete is by my nommer één en solank dit so bly, moet ek teen die voorstel (om oor te gee) stem.”

Later die aand lees hy in sy tent in die Bybel en sy oog val op Sagaria 4:6: “Niet door kracht, noch door geweld, maar door Mijnen Geest zal het geschieden, zegt de Heere der heirscharen.”
Daarna het hy hom nie meer teen vrede verset nie.


Genl Beyers se Daimler waarin genl De la Rey doodgeskiet is
Foto: Vaalrivier die Broederstroom of Die Uiteinde van Generaal CF Beyers

Praktyk
Ná die oorlog het genl Beyers ‘n prokureurspraktyk in Pretoria geopen, en is as lid vir Waterberg tot die Transvaalse parlement verkies. Hy is ook tot Speaker verkies. Later, met Uniewording, is hy vir die kiesafdeling Pretoria-Suid tot die parlement verkies. Hy het in dié tyd ook vir Transvaal in Curriebeker-wedstryde gespeel, was ‘n ywerige voorstander van Christelik-Nasionale Onderwys en het hom teen benadeling van Afrikaners en hulle taal beywer.

In 1912 is hy as eerste kommandant-generaal van die Unie gekies en het die grondslag vir die Suid-Afrikaanse Weermag gelê. Fondse was beperk en daar kon nie ‘n voltydse weermag wees nie, net ‘n burgermag met ‘n permanente offisierskorps.

Genl Beyers het oorsee gegaan om beste praktyke te bestudeer en het ook die Lugkorps, voorloper van die SA Lugmag, gestig. Dit was sy droom dat die verdedigingsmag onafhanklik sou bly, en dié beleid het hom met Louis Botha en Jan Smuts laat bots.


Dit is hoe genl Beyers gelyk het toe hy die dag van sy dood die water ingegaan het
Foto: Vaalrivier die Broederstroom of Die Uiteinde van Generaal CF Beyers

Rebellie
Toe die Eerste Wêreldoorlog twee jaar later uitbreek, het genl Beyers nie kans gesien om aan die Britte se kant teen Duitswes-Afrika te veg nie. Hy was in ‘n benarde posisie toe die Rebellie ontwikkel.

Sekere offisiere wou die verdedigingsmag gebruik om die ou republieke te herstel; Genl de Wet wou gewone burgers oproep om die republieke te herstel; en genl de la Rey het nog oorweeg wat om te doen toe hy dood is.

Genl Beyers het op 15 September 1914 as bevelvoerder van die weermag bedank. Daardie middag het hy sy motor gestuur om genl De la Rey van Johannesburg na Pretoria te bring. Hulle het die aand na die Potchefstroomse militêre kamp vertrek waar genl Kemp ook bedank het.

Onderweg het hulle verskeie polisie padblokkades gesien en geweier om te stop, min wetende dat die blokkades opgestel is om die Fosterbende te vang. By Langlaagte het die polisie op die snelverbybewegende motor gevuur en ’n opslagkoeël het genl De la Rey se lewe beëindig.


FJ Wagenaar versier genl Beyers se graf op sy verjaardag, 27 September, in 1916
Foto: Zuid-Afrikahuis

Protes
Genl Beyers het geglo dat die regering met protes beweeg kon word om die aanval op Duitswes te kanselleer. Die regering het egter nie tussen genl Beyers se gewapende protes en rebellie onderskei nie en het genadeloos opgetree.

Genl Beyers wou nie die wapen teen mede-Afrikaners opneem nie en sy opdrag was dat manskappe net moes skiet om die vlug te dek, maar nie om dood te skiet nie.

Uiteindelik was die “protes” vir genl Beyers se kommando een lang vlug tot hulle op 8 Desember 1914 teen die Vaalrivier in vloed vasgekeer is. Omdat slegs rebelle-offisiere vervolg sou word, en nie gewone burgers nie, het hy sy manskappe agtergelaat en naby Makwassie deur die rivier begin swem, maar toe onder die water verdwyn.

Genl Beyers was ‘n sterk en gesonde 45 jaar oud en sy manskappe kon nie glo dat ‘n goeie swemmer soos hy sou verdrink nie. Tog is dit wat op sy doodsertifikaat staan. Daar was glo geen bewyse dat hy geskiet is nie.

 

© 2019 Die/The Bronberger