Suikerbossiestraat se sinkhuise is nasionale erfenis PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Wednesday, 16 July 2008 00:00
Untitled Document

Cullinan word gekenmerk deur sy sink- en sandsteenhuise uit die vroeë 1900’s. Alle historiese geboue in dié dorp is as nasionale erfenis verklaar. Elsabé Maré het ’n draai gaan maak by die inwoners van Suikerbossiestraat se sinkhuise.

Die eerste huis op Cullinan is in 1903 vir die algemene bestuurder van die diamantmyn, William McHardy, gebou. Oaklaan 101 het sedertdien ’n museum geword, bekend as die McHardy Huis.


Die pragtige huis van Andrew en Liza Brown, Suikerbossiestraat 10.

Met McHardy se afsterwe in 1913 het die myn sy vrou en kinders die reg gegee om lewenslank daar te bly. ’n Tyd nadat die twee susters, Evalena en May, in 1984 oorlede is, het die myn die huis as museum verklaar. So het wonderlike en oorspronklike meubels, foto’s, skilderye en die leefwyse van daardie tyd behoue gebly.

Hierna volg tien myn kothuise wat vir hoërang amptenare gebou is waar JanHarmsgat se Agterplaas en ander ondernemings vandag is. Gewone werkers het in tente gebly of sinkhuise wat hulle self gebou het.


Wees vroegtydig gewaarsku.

Sinkhuise
Ongeveer in 1907 het die myn vir sy amptenare besonderse sinkhuise in Mountain-rylaan gebou, of Suikerbossiestraat soos dit vandag bekend staan. Hulle word nog almal bewoon en sedertdien is alle historiese geboue as nasionale erfenis verklaar.

Suikerbossiestraat nommer 10 is so ’n huis. Dis die trotse woning van Andrew en Liza Brown wat al 12 jaar hier bly. Volgens Liza is dit ook die huis waar die estydse TV-reeks Mattewis en Meraai geskiet is.


Die heerlike sitstoep van Hugo en Maudi deur die venster gesien.

Die ou sinkhuise het hulle eie bekoring.
.

Die stasietjie waar almal op-enafgeklim het, was sommer tydelik gebou van hout op die treinspoor na die myn wat ongeveer 25 tree voor die huis is, en vandag nog in myngebruik is. Suikerbossiestraat 12 behoort aan Hugo en Maudie Wehmeyer. Hugo sê hulle adres is Suikerbossiestraat 12, Maroelalaan 12 en Mountainview-rylaan 12, want dis almal dieselfde huis.

Bou
Maudie vertel hoe so ’n sinkhuis gebou is: jy kon van ’n katalogus’n een- of meer-slaapkamer huis bestel, dit invoer en dit vul met songedroogde stene. Daarna is dit oorgetrek met sink. Selfs die Cullinan sinkstasie is so saamgestel.

Dié stasie is in 1906 beginbou, in 1907 voltooi, en hy word tans gerestoureer. Later is sandsteenblokke gebruik om byvoorbeeld die Jonker Huis in Oaklaan 109 te bou waar daar vandag ’n verskeidenheid ondernemings gehuisves is.

Sandsteenblokke is ook gebruik vir die Nederlandse Bank, nou Nedbank, in ongeveer 1908, die Cullinan Ontspanningsklub (die Rec) en die St George Anglikaanse Kerk, ontwerp deur Sir Herbert Baker.

Die dorp het ontstaan as ’n gevolg van die diamantmyn en die werkers en dienste wat hy nodig gehad het om dit te bedryf. Vandag is dit ook grootliks so, maar die dorp brei uit.

Terwyl die inwoners en besoekers rustig hulle gang gaan, troon die diamantmyn nog statig oor die dorp en baken sy gebied af, want om hier te bly, is om deel te wees van ’n lewende museum waarin die myn die hoofkarakter is. Inligting: John Lincoln


?n Ou poskaart van Oaklaan-Oos vanaf die kruising by die treinspoor. Die Nedbank-gebou is regs en ou melkery links. Aan die bopunt is die Anglikaanse Kerk, ongeveer 1910.

 

© 2019 Die/The Bronberger