Motorkapings, -diefstal neem toe Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 28 May 2013 15:02
Untitled Document

Motor-kapings blyk aan die toeneem in die gebied te wees.

Onlangs is ‘n bakkie helder oordag by die vierrigtingstop waar die Ou Bronkhorstspruitpad die Cullinan/Rayton pad kruis, gekaap.

Die 71-jarige mnr Vermeulen van Rayton is om 10.30 vm op Vrydag 26 April in sy silver Ford Bantam bakkie gekaap.

Drie mans met messe het hom blykbaar vir twee ure in die bosse langs die pad aangehou en alle inligting oor sy bankrekeningnommers en geheime kodes uit hom gekry. Gelukkig het hulle hom naby die N4 Donkerhoek-afrit afgelaai. Dit word vermoed dat boewe  daarna met die bakkie Mamelodi toe is.

Op Saterdag 27 April is ‘n Toyota Taz by die Cullinanse rugbyklub gesteel. Die diefstal het 5 nm gebeur met Cullinan se wedstryd teen Brits.


Karen Yssel van die Cullinan Gemeenskapspolisiëringsforum

Voorsiening is nou gemaak dat ondersteuners wat na rugbywedstryde gaan kyk, hulle motors voortaan by die toegespande gronde van die gimnasium langsaan kan parkeer, waar ‘n motorwag aan diens is.
Onlangs het diewe ook weer probeer om ‘n voertuig uit die parkeergrond in laer Oaklaan op Cullinan te steel, waar ‘n motor vroeër vanjaar voete gekry het.

Vroeg op Maandagoggend 6 Mei is twee vroue in Refilwe buite Cullinan gekaap. Volgens Karen Yssel van die Cullinan Gemeenskapspolisiëringsforum het die slagoffers in Refilwe gekuier en toe hulle wou ry, het vier gewapende mans hulle gekaap.

Op pad na Onverwacht het die kapers glo beheer oor die motor verloor, en dit het gerol. Die twee vroue van 30 en 35 jaar is in 'n hospitaal opgeneem. Twee van die kapers is op die toneel in hegtenis geneem, maar volgens die slagoffers was vier rowers betrokke. 'n Vuurwapen is op die toneel gekry.

Dit blyk ook dat Nissan 1400 bakkies baie gesog onder motordiewe is. Minstens vier van hierdie bakkies is sedert die begin van die jaar in die Mooiplaats/Boschkop-gebied gesteel en twee mislukte pogings om van dié bakkies buit te maak, is aangemeld.

 

 

© 2020 Die/The Bronberger