Bronnie moet landwyd versprei word PDF Print E-mail
News - Briewe
Monday, 29 July 2013 00:15
Untitled Document

Dirk Myburgh van Brummeria skryf:
Wat die artikel in julle Junie-uitgawe oor my en my gesin betref, kan ek net my hoogste waardering uitspreek vir die besondere volledigheid en kunstige samestelling.

Ek het vir my vrou voor die tyd gesê dat ek nie kan verwag dat julle meer as so ‘n gedeelte van ‘n bladsy sal kan afstaan vir ‘n artikel wat geen finansiële voordele vir die blad inhou nie. Met groot verrassing en stom van verbasing het ons nie net ‘n afgeskeepte beriggie nie, maar ‘n lang stuk, uiters volledig en professioneel geskryf met die duidelikste foto’s wat dit vergesel. Dis fantasties!

Maar natuurlik getuig Die Bronberger van groot kunstenaars wat met die hoogste professionaliteit die uitleg van elke artikel, verhaal en advertensie op so ‘n wyse behartig en rangskik dat die blad ‘n kunsskepping op sy eie is.

In elk geval, die blad vergelyk met die beste drukwerk wat in die Afrikaanse mark beskikbaar is. Alles lees so interessant en boeiend en selfs net die voorreg om so ‘n kunswerk in die hande vas te hou, bied genoeg rede om te vra of julle nie maar met artikels en advertensies wat julle landswyd kan bekom, dit aan die hele land beskikbaar kan stel nie. Die Bronberger is veels te gesofistikeerd vir die betreklike klein leserskring aan die ooste van Pretoria.

Ek besef natuurlik dat dit ‘n geweldige taak sal wees en baie organisasie sal verg om dit selfs net in die hele Pretoria te versprei, maar ek is ook van oordeel dat as dit te koop aangebied word, julle ‘n goeie afset sal kry. Dis werd om daarvoor te betaal!

My bede is in elk geval dat Die Bronberger van krag tot krag sal gaan en dat die uiters bekwame personeel aan die stuur, elke dag die nodige krag en gesondheid vir die werk sal ontvang. Die seën van die Here word jou en jou medewerkers toegebid.

 

© 2019 Die/The Bronberger