Heldhaftige Giepie maak mense misdaad-bewus Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 29 July 2013 02:25
Untitled Document

In Rayton se wêreld word die 19-jarige Giepie (Gideon) Niemand deesdae as ‘n held beskou. Giepie het op Dinsdag 16 Julie die kaping van sy ouers se bakkie gefnuik deur onverskrokke agter op die bak van die bewegende voertuig te spring. Hy het die kaper deur die kajuit se oopskuifruit met die vuiste bygedam. Die voornemende kaper het beheer oor die Nissan 1400  verloor, ‘n stopteken platgejaag en met die bakkie deur ‘n betonmuur gebars.

Giepie is in die proses van die bakkie afgeslinger en het ernstige hoofbeserings opgedoen. Hy is per helikopter eers na die Kalafong Hospitaal geneem vanwaar hy na die Steve Biko Hospitaal oorgeplaas is.


‘n Foto van Giepie wat verlede jaar geneem is

Teen druktyd was die jong man nog in die hoësorgsaal, maar was daar volgens sy suster, Brenda Niemand, ‘n merkbare verbetering. Hy het sy bewussyn herwin en met die mediese personeel gepraat. In daardie stadium het dokters gesê dat hulle wag vir die swelling op Giepie se brein om te sak voor daar oor die aard van sy beserings en verdere behandeling besluit sou word.

Die kaper is ná die voorval deur medepligtiges in ‘n wit Ford Fiesta opgelaai en hulle het ontvlug. Drie mans is later in die week weer deur inwoners in dieselfde motor, sonder nommerplate, gesien waar hulle stadig in die dorp se strate op en af gery het.

Die Niemand-gesin het by vriende, die Pieterses, in Pennystraat gekuier toe die kapers probeer het om die bakkie, wat op die sypaadjie gestaan het, te steel. Giepie se meisie, Johanita Pieterse, woon by haar ouers in Pennystraat en Giepie werk saam met Johanita se pa, Johan.


‘n Onlangse foto van Giepie Niemand en sy meisie Johanita Pieterse

‘n Ooggetuie, Hendrik Joubert, vertel dat hy om 7.15 nm op die dag van die voorval op die hoek van Stasie- en Naudéstraat afgelaai is en in die rigting van sy huis in die dorp se landgoedontwikkeling gestap het toe hy die bakkie sien wat roekeloos heen en weer oor die pad jaag met Giepie agter op.

Die bakkie het reguit op Hendrik afgejaag en hy moes uit die pad spring om nie omgery te word nie.

Die kaper het toe heeltemal beheer verloor en met die bakkie eers oor ‘n stopteken en toe deur ‘n betonmuur gery.

Hendrik het nader gehardloop en gesien dat Giepie langs die bakkie lê en dat hy bloeiende kopwonde opgedoen het.

Rayton en Cullinan beleef in die afgelope maande ‘n ongekende vlaag van misdaad. Die voorval met Giepie het die gemeenskap in rep en roer en het nuwe bewustheid oor misdaad in die gebied gevestig.

‘n Vergadering van die plaaslike GPF in Cullinan, twee dae na die voorval, is goed deur mense van Rayton en Cullinan bygewoon en heelwat ander inwoners het kennis gegee van hulle voorneme om betrokke te raak by misdaadbekamping. Twee sub-sektor komitees is vir die dorp gestig en volgens Karen Ysel van die GPF sal dié komitees help om mense by die stryd teen misdaad te betrek.

Mense van die gebied kan Karen by 082-575-0222 bel.

 

© 2020 Die/The Bronberger