Diewe stroop eens statige herehuis Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 29 July 2013 02:47
Untitled Document

Die eens statige herehuis van die Premier Diamantmyn se bestuurders het die teiken van plunderaars en stropers geword. Die huis, bekend as Rocklands, staan teen die koppie regoor die gholfbaan in Cullinan.

Rocklands staan reeds ‘n hele paar jaar leeg en die gebou is geleidelik van alles wat weggedra kon word, gestroop.

“Toe ek Maandagoggend 15 Julie sien dat Rocklands se onvervangbare smee-ysterhekke verwyder is, weet ek dis nou ‘n kwessie van tyd, dan is Rocklands vir altyd tot niet,” sê raadslid Danie Erasmus.

Danie dink terug oor ‘n tydperk van 55 jaar toe hy as kind verby geloop het en altyd die skouspelagtige huis bewonder het. In daardie jare was mnr Hodgson die hoofbestuurder van Premier (Tvl) Diamantmynmaatskappy. Later het mnr Sewell bestuurder geword en die huis se naam verander na Cairn Berea. In die laat sewentiger jare het mnr Van Jaarsveld bestuurder geword en het die naam na Rocklands terug verander.


Rocklands soos dit nou lyk
Foto’s: Danie Erasmus

“Sedert my terugkeer na my geboorteplek net buite Cullinan in 2006 het ek gemerk Rocklands staan leeg en was te koop. Ek haat die gebreekte-venster-sindroom omdat dit die begin van ‘n woonbuurt se agteruitgang is,” sê Danie.

“Met daaglikse pendel het ek opgemerk dat die gebou aan’t verval is. Ek het navraag gedoen tot ek uitgevind het dat die eienaar bewus is van wat by sy eiendom aan die gang is. Ek was stom.”

Danie glo dat die plundering van leë geboue misdaad aanmoedig en mense leer om te steel. Hy noem die woonhuis en slaghuis op Schietpoort op die Bronkhorstspruitpad as voorbeeld. Dié huis is binne drie weke totaal gestroop en selfs die bakstene word nag na nag weggedra.

“Wat my dronk slaan is dat talle polisievoertuie bedags en snags by Rocklands verby ry en nooit die moeite gedoen het om te kyk wat aangaan nie. Hoor die bure nie snags geluide van vernietiging nie?”

“Ek wil nooit iemand hoor sê dis die eienaar se probleem nie. Hierdie dorp se prag en skoonheid van meer as honderd jaar is op die spel. Hier woon mense wat trots is op Cullinan se geskiedenis, argitektuur, kultuur, stasie, skakelhuise van weleer en Jakarandas.”

“Wat moet ons vir die toeriste sê: Ons myn diamante met die skaarste kleure en groottes. Ons dorp is bekend vir verskeie films wat hier geskiet is, maar ons spog ook met ruïnes in ons dorp se hoofstraat.”


Die ingang na Rocklands waar kosbare gietysterhekke deur diewe weggedra is

Hoe teenstrydig om McHardy huis as museum aan toeriste te bied, maar Rocklands te laat verval tot ‘n ruïne? Danie sê hy hoop sy pleidooi sal nie net Cullinan se kultuurvereniging aanspoor om tot aksie oor te gaan nie, maar sal die gemeenskap aanspoor om die dorp en sy eiesoortige kultuur te koester en vertroetel.

Louwrens Koen van die Cullinan Erfenis Vereniging sê dat hulle wel bewus is van die sinnelose verval van die eiendom. “Ons het reeds ‘n geruime tyd terug die saak ondersoek, maar bevestig dat die eiendom nie onder die “National Heritage Resources Act” (SAHRA) val nie. Ons is dus magteloos om op te tree.”

Louwrens sê die toepaslike wetgewing om verdere verval van die eiendom te keer is die munisipale ordinansies. “Ons stel dus voor dat die raadslid sy status en posisie as verteenwoordiger van die Cullinan-gemeenskap by die munisipaliteit in die verband gebruik.”

Die Cullinan Erfenis Vereniging is ’n organisasie van vrywilligers sonder winsbejag wat onder uiters moeilike omstandighede met ‘n karige begroting werk. Hulle is besig met verskeie projekte om die Cullinan-omgewing se erfenis te bewaar.

Louwrens nooi besorgde persone uit om ’n verskil te maak deur gratis by die vereniging aan te sluit deur www.cullinan24.co.za te besoek.  

“Waar ons wel by magte is tree ons daadwerklik op soos wat ons reeds twee keer die afgelope jaar gedoen het,” sê Louwrens.

 

© 2020 Die/The Bronberger