Die storie agter Rocklands se verval PDF Print E-mail
News - Briewe
Sunday, 25 August 2013 16:32
Untitled Document

Anoniem van Cullinan skryf:
‘Diewe stroop eens statige herehuis’ in Julie se Bronberger: Ek verkies om anoniem te bly weens my betrokkenheid by die sakegemeenskap van Cullinan.

Die huidige eienaar het die Rocklands-eiendom, die eiendom regoor die teerpad (kleuterskool) en die sogenaamde Lady Francis woonhuis langs die Vrymesselaarsgebou ‘n aantal jare gelede gekoop.

Sy visie was om ‘n unieke en esteties aantreklike gebied te skep wat juis by die historiese karakter van die ou Cullinan sou inpas. Hy het die Lady Francis huis intussen laat restoureer en dit is nou een van die mooiste ou huise in die kern van Cullinan.

Hy het hom egter teen ‘n berg van probleme vasgeloop met sy planne vir die ander twee eiendomme. Daar is van die mense wat nou op die kantlyn staan en raas wat hom geen ondersteuning gebied het toe dit nodig was om deel van die stryd te wees om van sy idees uit te voer nie – idees wat net tot die gemeenskap se voordeel sou wees en wat die karakter van Cullinan sou respekteer en aanvul.

Terwyl hy reeds miljoene Rand in die eiendomme belê het, en bereid is om verdere miljoene in ontwikkeling te belê en dus die ondersteuning van die sakemense en erfenismense dringend nodig het, word daar eensydige kritiek gelewer eerder as om daadwerklik op te tree en sy hand te vat en ‘n mooi oplossing vir almal te bewerkstellig.

Dit is nodig dat die balans tussen die doelwitte van ontwikkelaars en dié van die erfenismense en ander betrokke partye gevind moet word sodat die vertroue van sakemense om in Cullinan te belê, herstel kan word en nie ‘n verdere knou toegedien word nie.
 

© 2019 Die/The Bronberger