Diewe teiken boorgate in Shere PDF Print E-mail
News - Briewe
Sunday, 25 August 2013 16:33
Untitled Document

SA Strauss van Shere skryf:
Allereers wil ek u gelukwens met en bedank vir u pragtige tydskrif, wat so 'n groot aanwins vir ons Bronbergers is. Veral u geskiedkundige artikels is vir my van die grootste belang en waardevol.

Jammer dat ek nou met 'n negatiewe sakie te voorskyn kom. Vir 'n geruime tyd al kry sekere gemeenskappe in ons gebied te doen met diefstal van boorgatpomptoerusting. Die boosdoeners doen deeglike verkenningswerk en slaan dan in die middernagtelike ure toe. Hulle is klaarblyklik baie vaardig.

Hul mikpunt is nie net bogrondse toerusting nie, maar in besonder die pompmeganisme wat diep onder in die boorgat lê. Alles word met groot spoed en vaardigheid gedoen. In die plastiekpyp waardeur die water vloei, stel hulle nie belang nie. Dis in iedere geval selfs wanneer dit opgerol sou word, te groot om met 'n gemiddelde voertuig te vervoer.

Die elektriese kabel wat saam met die pyp in die boorgat afgaan, is 'n perd van 'n ander kleur. Die elektriese krag word afgevoer met 'n koperkabel wat omhul is met 'n geweefde staalraamwerk en plastiekbuis. 

As die pype en kabel eenmaal bo is, word die plastiekomhulsel aan die brand gesteek en word die ekonomies waardevolle koperkabel verwyder en gesteel. Vir die koper kan die diewe 'n paar rand kry, en dis maklik om op te rol en te vervoer.

Baie onlangs het diewe toegesak op 'n hoewe in Shere. Ofskoon almal sekuriteitsheinings het, skrik dit klaarblyklik nie boosdoeners af nie. In die onlangse Shere-geval, had die diewe die vermetelheid om oor die grensheining te klim na die aangrensende hoewe en dan en daar op 'n afgeleë punt van die hoewe hulle brandwerk te doen. Genadiglik was die droë gras baie kort afgesny sodat 'n groot brand vermy is.
Die arme eienaar ly 'n verlies van duisende, terwyl die diewe maar bra min gaan kry vir die koper.

Ons moet maar dag en nag met oop oë loop, en die bogrondse pomptoerusting in 'n baie stewige staalkas of selfs 'n deeglik toegesluite pomphuis bewaar, verkieslik met 'n elektroniese waarskuwingstelsel.
 

© 2019 Die/The Bronberger