Koraalbome is vir konings PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Wednesday, 16 July 2008 00:00
Untitled Document

Koraalbome se ou naam word nie sommer meer gebruik nie, maar ’n mens kan seker maar sê waar dit vandaan gekom het. Dié bome is tradisioneel as koninklike bome gesien en is op die grafte van Zulu hoofmanne geplant.

Hulle is ook as lewendige heinings rondom krale, hutte en watergate geplant en as hulle blom was dit ’n teken dat dit tyd is om gewasse aan te plant. Die koraalboom was een van die eerste wilde bome wat in Suid-Afrikaanse tuine aangeplant is.

Tradisioneel is daar geglo dat die koraalboom beide medisinale en bonatuurlike magte het. ’n Hoofman het geglo dat sy stam hom vir ewig sal respekteer as hy bad in water waarin koraalboom-hout geweek het.


Die koraalboom
Foto: Aluka

Tradisioneel het vrouens wat gereed was om te kraam ’n aftreksel kruie gekry om die geboorte makliker te maak. Strokies boombas wat vanaf al vier kante van die koraalboom gestroop is, is rondom die sakkie kruie gebind voor die kruie gekook is.

Water waarin dié bas geweek het, word gemeng met die wortel van’n spesie Cussonia en gebruik as ’n kragtige braakmiddel. Fyngemaalde blare word oor ’n wond waarin maaiers begin nesmaak het, geplaas en dit jaag blykbaar die maaiers weg.

Geluk
Die sade word as gelukbringers gebruik en die bas is as ’n warm pap gebruik om sere, wonde, absesse en rumatiek te behandel. Aftreksels van die blare is gebruik as druppels vir oorpyn en ’n afkooksel van die wortels is op verstuite enkels geplaas.

Die boom bevat ’n groot hoeveelheid alkaloïede wat baie giftig is, maar sy gebruik in tradisionele medisyne wys dat hy ook antibakteriële, anti- inflamatoriese en pynverdowende effekte het.

Volgens kenners kom die giftige alkaloïedes veral in die sade voor en bevat middels wat bloedklonte verhoed en wat waarskynlik van waarde is in die behandeling van trombose.

Die hout is lig en kurkagtig as dit droog is. Daarom is dit gebruik om kano’s en vlotte te maak asook watertrôe en remblokke. Die koraalboom is ’n belangrike deel van die ekosisteem en voorsien voedsel en skuiling aan ’n verskeidenheid voëls, insekte en diere wat die nektar en bloeisels vreet. Koedoes, klipspringers, swart renosters en bobbejane vreet die blare, terwyl die bas ook deur olifante, bobbejane en renosters gevreet word.

Bosvarke vreet die wortels en bruinkoppapegaaie versprei die saad. Voëls soos houtkappers en spegte maak nes in stamme van die dooie bome en swerms bye trek gewoonlik in onbewoonde hol stamme in.


’n Koraalboom se blomme van naderby bekyk

Groei
Die gewone koraalboom, Erythrina lysistemon, is ’n klein tot mediumgrootte bladwisselende boom met helderrooi blomme. Die bas is glad en donker grys tot grys-bruin. Die vrug is ’n dunnerige swart peul van 15 cm lank wat oopsplit as dit nog aan die boom is om helderrooi‘lucky bean’ sade te versprei.

Die koraalboom is ’n vinnig groeiende boom wat redelik droogte-bestand is, maar sensitief is vir koue. Jy kan die boom maklik kweek van saad, stiggies of takke. Week die saad oornag in warm water om ontkieming aan te help.

Die saad moet in die lente en somer gesaai word in goed gedreineerde grond. Die saailingbakke moet op ’n warm plek met voldoende skaduwee staan.

Stiggies moet in die lente en somer geneem word en takke in die laat winter en vroeë lente. Gebruik ’n deel van ’n tak wat vir ’n paar dae gelos is om droog te word. Plant die tak in ’n pot gevul met sand en hou klam. As ’n plant oorgeplant moet word, is dit die beste om dit in die winter te doen terwyl hy dormant is.

 

© 2019 Die/The Bronberger