Historiese hotel se deure steeds toe PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Sunday, 25 August 2013 17:21
Untitled Document

Elsabé Maré

Die geskiedkundige Premier Hotel op Cullinan, ‘n verklaarde nasionale gedenkwaardigheid, se deure is steeds toegetrek en die verval raak al hoe meer merkbaar.

Dit in ‘n tyd wat dié dorpie aanhou groei in gewildheid as ‘n toerisme bestemming en wat die dorp se beskikbare behuising ten volle beset is danksy groot uitbreiding by die diamantmyn.


Die hotel soos hy tot verlede jaar nog gelyk het
Foto: Elsabé Maré

Tog moes die hotel sy deure sluit en staan die dorp se grootste sakekompleks bykans leeg. Die hotel en die winkelsentrum behoort en word verhuur deur dieselfde eienaar – Old Mutual, wat glo buitensporige huurgeld vir dié persele vra.


Soldate marsjeer verby die Cullinan Hotel in die Tweede Wêreldoorlog

Diamant
Een van die eerste verwysings na die hotel is toe die algemene bestuurder van die Premier (Transvaal) Diamantmynmaatskappy, William McHardy, op 26 Januarie 1905 ‘n spesiale Skotse funksie in die hotel aangebied het. Dit was ook die dag wat die 3 106 karaat diamant gevind is. Almal wat saamgedrom het in die kroeg, kon die aand die diamant vashou. Later sou dit as die Cullinan Diamant bekend staan.   


Die oorspronklike vooraansig toe die voorste fasades nog in gebruik was

In 1907 het Thomas Cullinan as besturende direkteur van die myn bedank, maar het as voorsitter van die mynmaatskappy steeds vergaderings bygewoon. Met so ‘n besoek het hy in die hotel oorgebly en gesellig met die mynpersoneel gekuier.

Die koöperatiewe vereniging van die diamantmyn het die hotel bestuur tot die weermag dit vir die duur van die Tweede Wêreldoorlog by die myn gehuur het. In dié oorlog het die Suid-Afrikaanse Weermag die dorp en omgewing oorgeneem omdat die diamantmyn in die depressiejare toegemaak het.


Die potplante is nou almal dood en onkruid neem oor

Soldate
Die dorp en omgewing het ‘n opleidingsgebied geword waarheen soldate gekom het voor hulle aktiewe diens aanvaar het. Alle beskikbare wooneenhede is gebruik soos ook die hotel. Aanvanklik was toegang tot die hotel slegs vir offisiere, maar dit is later vir almal oopgestel.

Ná ‘n aardskudding in die laat 1980’s is albei die fasades van die hotel se tweede verdieping so beskadig dat dit verwyder moes word. Die mooi sierwerk op die balkonne is behou en herhaal in die relings om die gebou toe die myn die hotel verkoop het.

Voor die hotel in 2007 na sy oorspronklike glorie gerestoureer is, het hy vir 20 jaar toe gestaan.

Die ou diva spog nog met haar oorspronklike plankvloere en vuurherde in die eetsale en sitkamer en met die nostalgie van haar L-vormige hout kroegtoonbank wat uit 1905 dateer.


Marianne Pearce, vorige hotelbestuurder, in die ‘Crown Jewel’ eetkamer by die oorspronklike kaggel
Foto: Elsabé Maré

 

© 2019 Die/The Bronberger