Die blaf van ?n brandwag-bobbejaan PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Sunday, 25 August 2013 17:28
Untitled Document

Kosie Viljoen het aan die verkeerde kant van die spoor op ‘n sekere plattelandse dorpie van destyds gebly. Kosie was die middelkind van ‘n tienstuks Viljoentjies wat saam met hulle pa, Groot Koos, en ma, Tryna, in die rooibaksteenhuisie gewoon het.

Of dit waar is dat Kosie ‘op sy kop geval het’ toe hy ‘n baba was, het niemand regtig geweet nie. Maar Kosie was ‘anders’. En een van die goed wat hom anders gemaak het, is dat Kosie nooit gepraat het nie. Nie ‘n enkele woord nie. “Die stomme bloedjie,” het die grootmense gesê. “Hy het mos op sy kop geval toe hy ‘n baba was.”

Die lewe aan die onderkant van die spoor was ‘n eenvoudige, dog tevrede een. Die huisies was meestal klein en vierkantig en die erwe was groot en verwaarloos. Op ‘n tipiese werf sou jy ‘n ‘kortjaart’ met ‘n wasgoedlyn en, vlak teen die huismuur, ‘n bedremmelde beddinkie met begrafnisblommetjies en droogtemalvas kry. Aan ‘n peperboom se dwarstak hang ‘n ‘blok-en-têkkel’ bokant ‘n groot oliekol op die klipharde rooigrond.

Op bykans al die erwe sien jy ook ‘n wisselende hoeveelheid wiellose motorwrakke op bakstene staan. En in die ‘agterjaart’ sit heel waarskynlik ‘n aap of ‘n bobbejaan op ‘n platformpie bo op ‘n paal.

Die werfbobbejaan wat by die Viljoens gebly het, was ten tye van die ‘voorval’ ‘n uitgevrete mannetjie met die naam van Jack. Kosie was nog in sy doeke dié dag toe Groot Koos met Jack by die huis aankom. Jy kan maar sê dat die twee saam groot ‘gebring’ is. En dit was gou duidelik dat daar ‘n besondere band tussen Kosie en Jack was. Soos die jare aangestap het, het die band verstewig.

Jy kon tydig en ontydig vir Jack en Kosie saam onder die ou peperboom sien sit. Jack aan sy ketting, waarvan die een punt aan die paal vas is en die ander punt aan ‘n harnas wat agter om die bobbejaan se heupe pas.

Toe hulle nog altwee baie klein was en bang vir die ou wrede wêreld om hulle, sou die maatjies mekaar omhels en styf vashou – soos bobbejaantjies mos maar maak. Soms het hulle ‘vlooie’ op mekaar se koppe gesoek. Die enigste tye wat jy ‘n geluid uit Kosie se mond sou hoor, was as hy en Jack sulke sagte kreungeluitjies maak – daar waar hulle onder die peperboom sit of speel. Teenoor mense het hy soos die graf geswyg.

Wanneer die buurt se kinders by Kosie se boeties en sussies kom kuier, het Kosie nooit meegedoen aan die speletjies soos giffie, ‘blikaspaai’ of ‘tippie-tippie-tats’ nie. Die kuierkinders het dit geniet om vir Jack te terg en dit het Kosie woedend gemaak.

Die kinders sou byvoorbeeld so ‘n entjie van die bobbejaan af staan en hom dan met stokke of klippies gooi. As Jack hom dan vervies en op hulle afstorm, het hulle net tot buite die reikafstand van die ketting gehardloop en daar gestaan en lag telkens as die aanstormende bobbejaan meters deur die styfgespande ketting teruggepluk word.

Kosie het altyd probeer om hierdie tergspeletjies te keer. Op ‘n dag, met so ‘n keerpoging, het ‘n groter seun, wat bekend was as ‘n opperste bullebak, Kosie met mening voor die bors gestamp en die outjie het hard met die rooigrond kennis maak. Dit was toe Kosie en Jack so tien jaar oud was.

Die aanvalsblaf van ‘n uitgegroeide brandwagbobbejaan is ‘n geluid wat selfs by ‘n luiperd vrees inboesem. En dít was die geluid wat die bullebak gehoor het net voor Jack op hom toegesak het. As Kosie nie daardie dag tussenbeide getree het nie, sou die bullebak iets baie ergers as ‘n paar krapmerke en skrape oorgekom het.

Met aandete aan die Viljoens se ou greinhouttafel in die kombuis, sê Groot Koos dat die bullebak se ma kom kla het. Sy sê dat hulle ontslae moet raak van die gevaarlike gedierte wat haar seuntjie aangeval het, of sy gaan ‘poelieste’ toe. Hy weet nie . . . , sê Groot Koos en hy sug.

Daardie volgende oggend is Kosie skoonveld en toe ma Tryna op die werf loop soek, sien sy Jack is ook weg. Net die ketting met die heupharnas lê onder die paal.

Hulle het vir Kosie en Jack drie dae later gekry. Iemand in die soekgeselskap het gedink hy gewaar iets in die holkrans teen die hang van een van die rante wat die dorpie omring. Toe die voorlopers van die soekgeselskap om die bos voor die holkrans beweeg, hoor hulle dit: Die rante en kranse weergalm met die bloedstollende aanvalsblaf van ‘n brandwagbobbejaan. En daar voor die bek van die holkrans, staan Kosie – dreigend met ‘n stok in die hand:

“Julle los vir Jack vandag uit. Los ons net uit,” sê die stomme Kosie wat glo as baba op sy kop geval het, in ‘n helder, duidelike stem . . .

 

© 2019 Die/The Bronberger