Elf grepies uit Poon se plotpraatpad PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Monday, 23 September 2013 21:43
Untitled Document

Ou Poon stap dié maand al elf jaar saam met die Bronnie. Om dit te vier, het ons elf grepies langs Poon se plotpraatjiepad loop haal om met julle te deel:

Agterstewes
Dis juis toe ek anderdag so lekker op my blaker onder die boom sit en peins dat dit by my opkom: Ons mense wat hierdie mooi taal praat, is oorhoops met ons agterwêrelde.

Langs die pad het ons ’n legio versagtende name vir die sitvlak uitgedink. Tog peul die kort oorspronklike ou woordjie oral in gesprekke tussen vriende uit.

Ons gebruik dit byvoorbeeld rojaal as ons skinder: “Hy het met syne in die botter geval, maar moenie dink hy sal dit lig om te help nie. Nee, hy sit mos liewer heeldag daarop en niksdoen. En as hy die ding wel ‘n slag in rat kry en dit dan beweeg, moet sy stomme vrou hare roer om al agter syne te loop en optel en dit begin nou aan myne krap.”

Sêgoed
Nee, hy lewe nog dat dit vrek, dankie. Só sou oorle oom Frik altoos sê, sou jy hom vra hoe dit met hom gaan. Oom Frik het in die lewe ’n hele paar ‘sêgoed’ gehad. Vra jy hom byvoorbeeld: “Wat sê jy nou?” – soos wat mense mos maar lief is om te vra, dan sou hy dadelik antwoord: “Nee, ek sê maar wat jy sê, maar wat sê jý nou eintlik?” En sou jy hom langs die pad raakloop en vra waarheen hy dan op pad is, sou oom Frik sê: “Nee, ek stap sommer vir ’n walk.”

Rakbiekommentaar
Kom ons vat, net ter illustrasie, ’n fiktiewe stukkie Afrikaanse radiokommentaar en sit dit in Engels om. Dit kan dalk só klink:

“JP Pietersen takes the hanging kick beautiful out of the air out (onthou dis fiktief), and lays thongs down next to the sideline down on the other side pavilion. But he walks him tight against Bakkies Botha, who lifts his poles and spreads him to the ground where he makes hard acquaintance with mother earth about ten steps from the Bull’s quarter line. And there lies Pietersen – out like a candle!”
Hulle het rakbie dalk uitgedink, maar hulle kan hom nie so mooi praat nie.

Vaderkoppie
Maar eintlik was dit die Vadersdaggedoente wat my dié onthoupad se loop laat vat het. Koffietyd op daai sukkelplaas het oom Apie se troos aangekom in ’n koppie, eintlik ’n kop, waarop die naam “Vader” prominent uitgespel was. Dit was ’n groot koppie en ek onthou hoe oom Apie Ras se gesiggie half weggeraak het agter die oplig-om-te-drink-daaruit, en hoe koddig die bakoortjies wat agter die ronding van die reuse vaderkoppie uitgesteek het, vir my was.

Vaderkoppies vir koffie was sommer baie groter as die res. Dit was ’n trofee wat erkenning gegee het, op ’n daaglikse basis, aan die stomme mens wat desnoods die ‘hoof’ van die huis was.

Makoenners
Toe dink hy nou só, sê Gert Mossie. As hy nou ’n vryloop-hoender met ’n makou kan kruis, gaan hy mos ’n lekker stadige, vetlyfgedoente kry. Dan vang hy elke maand in ’n japtrap sy kwota vir die mark en hy wen Rande en sente op die gewig. En hy noem die goed ‘makoenners’. Dan noem jy sommer ’n makoennerhaan ’n makaan en ‘n makoennerhen ‘n makhen met haar makuikens, vir kort.

Dink net, sê Gert Mossie, as hy nou daardie makoenner met ’n kalkoen kan kruis, hoe laat daai makoennerkoenne dan die Rande inrol. Of moet hy dit dalk makalkoenners noem?

Die liefde
Hy sal ‘n vrou seker nooit heeltemal verstaan nie, sê Gert Mossie. Een ding wat hy wel met die jare saam geleer het, is dat dit nie regtig so belangrik is om te verstaan wat ‘n vrou sê nie. Wat wel van kardinale belang is, is om te verstaan wat sy nie sê nie.

Eintlik, as hy moet eerlik wees, sê Gert, verstaan hy ook nie die liefde so mooi nie. Hy dink toe hy nog baie klein was, was dit makliker om dinge te verstaan. Toe het hy gedink die liefde is wanneer ‘n meisie haarself vol parfuum spuit en ‘n ou sit sy Old Spice aan en dan gaan hulle ‘draaif-ien’ toe om aan mekaar te ruik.

Sportkyk
“Sportkyk verg verstand en dit verg intense studie en dit verg veral deursettingsvermoë. Niemand het gesê ware, vervullende plesier is maklik nie,” sê Gert Mossie.

“Maar as jy eers die kuns van sinvolle sportkyk, baasgeraak het, is dit al die moeitevolle werk werd. Jy is in totale beheer van jou omgewing en jy is in beheer van alles wat op die veld voor jou – komplimente van die kassie – gebeur. Jy weet wanneer die kommentator al weer strooi gepraat het en jy kan dit vir hom sê – sonder vrees vir teenspraak.

“Jy weet as dit ’n haaitêkkel of ’n forwirdpaas was en jy weet wie die aap was wat die bôl nie gepaas het toe hy moes nie. Jy kan dit driftig met die moed van jou oortuiging aan die wêreld oordra, want jou breinselle is fiks.”

Muskiete
Nou lees hy iewers, sê Buks, die slim ouens het vasgestel dat dit nie die muskiete is wat raas, wat jou byt nie. Nee, dis dié wat geluidloos vir hulle bloedmaal naderstaan, wat jou so leegsuig. Vandat hy hierdie brokkie aardskuddende inligting gekry het, klap hy net as hy niks hoor nie, sê Buks. Dit lyk hom dit werk nogal, want die goed byt hom nie meer om die ore nie, maar hy slaap nie veel nie, sê hy.
Hy sal maar sy apteker vir ‘n pilletjie moet loop vra. Een wat ‘n ou so in die klap aan die slaap kan hou.

Sensus
Hy hoor oor die draadloos hulle sê 99 persent van die mense is nou al met die sensus-dinges getel, sê Gert Mossie. Maar wat hy wil weet, is hoe op aarde weet hulle dit?

Want, sê Gert Mossie, as hulle presies weet dat presies 99 persent van die mense getel is, dan moes hulle mos al die tyd presies geweet het presies hoeveel mense daar is en as hulle dit geweet het, dan was die hele simpel getellery mos in die eerste plek nie eers nodig nie?

Brandewyndrinkers
Jy kry verskillende soorte brandewyndrinkers. Maar alle brandewyndrinkers drink baie en die meeste drink te veel en dan praat hulle te hard en hulle vloek baie. Die heel vet ouens wat brandewyn drink, drink dit saam met Coke Light. Die maeres drink dit saam met gewone Coke, sê Gert Mossie.

Die meeste brandewyndrinkers staan en drink – veral die vettes, sê Gert. Tussen slukke sal die geharde brandewyndrinker sy glas hier voor teen sy maag vasdruk, so asof hy wil seker maak die inhoud verstaan waarheen dit op pad is.

As die vet brandewyndrinker by die kroeg sit – gewoonlik nie omdat hy wil nie, maar omdat hy moet – sal hy sy glas dooierus bo op sy bultmaag vashou tussen slukke. Hy sit nooit sy glas op die toonbank neer nie, behalwe as dit leeg is. ‘n Brandewyndrinker vertrou nie maklik sy medemens nie.

Soos ‘n windpomp
“Ek het geluister toe my oorle pa my die dag daar op die ou Climax-pomp dié waardevolle lewensles leer: “Pietie,” het oorle pa gesê, “jy moet vandag mooi na my luister.” “Dis goed, oorle Pa, ek sal mooi luister.”

“Jy word nou mooi groot, Pietie, en een van die dae is jy bekwaam. Ek wil hê jy moet soos hierdie ou windpomp wees, Pietie. Soos hierdie ou Climax, moet jy deur die lewe gaan en nie soos ou Swart Dawid se masjien wat hierdie einste gat geboor het nie.”

“Wees soos ‘n windpomp, Pietie, en nie soos ‘n boormasjien nie,” “Staan maar liewer altyd op een gat en pomp, as om altyd nuwe gate te loop soek om te boor.”

 

© 2019 Die/The Bronberger