Print E-mail
News - Toeka se dae
Monday, 23 September 2013 23:47
Untitled Document

Angie Kleijn

Een van ons land se bekendste monumente is deur ‘n argitek wat ‘n nuwe Afrikaanse boustyl wou skep, ontwerp. Hy het geglo dat klip uit die onmiddellike omgewing gebruik moet word om mee te bou en het erken dat hy die tegniek van die misterieuse bouers van die Zimbabwe-ruïnes en die Egiptenare in die Voortrekkermonument toegepas het.

Gerard Moerdijk was ‘n uitgesproke ondersteuner van antieke Egiptiese argitektuur. Met die finalisering van sy ontwerp vir die Voortrekkermonument in 1936 het hy op ‘n navorsingstoer na Egipte vertrek.

Daar het hy die Karnak Tempel Kompleks by Thebe besoek, ‘n gebied wat floreer het onder Faro Akhenaton, Nefertiti se man. Akhenaton se tempels is aan Aten, die middel-van-die-dag-son, opgedra en het sonstrale in argitektuur gebruik.

By die Voortrekkermonument skyn die son elke jaar op 16 Desember om twaalfuur deur ‘n opening in die koepel op die senotaaf. Dié dag het voorheen as Geloftedag bekendgestaan. Die senotaaf vorm die simboliese middelpunt van die monument, maar anders as in Egiptiese tempels, is dit net ‘n simboliese graf; niemand is daarin begrawe nie.

Akhenaton se tempels het ook realistiese verhewe beeldwerk teen die mure, net soos die Voortrekkermonument waar Gerard homself, sy vrou en twee dogters teen verskillende mure as Voortrekkers laat uitbeeld het.


‘n Jong Gerard Moerdijk
Foto: Uit Irma Vermeulen se ‘Man en Monument’

Gebore
Gerard Leendert Pieter Moerdijk (Moerdyk) is nie as ‘n Afrikaner gebore nie, maar sy biograwe sê dat hy sy Afrikaner-identiteit opgebou het in die tyd wat hy as kind in die Engelse Oorlog in die Standertonse konsentrasiekamp moes deurbring.

Hy is op 4 Maart 1890 op die plaas Zwaershoek in die Waterberg-distrik gebore en was die oudste van die Hollandse onderwyser, Jan Leendert Moerdijk, van Ierseke, en sy vrou, Cornelia Dorst, van Brouwershaven, se nege kinders.

Jan het in 1888 na die ZAR geëmigreer in reaksie op Paul Kruger se oproep om onderwysers uit Nederland. Sy verloofde, Cornelia, het hom ‘n jaar later gevolg en hulle is op 27 Februarie 1889 op Nylstroom getroud.

Jan het in 1893 ‘n assistent-onderwyser by die Staatsmodelschool in Pretoria geword en hulle het twee jaar later na Volksrust verhuis waar die gesin tot Oktober 1899 gewoon het. Toe die Engelse oorlog uitbreek, het Jan op kommando vertrek.

Cornelia en die kinders het na Amersfoort getrek. Daar is Gerard se blindederm verwyder, maar tot sy groot verbasing het hy 30 jaar later weer akute blindedermontsteking gekry waarvoor hy opereer is, omdat die vorige operasie nooit voltooi is nie.


Gordon Leith, links, en Gerard in Rome, 1913
Foto: Artefacts

Kamp
Die gesin het op Amersfoort gewoon tot hulle huis deur die kakies afgebrand is en hulle die Britse magte vir ses weke in ‘n ossewa na ‘n konsentrasiekamp moes volg. In ‘n stadium was daar ‘n skermutseling met die Boeremagte en het die Britse soldate agter die Moerdijk-gesin se ossewa weggekruip. Die negejarige Gerard is in die been gewond en het dié litteken tot sy dood gehad.

Die ellende en smart in die konsentrasiekamp het ‘n onuitwisbare indruk op Gerard se gemoed gelaat. Hy het later vertel dat hulle lewens gered is deur sy ma se bevegting van pestilensies. Die kinders moes elke dag gaan miskoeke optel sodat sy ma kon vuur maak om hulle klere skoon te kook. Daarná het hulle kaal in die tent gesit terwyl sy die luise van hulle lywe afgetrek en doodgemaak het.

Later jare het Gerard-die-argitek se bitterheid oor die Britte se behandeling van ons land en sy mense deurgeskemer in sy uitsprake oor argitektuur. Hy het gesê dat Milner geweet het hoe om ‘n land te verower. Hy het seker gemaak dat openbare geboue ontwerp word deur ‘n departement wat beman is deur ingevoerde persone wat geen liefde of kennis van ons land se geskiedenis en tradisies gehad het nie. Hulle het onvanpaste boumateriaal gebruik en het nie eers geweet dat die skaduwees hier by ons anders as in Europa val nie.


Elke jaar op 16 Desember skyn die son om twaalfuur op die senotaaf met sy woorde
“Ons vir jou Suid-Afrika”

Pretoria
Ná die oorlog is die gesin in 1902 in Pretoria herenig waar Gerard se pa ‘n klein tentskooltjie op hulle erf in Villieria oopgemaak het. Hy is eers deur die Transvaalse Onderwysdepartement as Hollandse onderwyser aangestel en is later, in 1908, by die Normaalkollege aangestel. In 1913 het hy inspekteur van skole geword en het in dié pos aangebly tot sy aftrede in 1926.

Gerard het aan die Pretoria College (later Pretoria Boys High School) skoolgegaan en ‘n toekenning gewen wat deur die Departement van Openbare Werke vir 'n skoolontwerp uitgeskryf is.

Hy was net 16 jaar oud, maar die departement het hom dadelik ‘n pos as assistent-tekenaar teen ‘n salaris van tien pond ‘n maand aangebied. Gerard het die pos in 1906 aanvaar en het die skool verlaat sonder om matriek te maak. Hy het sy matriek later deur deeltydse studie voltooi.


Konstruksie van die Voortrekkermonument
Foto: Uit Irma Vermeulen se ‘Man en Monument’

London
In 1910 het hy na Engeland vertrek en argitektuur aan die Londonse Argitektuur Vereniging studeer. Toe Gerard inskryf het hy ‘n mondelinge eksamen afgelê en is direk tot die vierde studiejaar bevorder, maar moes die duurder dagklasse loop terwyl sy begroting op die goedkoper aandklasse gemik was.

Sy ouers moes groot opofferings maak om hom daar te kry, maar Gerard het so swaar gekry dat sy pa gesê het as hy voor die tyd geweet het sy kind gaan so honger ly, hy hom nooit sou laat gaan het nie.

In dié tyd het Gerard reise na Europa onderneem en baie beroemde geboue asook die Ecòle des Beaux Arts in Parys, en die Britse Skool vir Argeologie in Rome besoek. In Rome het hy beeldhouer Anton van Wouw ontmoet toe Anton besig was met die figure vir die Vrouemonument in Bloemfontein.

Om geld vir sy studiereise te kry, het Gerard vir die Britse Openbare Werke Departement gewerk waar hy ontwerpe vir die aanbou van bediendekwartiere by Buckingham-paleis gedoen het.

Gerard was bang dat hy nie sy eindeksamen sou deurkom nie, maar hy was op die ou einde onder die top twintig argitektuurstudente in Engeland en is as die top student in klassieke argitektuur in die hele Britse Gemenebes aangewys.


Die Voortrekkermonument

Terug
Knap voor die Eerste Wêreldoorlog, in 1913, keer hy terug na Suid-Afrika en werk vir ‘n jaar by die Departement van Openbare Werke voor hy ‘n pos as tekenaar by Robinson Deep Goudmyn in Johannesburg gekry het. Hy het die teken van mynkaarte sieldodend gevind, maar hier het hy weer vir Oswald Pirow, wat hy in London ontmoet het, raakgeloop.

Gerard is in 1918 met Oswald se suster, Sylva Pirow, gebore op 7 September 1896, getroud. Sy was die dogter van dr Carl Bernhardt Ferdinand Pirow, wat in 1899 uit Ludwigslus, Oos-Pruise hier aangekom het, en Henriette Jasmine Marine, ‘n nooi Tomby.

Gerard het by die myn gewerk tot hy sy eie praktyk in 1917 begin het en sy eerste opdrag ontvang het – om ‘n kerk in Bothaville te ontwerp. Dit was die eerste van die meer as 80 kerkgeboue wat hy ontwerp het en hy het later ‘n boekie publiseer oor kerkgeboue waarvan die ontwerpe vir Suid-Afrika geskik is – ‘n radikale afwyking van daardie tyd se kerkplanne.

Vanaf 1918 het hy saam met die argitek Gordon Leith in Johannesburg gepraktiseer. Sylva het Gerard met sy kantoorwerk gehelp en hulle het drie kinders gehad: Een seun, Gerard Michel, gebore in 1920, en twee dogters, Irma Leonora, gebore in 1923, en Cornelia Sylva, gebore in 1930.


Moerdijkhuis

Besig
Die jare tussen 1918 en 1928 was die besigste in Gerard se loopbaan. In 1920 het hy 'n Carnegiebeurs gewen en dit gebruik om 'n studie van die Kaaps-Hollandse boustyl te maak, en in 1924 het hy sy praktyk na Pretoria verskuif. Hy was vir ‘n ruk in vennootskap met Wynand Louw, wat in die Paarl praktiseer het, maar die vennootskap is ontbind weens die afstandprobleme tussen Petoria en die Paarl.

HAI Watson het hierna by Gerard aangesluit en alhoewel hy eers rondom 1941/2 ‘n vennoot geword het, was hy betrokke by bykans al Gerard se werk.

Gerard was ook ‘n suksesvolle ontwerper van huise, skole, sale en openbare geboue waarin funksionaliteit beklemtoon is. Sy eie huis, Bynabo in Muckleneuk, was ‘n sprekende voorbeeld van sy oortuigings. Dit was destyds die enigste huis wat van Brooklyn-leiklip gebou is.

In sy soeke na ‘n outentieke Afrika-styl het hy ontwerpe vir rondawel-huise in ‘Die Boerevrou’ publiseer. Dié ontwerpe het baie gewild in Pretoria geword en is onder meer deur J Pierneef gebruik.


Gerard by ‘n model van die oorspronklike wen-ontwerp van Libertas
Foto: Uit Irma Vermeulen se ‘Man en Monument’

Kuns
Gerard het in kuns belanggestel en het een van die kosbaarste versamelings van Afrikaanse skilderye gehad. Hy het self in waterverf geskilder en beeldhouwerk gedoen. Hy was verskeie tale, soos Afrikaans, Engels, Nederlands, Duits, Italiaans en Frans magtig.

In 1923 is hy verkies tot die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en het in die Raad van die Universiteit van Pretoria gedien, waar hy jare lank die voorsitter was.

Gerard het van 1928 tot 1929 in Amerika getoer waar hy spesifiek na die ontwerp van hospitale, universiteitsgeboue en kerke gekyk het.

Tussendeur het hy hom beywer vir die reg van praktiserende argitekte om staatsopdragte uit te voer. Rondom 1931 het dit hom in 'n uitgerekte konfrontasie met die Departement van Openbare Werke gebring. Die stryd is soms tot selfs in die parlement gevoer.

In 1935 het hy ‘Die Geskiedenis van Boukuns’ gepubliseer en in 1936 ‘n erepenning vir argitektuur van die Akademie ontvang. Dit was ook in 1936 wat hy die Voortrekkermonument begin ontwerp het en as deel van sy navorsing daarvan Egipte, Duitsland, Italië en Swede besoek het.

Die boubedrywighede aan die monument het op 13 Julie 1937 met 'n plegtigheid op Monumentkoppie begin. In dieselfde jaar het Gerard in 'n landswye kompetisie die prys verower met die ontwerp van Libertas, die Eerste Minister se ampswoning in Pretoria.

Ander belangrike opdragte in sy loopbaan was die Johannesburg-stasie, die Merensky-biblioteek by die Universiteit van Pretoria, verbeteringe aan die Krugerwildtuin se ruskampe en die Suid-Afrikaanse Reserwebank in Bloemfontein.


Gerard soos hy in ‘Who's Who’ 1958:178 verskyn het

Hoeksteen
Die hoeksteen van die Voortrekker-monument is op 16 Desember 1938 deur drie afstammelinge van oorspronklike Voortrekkerleiers gelê: JC Preller (agterkleindogter van Piet Retief), JC Muller (kleindogter van Andries Pretorius) en KF Ackerman (agterkleindogter van Andries Hendrik Potgieter).

Gerard het Egipte weer in 1946/7 besoek en die Voortrekkermonument is op 16 Desember 1949 feestelik ingewy. Sy dogter, Irma Vermeulen, het jare later vertel dat haar ma, Sylva, op die suidwestelike muur van die Voortrekker-monument uitgebeeld is waar sy wys dat die Voortrekkervrou “eerder barvoets oor die Drakensberg sou trek as om in slawerny te leef”.

Gerard self is op die noordwestelike muur uitgebeeld as bouer van die geloftekerkie. Irma en haar suster, Sylva (later Heath), is as twee meisies op die suidoostelike muur uitgebeeld.


Gerard is op die plaas Zwaershoek in die Waterberg-distrik gebore. Vandag is daar ‘n Swaershoek Geloftefees-terrein

Boer
Toe hy 64 oud was het Gerard homself as ‘n boer-in-sy-hart beskryf en het die plaaslewe op sy plaas Modderpoort in die Waterberg-distrik saam met sy gesin geniet. Daar is diegene wat sê dat die Voortrekkermonument soos Kranskop, agter Gerard se plaas, lyk.

Die Moerdijks was versot op hulle ryperde en Gerard was ‘n goeie skut. ‘n Junior argitek in Gerard se firma, Hans Botha, het vertel dat hy een keer op die plaas gaan kuier het en dat ‘n gewonde leeu skielik uit die bosse op hulle afgestorm het. Gerard het die leeu op sy seun se rug doodgeskiet.

Gerard het in 1950 ‘n eredoktorsgraad van die Universiteit van Suid-Afrika ontvang. Hy was die stigterslid van die maatskappy Afrikaanse en Handelsbeleggings en het in die direksies van dié maatskappy en Saambou gedien.

Hy het sy praktyk in Pretoria tot sy dood met die hulp van 'n toenemende aantal assistente bedryf en het takke in Johannesburg en Bloemfontein geopen. Sy personeel was bykans net soveel soos dié van die Departement van Openbare Werke.

Siek
Toe Gerard Amerika weer in 1956 besoek het, was hy reeds siek. Hy is in 1958 in die ouderdom van 68 jaar in die Nylstroomse hospitaal aan Parkinson-siekte oorlede. HAI Watson het met die praktyk in Pretoria voortgegaan en Gerard se dogter, Irma Vermeulen, het die Bloemfonteinse praktyk, Moerdijk, Watson en Vermeulen, oorgeneem.

Gerard en sy vrou Sylva is in die plaasbegraafplaas op Modderpoort begrawe.

In 1986 is sy huis in Pretoria, waar Gerard en sy gesin vir amper 30 jaar gebly het, as nasionale monument verklaar. Bynabo in Devenishstraat op Muckleneukrif is herdoop as Moerdijkhuis en in 2011 het Gerard se kleinseun, die argitek Gerard Moerdijk Vermeulen en sy vrou Dorette, die huis gekoop en gerestoureer. Hulle het dit in ‘n gastehuis omskep om seker te maak dat mense maklik toegang tot dié monument kan verkry terwyl die huis op ‘n praktiese manier geld inbring. Sy oupa het mos hoeka geglo ‘n gebou moet funksioneel wees.
 

© 2020 Die/The Bronberger