Theresa en Robert, wat voorheen by Bronberg Lodge gewerk het, gaan in
die Bronberg-gebied kom trou. Die troue word op 6 September by
Hennie en Piet se dam gehou. Theresa sê alle Bronbergers wat haar ken,
is welkom. Hulle moet haar net eers bel by 076-542-0958.
xxx
Is dit tekenend van ons verwarde samelewing dat die twee beste verkopers
in die boekwinkels, kookboeke en dieetboeke is?
xxx
Ou Nico, 'n plaaslike rekenmeester, sê 'n mens kry drie soorte rekenmeesters.
Dié wat kan tel en dié wat nie kan tel nie.
xxx
Ou Proppie sê sy lyf was onbeskryflik seer, nadat hy vir die eerste keer in
baie jare weer gym toe gegaan het. Hy sê die enigste manier om sy
tande te borsel, was om die tandeborsel op die wasbak neer te sit en sy
mond heen en weer te beweeg. Om te bestuur was oraait, solank hy nie
hoef te gedraai het of briek te getrap het nie. Die ergste was dat hy net
magteloos daar gestaan en wag het dat die ou, teen wie se kar se
agterkant hy vasgery het, hom 'n klap moes gee.
xxx
Ster van die maand
Dié toekenning gaan aan Roelf Kruger Auto in Rayton wat oombliklik
reageer het toe een van Die Bronberger se afleweringsmense in die
moeilikheid geraak het op die Ou Bronkhorstspruitpad. Roelf en sy seun
was binne minute by die voertuig, het hom met plattelandse riendelikheid
ingesleep Rayton toe, parte laat kom en die herstelwerk binne
twee ure gedoen.
xxx
Krater van die maand
Dié toekenning gaan aan 'n mens wat 'n tandartspraktyk in Die Bronberger
geadverteer het. Daar is nogal 'n jaar vooruit bespreek, maar hy was
blykbaar nooit van plan om te betaal nie. Sy advertensies is ná maande se
wanbetaling gestop. Ná herhaalde vriendelike versoeke en leë beloftes
van sy kant af, is hy aan skuldinvorderaars oorhandig. Hierop het die man
laat weet dat hy hom "nie laat dreig nie" en dat ons hom maar moet dagvaar.
Wat ons nou maar moet doen. As iemand 'n tandarts soek vir 'n
lekker gratis kroon of inplantaat of twee, ons het net die man vir jou. Hy
glo nie aan betaling vir diens nie. |