Só werk jy met ‘n morsjors se gal Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 22 October 2013 23:28
Untitled Document

Die Bronberg-gebied word toenemend deur morsjorse en rommelstorters geteister. Asbliksakke vol gemors word sondermeer uit bewegende voertuie gegooi en groot hope rommel van stedelike ondernemings beland op ‘n ‘onverklaarbare’ wyse op hoewes in die landelike gebied.

Anabel van Niekerk van plot 137 op Zwavelpoort sê dat daar al weer net om die draai van hulle hope rommel gestort is. Hulle het die spyskaart van ‘n restaurant in Menlynpark-winkelsentrum op een van die hope gekry en die restaurant probeer bel.


Die rommelhope naby plot 137, Zwavelpoort
Foto: Anabel van Niekerk

Dit blyk egter of die restaurant intussen toegemaak het en of dit dalk die nuwe huurder van die perseel kan wees wat sy gemors in Zwavelpoort kom aflaai.

Zwavelpoort se Van Niekerks is nie bang om rommelstorters tromp-op te loop nie. In Maart 2007 het ons berig dat hulle die hope vullis wat langs hulle plotpad gestort is, ondersoek het en die naam van die moontlike rommelstorter op ‘n brief gevind het. Hulle het ‘n brief aan dié mens geskryf en dit by haar woonplek gaan aflaai.


Dié spyskaart is op die rommelhope gevind
Foto: Anabel van Niekerk
Die bakkie waaruit die geel asbliksak gegooi is
Foto: Mark Ikking

Sak
Op Maandagoggend 7 Oktober het Mark Ikking agter ‘n bakkie gery en gesien hoe die insittendes naby die T-aansluiting van die Rayton/Cullinan-pad en die Bronkhorstspruit-pad ‘n geel sak vol gemors langs die pad afgooi.

Mark woon op ‘n hoewe in die Boschkop/Donkerhoek-omgewing en hy ry elke dag dié agterpad Delmas toe en dan werk toe tot in Kempton Park.


Die asbliksak in die veld naby die T-aansluiting van die Rayton/Cullinan-pad
en die Bronkhorstspruit-pad
Foto: Mark Ikking

Hy het foto’s van die vuilgoedsak en die motor geneem en het ook die voertuig voorgekeer en die insittendes gekonfronteer.

Rommelstorting is onwettig en kan by die Metro-polisie aangemeld word.

 

© 2020 Die/The Bronberger