Hol beloftes oor biblioteek spreek boekdele Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 22 October 2013 23:28
Untitled Document

Die Cullinan Biblioteekpark-projek wat in September verlede jaar afgeskop het, kom net nie op dreef nie. Dit het by die grondwerke-fase vasgesteek en bly staan. Die aanvanklike geraamde koste van dié projek van Tshwane is R51 miljoen.

Grondwerke moes in Januarie afgehandel gewees het, bouwerk moes in Februarie begin het en die projek sou teen die einde van Desember klaar gewees het.


Dit lyk asof Cullinan se Biblioteekpark met die grondwerk-fase tot stilstand gekom het
Foto: Danie Erasmus

Dié park, agter die Cullinanse polisiestasie, gaan glo bestaan uit ‘n biblioteek, gemeenskapsaal, sportsaal, twee ekstra sale, ‘n amfiteater en parkeerplekke.  ‘n Ouditorium, kunsgalery, speelplek vir kinders, rekenaarlaboratoriums en buite-ruimtes waar besoekers kan ontspan is beplan.

Verlede jaar het streek vyf se uitvoerende direkteur, advokaat Frederick Lekwane, aan die gaste by die sooispit-seremonie belowe dat die projek onder sy beheer is en volgens plan sal vorder.

Raadslid Danie Erasmus het in April voorspel dat die projek nie die paal gaan haal nie. Danie het vroeg in Oktober weer vir Frederick oor die projek genader. Frederick ontken dat hy beloftes gemaak het dat die projek volgens skedule sou vorder. Hy blameer die vorige hoof van Sport en Ontspanning, wat met die sooispit-seremonie aan die gehoor sou gesê het dat die projek in Desember 2013 voltooi sal wees.


Daar gaan niks agter die geslote hekke van dié ‘konstruksie-perseel’ aan nie
Foto: Danie Erasmus

‘n Navraag oor die voltooiingsdatum is aan die nuwe hoof gerig, maar geen antwoord is van hom ontvang nie.   

Volgens Frederick is fase een, die grondwerk-fase, nou klaar. Dit beteken dat die projek reeds tien maande agter is. Koste sal noodwendig met die vertraging aansienlik hoër wees as waarvoor begroot is.  

 

© 2020 Die/The Bronberger