Gaan die Nooitgedachtpad ooit klaarkom? Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 22 October 2013 23:31
Untitled Document

Slegs 50 persent van die herstelwerk aan die Nooitgedacht-grondpad buite Rayton, wat teen Augustus reeds moes klaar wees, is voltooi.

Karen Yssel, takwoordvoerder vir AfriForum se Cullinan/Rayton-tak, sê dat die gemeenskap bekommerd is oor die vordering van die kontrakteur wat deur die Gautengse departement van paaie en vervoer aangestel is.

Volgens Karen is die R8 miljoen tender in 2012 aan Magic Labour Hire and Security toegeken vir herstelwerk aan 2 km van die pad.

“Daar is aan die gemeenskap belowe dat die herstel van die pad in Augustus 2013 klaar sal wees. Die kontrakteur het ons egter met ons laaste terrein-inspeksievergadering in kennis gestel dat daar sleg 50% van die werk gedoen is,” het Karen gesê.


Karen Yssel

Karen sê dat die werk teen ʼn slakkepas vorder, omdat die kontrakteur se masjiene en voertuie onklaar raak, werkers staak oor laat salarisbetalings en omdat die kontrakteur nie fondse het om materiaal aan te koop nie.

“Ons is al vuisvoos baklei oor die toestand van dié grondpad. Dit is ’n nagmerrie vir elkeen wat die pad gebruik. Ons voertuie word beskadig en die stof is ondraaglik vir inwoners wat direk langs die padwerke bly, aangesien die kontrakteur nie moeite doen om die ompaaie in stand te hou en stofvry te hou nie,” sê Karen.

AfriForum se Cullinan/Rayton-tak het al telkemale afskrifte van die tenderdokumente aangevra, maar sal nou met die nodige regstappe teen die Tshwane-metroraad begin. Die munisipaliteit sal 30 dae hê om die tenderdokumente te oorhandig.”

 

© 2020 Die/The Bronberger