Dis ?'n bosbeesklou waarvan renosters hou Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 22 October 2013 23:50
Untitled Document

Waar sal ‘n boompie nou ‘n naam soos bosbeesklou vandaan kry? Daar is diegene wat sê dat die naam na die boom se blare, wat in twee lobbe verdeel is en nogal na die afdruk van ’n beesklou lyk, verwys.

Die bosbeesklou, Bauhinia tomentosa, se genusnaam is vernoem na die tweelingbroers, Johann en Caspar Bauhin, wat in die 16de eeu gelewe het. Hulle was ‘n identiese tweeling, wat die naam nogal gepas maak – die twee lobbe van elke blaar is identies wanneer hulle oor mekaar gevou word.

Die spesie-naam, tomentosa, beteken ‘harig’ en verwys na die fluweelagtige peule. Die peule en blomme bevat ‘n soort suur wat die boom teen vee en wild beskerm. Tog vreet die swart renoster, koedoes en die grys duiker sy blare.

Die blare word gebruik om ‘n geel kleursel te maak en die gedroogde blare en bloeisels, sowel as ‘n aftreksel van die wortels en bas word in Afrika vir medisinale doeleindes gebruik.


Die bosbeesklou is ’n groterige struik of klein boom wat so vier meter hoog word

Doepa
In Indië en Sri Lanka word die wortelbas gebruik vir dikdermprobleme terwyl die blomme gebruik word as medisyne vir disenterie en diarree. ‘n Aftreksel van die wortelbas word in Indië as ‘n ontwurmingsmiddel gebruik en ‘n aftreksel van die stam se bas as ‘n gorrelmiddel. Hulle sê die boom se vrugte is ‘n urineermiddel en die saad word as tonikum geëet.

Op die Indonesiese eiland Madura word die blare as bestanddeel van ‘n soort pleister wat op absesse gesit word, gebruik. ‘n Aftreksel van die wortelbas word vir maagprobleme gebruik en ‘n aansmeermiddel word gemaak vir geswelde kliere, absesse en velprobleme. ‘n Mengsel van die gemaalde sade en asyn word op wonde gesmeer as mense deur giftige diere gebyt is.


Die blomme is helder geel met ‘n bruinrooi ‘ogie’

Struik
Die bosbeesklou is ’n groterige struik of klein boom wat so vier meter hoog word. Sy takke word lank en hang dan na onder en hy verloor gewoonlik nie sy blare in ’n matige tot subtropiese klimaat nie. 

Boompies begin in hulle tweede jaar van Desember tot Maart blom. Die heldergeel blomme is klokvormig en bevat baie stuifmeel en nektar. Hulle lok nektarvretende voëls, verskeie insekte, skoenlappers en bye, en so ook insekvretende voëls.

Die vrugte ná die blomme lyk soos houtagtige ertjiepeule wat vanaf Januarie tot Junie en selfs later gedra word. Hulle is liggroen en verkleur na bruin wanneer hulle ouer word. Wanneer die peule oopgaan, verskyn daar ses tot twaalf blink, rooibruin sade.


Die blare is in twee lobbe verdeel en lyk nogal na die afdruk van ’n beesklou

Groei
Die bosbeesklou groei van saad wat oornag in warm water geweek moet word. Die saad ontkiem binne sewe tot 15 dae en kan direk in goed gedreineerde grond met ekstra kompos geplant word.
Die boom is gevoelig vir ryp en klein plante moet teen ryp beskerm te word. Hy hou van vol son en moet gereeld natgemaak word. ‘n Grondbedekking wat dikwels vervang word, is ‘n goeie idee.

Die bosbeesklou is geskik vir groot potte en omdat hy so welig groei, kan hy as heining aangeplant word. Sy wortelstelsel is nie aggressief nie en hy kan naby aan plaveisel of swembaddens geplant word. 

 

© 2020 Die/The Bronberger