Hoofpyn sonder oorsaak PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Tuesday, 22 October 2013 21:51
Untitled Document

Hy haat dit as sy kop so seer is sonder dat hy die vorige aand ‘n druppel gedrink het, sê Gert Mossie. Dit voel vir hom soos die mors van ‘n goeie hoofpyn. Gert vat ‘n behaaglike teug aan sy rooi gesondheidsdrankie.

Die probleem vandag, sê Groot Piet in die hoek, is dat dit te maklik geraak het om te kuier. Dis een van die redes hoekom vandag se ouens nie soos ordentlike kuiergaste drink nie. Hulle ‘syp’, sê Groot Piet.

Vat nou maar vir my, sê Groot Piet, waarop Allen Prentjies dadelik iets agter sy koerant uit mompel wat gevaarlik klink na: “Niemand wil jou tog vat nie, ou Piet, hou jou maar vir jouself.”

“Vir jou vat ek láter,” dreig Piet nou. “Maar vat nou maar vir my. Ek dink ek het laas met my geboorte ‘n kopseer gehad. En dis oor ek in die goeie ou dae al die waarde en regte manier van drankies-geniet geleer het,” sê Piet.

“In daardie dae was die kuierplekke in Pretoria min en die kuier-ure ook. Tienuur soggens was oopmaaktyd en net voor tienuur saans is ‘last round’ oral geroep. Dan moes jy huis toe en bed toe gaan. Daar was nie genoeg tyd om oordadig aan ‘n oggendkopseer te werk nie, “sê Piet.

Kleinkry
Wat hy deesdae kwalik kan kleinkry, is winkeleiers, sê Gert Mossie. Lyk hom iewers langs die pad toe hy nie gekyk het nie, het mense hulle sin vir 'size' verloor.

Nou anderdag toe die weglêhenne hom met nuwe nesplekke gefnuik het, sit hy af na die superwinkel toe op 'n eierkooptog.

Hy was tot onlangs toe nog onder die verkeerde indruk dat 'large' groot beteken en dat 'extra large' nogal baie groot is. Moenie glo nie, sê Gert Mossie.

Die mense wat winkeleiers verpak het 'n heel nuwe waardestelsel ontwikkel waarvolgens grootte bepaal word.

Dit werk só: 'Large' is kapokkieklein. Dit beskryf daardie eiertjies wat jou 'aag siestog' wil laat sê en wat sommer so kaplaks! tot op die bodem van die kookeierhouertjie val. Jy moet sy koppie eers afkap vóór jy hom in die houertjie sit.

Ekstra large raak ampers kant as jy hom in die houertjie sit en sy koppie steek net-net uit om afgekap te word, sê Gert.

Op sommige houers sal jy 'huge' sien en dan moet jy weet dat jy met 'n gewone, doodgemiddelde eier te doen het. Van dié soort wat die plomp, rooi hennetjie gewoonlik sal lê.

En dan kry jy die eiers wat hulle op 'Jumbo-size' roem. Moet jou nou nie misgis nie. Jumbo-eiers is nie van daai soort wat die swaargewig leghorn hen lê as sy die dag by die stoor met die pitmielies ingeglip het nie. Nee, Jumbo dui op wat ons volgens die ou waardestelsel as groterig sou beskryf.

Hy verlang na die dae van die eierbeheerraad. Hy sou by die hoofeier sy eiertjie te lê gehad het en aanbeveel het dat houers as volg gemerk moet word: Piepklein, baie klein, kleinerig, medium en groterig. Dit sou tog sóveel verwarring en teleurstelling voorkom het.

Met ‘n ‘O’
Ou Angie sê dat sy maar nog altyd sukkel om mense se name te onthou. Nogal 'n probleem as jy jou in die wêreld van verslaggewing bevind.

Met een van haar eerste opdragte as penkopverslaggewer het sy inligting by 'n sekere man gekry en alles wat hy te sê het ewe netjies en juis in haar notaboekie opgeteken. Toe dit al amper by die groetslag kom, onthou sy egter dat sy die man se van vergeet het. Sy weet daar was 'n ‘o’- of 'n ‘a’-klank in.

Die verleentheid vir die jong verslaggeefster is groot. Die laaste ding wat sy wil doen is om aanstoot te gee. Wat sal die man dan van haar dink as sy hom nou moet vra wat sy van nou weer is? Hulle is immers netnoumaar nog voorgestel. Sy kry 'n blink plan om die hele verleentheid te ontlont. "Spel 'n mens jou van met 'n ‘a’ of met 'n ‘o’," wil sy weet. "Kok," sê die man. "Met 'n ‘o’ asseblief."

 

© 2019 Die/The Bronberger