Jy kan aanspreeklik gehou
word vir skade as die beeste
wat op jou grond wei, ’n ongeluk
veroorsaak. Dit maak nie
saak of die beeste aan jou behoort
of nie. Dit kan jou aanspreeklikheid
wees as werkers of verbygangers
jou hek oop gelos het om
die beeste te laat uitkom.
Dié feit volg na ’n Appèlhof uitspraak
in Bloemfontein en het ernstige
implikasies vir Bronbergers
wat weiding verhuur of toestemming
gee dat een van die gebied
se beestroppe op hul grond wei.
Die toetssaak wat aanspreeklikheid
op die grondeienaar eerder as die
beeseienaar plaas, het gevolg toe
Ngkaka Nhlapo met sy Toyota
Venture op die R26, tussen Petrus
Steyn en Heilbron, in ’n bul vasgery
het. Die voorval was langs die
plaas Holfontein wat aan ene
Hermanus Enslin behoort.
Ngkaka het Hermanus laat dagvaar
om in ’n siviele geding in die landdroshof
in Petrus Steyn te verskyn
waar hy skadevergoeding geëis
het. Hermanus het bewys dat die
bul nie aan hom behoort het nie,
maar aan Rondekop Mkwanazi
wat R15 per bees per maand vir
weiding betaal het.
 Jy kan skade betaal as beeste wat op jou grond wei, in die pad beland, al is dit nie jou beeste nie
Die hof het Hermanus onskuldig
bevind, maar ná twee opvolgende
sake, het die dispuut in die Appèlhof
geëindig, waar Hermanus
skuldig bevind is. Die regters het
beslis dat hy bewus moes gewees
het dat die beeste in die pad kon
beland en daarom aanspreeklik is
vir die klaer se skade.
Hermanus het twee hekke by die
toegangspaaie na die weidingkamp
laat insit, en het sy werkers
beveel om die hekke toe te hou.
Hulle het dit egter nie gedoen nie,
en die hof het bevind dat Hermanus
meer stappe kon gedoen het
om seker te maak dat die hekke
toe bly.
Dit is ’n algemene verskynsel dat
eienaars van beestroppe in die
Bronberg se hoewegebied van
bure se weiding gebruik maak.
Volker Hammerbacher van Bashewa
sê dit gebeur in sy omgewing
dat beeste, sonder die toestemming
van die grondeienaar, op
hulle hoewes gejaag word om
te wei. Hy is besorg oor hoe die
hof gaan beslis as beeste wat teen
die wil en wete van die grondeienaar
op sy hoewe wei, skade
veroorsaak en ’n eis ingestel sou
word. Hy sê dat daar baie gevalle is waar
drade eenvoudig geknip word om
beeste toegang tot weiding en
suiping te gee.
Sommige Zwavelpoorters kla ook
dat daar nie altyd toestemming
gevra word dat hulle grond deur
beestroppe in die gebied bewei
word nie. Daar was blykbaar al
gevalle waar grensdrade platgedruk
is om beeste tot ’n kamp met’n suiping toegang te gee. |