Print E-mail
News - Toeka se dae
Tuesday, 22 October 2013 23:58
Untitled Document

Angie Kleijn

‘n Treinstasie naby Rayton was die hartseer versendingspunt waar Boerevroue en -kinders in bitter koue winternagte op oop veetrokke gelaai is en na konsentrasiekampe gestuur is.

Dié ou stasie was midde-in die oploop na die Slag van Donkerhoek en die stryd om beheer van die spoorlyn na Delagoabaai in die Engelse Oorlog.


Die 1890 advertensie sê dat suiwer, natuurlike minerale water gebottel is by die beroemde Seltzbach fonteine – Van der Merwe, Transvaal

Van der Merwe-stasie, van waar beroemde minerale water eens die wêreld ingestuur is, bestaan lankal nie meer nie, maar die fonteine, wat op die plaas Elandshoek geleë is, word vandag nog deur die Mamelodi Zion-kerk as ‘n ‘heilige waterbron’ gebruik om mense te doop. Dié mense is salig onbewus van die beendere van hulle voorsate wat iewers in dié gebied steeds wag om ontdek te word. Van der Merwe-stasie was die tuiste van een van die drie swart konsentrasiekampe in die Pretoria-distrik.

Trevor van Luik, wat ‘n gedeelte van die plaas Rietfontein, naby Rayton, van sy pa Bob geërf het, het uitgevind dat van die buitegeboue op die plaas deel van die oorspronklike Van der Merwe-stasie was.
Trevor noem sy grond Getaway Farms en die vyf treintrokke waarin toeriste deesdae hier oorslaap is omtrent tien jaar gelede van Witrivier af gebring.


Só is die vroue en kinders in die NZASM veetrokke gelaai op pad na die
Barbertonse konsentrasiekamp
Foto: Boererepublieke.co.za

Van der Merwe
Van der Merwe-stasie is na DS van der Merwe, een van die handjievol Afrikaanse sakemanne in die 1890’s in die Zuid-Afrikaansche Republiek, vernoem. Hy het ‘n kruideniersware-winkel en later ook ‘n drankwinkel op sy plaas bedryf. Blykbaar was dié perseel ongeveer 4 km vanaf die plek wat vandag as Van der Merwe-stasie geken word.


‘n Britse gewapende trein, beman deur soldate met ‘n Maxim masjiengeweer, in die Engelse Oorlog
Foto: SANMMH

Die spoorlyn is lankal verlê om kronkels uit te sny en loop nou deur Elandshoek waar ‘Van der Merwe’ die naam van ‘n elektriese sub-stasie op die verlegging is, knap voor die trein Rayton binne stoom.
In die 1890’s was daar nog nie ‘n plek met die naam van Rayton nie. Dié naam het te doen met die 1903 Cullinanse diamant-stormloop. Ná diamante op Cullinan ontdek is, het heelwat kleiner myne in die Elandshoek-omgewing begin, soos die Montrose, Schiller en Dunmore myne.


Treintrokke by die plek wat vandag as Van der Merwe-stasie bekend staan

Die Montrose Diamantmyn Maatskappy het ‘n sinkhuis-dorpie, genaamd Rayton Junction, tussen dié myne, langs die NZASM spoorlyn gestig. Die naam kom van een van die mynbestuurders, Kolonel Balliston, se vrou, Lady Rachel Ray Williston.

Seltzbach
Teen daardie tyd het Van der Merwe reeds wêreldwye roem gesmaak met sy Seltzbach minerale water, wat hy uit ‘n fontein op Elandshoek gebottel het. Hy het selfs doktersverslae gehad wat die suiwerheid van sy minerale water verklaar het.

Die fabriek waar dié water gebottel is, was saam met De Eerste Fabrieken net anderkant die berg op die plaas Hatherley langs die Pienaarsrivier, een van die eerste industriële ontwikkelings in die ZAR.  
De Eerste Fabrieken was die naam van die eerste wettige brandewynstokery in die ZAR, wat baie van toeka se kleurvolle karakters byeengebring het. Onder hulle tel Barney Barnato en die sakemanne Isaac Lewis, Sammy Marks en Alois Hugo Nellmapius.


Vroue en kinders met hulle skamele besittings in oop NZASM-spoorwegtrokke onderweg na Barberton
Foto: Boererepublieke.co.za

Met die koms van die spoorlyn is Van der Merwe se wonderwater die wêreld ingestuur, terwyl Eerste Fabrieken se brandewyn plaaslik gebruik is.

Dié spoorlyn het ontstaan uit die ZAR se strewe na ‘n eie verbinding met ‘n nie-Britse seehawe ter wille van kontak met die buiteland. Paul Kruger het in die laat 1880’s opdrag gegee vir die bou van die spoorlyn om Pretoria met Delagoabaai (nou Maputo) te verbind en die Nederlandsch Zuid-Afrikaansche Spoor Maatschappijen (NZASM) is op 21 Junie 1887 in Amsterdam gestig.


Boerevroue en -kinders in oop veetrokke onderweg na die konsentrasiekamp by Barberton
Foto: Boererepublieke.co.za

Oorlog
Met die Engelse Oorlog het die kommersiële gebruik van die spoorlyn in Junie 1900 tot stilstand gekom. NZASM se amptenare is gedeporteer en die treinspoor-netwerk is deel van die Britse Koninklike Militêre Treinspoor-stelsel gemaak.

Lord Roberts het op 5 Junie 1900 in Pretoria aangekom. Ses dae daarná het hy sy opmars langs die NZASM-lyn na Machadodorp begin, waar Paul Kruger en sy Volksraad ‘n tydelike regeringsetel ingestel het.


Lord Roberts het op 29 Julie 1900 posisie by Pienaarspoort ingeneem en die strukture op die Magaliesberg opgerig wat tot Januarie 1901 in gebruik was, toe hulle vervang is deur die
blokhuis treinspoor-stelsel
Foto: ‘Aerial location of fortifications of the Anglo Boer War using a microlight aircraft’ deur DC Panagos en L Faber

Om dit te verhoed, het die Boeremagte ‘n linie van 40 km lank opgestel om die spoorlyn na die ooste te blokkeer. Van der Merwe-stasie het binne dié gebied geval.

Generaal Koos de la Rey se magte het by Boekenhoutkloof die noordepunt gevorm en Generaal Louis Botha se magte het in die Pienaarspoort-distrik, waar die NZASM spoorlyn deur ‘n diep kloof in die Magaliesberg geloop het, stelling ingeneem.


Ben Viljoen in die tyd van die Engelse Oorlog

Slag
Die Britse magte het in ‘n halfmaan nader gekom onder aanvoering van Luitenant-Generaal French in die noorde oor Pienaarsrivier, Lord Roberts in die middel naby Van der Merwe-stasie met roetes deur Franspoort en Pienaarspoort, en Luitenant-Generaal Hamilton in die suide deur Zwavelpoort en Tierpoort verby Seinheuwel, Klipkop en Boschkop.


'n Blokhuis wat twee myl oos van Pretoria opgerig is. Die foto is in Junie 1902 geneem
Foto: SANMMH

Die Boeremagte in die Slag van Donkerhoek het uit omtrent 4 000 manskappe bestaan en die Britte uit 20 000. Onder dié oormag het die Boere teruggeval na Diamond Hill, die hoogste kop op die plaas Kleinfontein.

Generaal Botha wou nie gehad het dat die Britte sy ander stelling moes inneem nie, en het in die nag van 12/13 Junie sy posisie ontruim en na die ooste teruggeval, siende dat hy sy doel bereik het om die Britse opmars agter Paul Kruger aan, te vertraag.


Boere by ‘n treinspoor
Foto: Boervolk

Kamp
Vir weke ná die slag het die Britse elfde divisie en berede troepe naby De Eerste Fabrieken, waar ‘n voorsieningsdepot opgerig is, gekamp. Die Britse konstruksie-ingenieurs het die NZASM-treinspoor in daardie gebied herstel terwyl hulle plase in dié distrik afgebrand het in ‘n poging om die Boeremagte wat die treinspoor beskadig, van bystand te ontneem.

Op 19 Julie 1900 het generaal Ben Viljoen, kommandant van die Johannesburgse Kommando wat aan die Slag van Donkerhoek en Witpoort deelgeneem het, hom ontferm oor die 412 Boerevroue en -kinders wat deur Lord Roberts se troepe na Van der Merwe-stasie gestuur is. Hulle is op dié koue winternag in oop vee-trokke met die NZASM-spoorlyn na die Barbertonse konsentrasiekamp gestuur.


‘n Sandsteen duiksloot-struktuur oos van Delfsand. Dit was waarskynlik iewers tussen Augustus 1890 en Januarie 1893 deur AL Lawley of CM Fall opgerig toe die Pretoria-gedeelte van die NZASM spoorlyn gebou is. Boere in die Elandshoek-distrik het gehelp met die bou van dié strukture
Foto: Delfsand Argeologiese Impakstudie

Ben se kommando was rondom Van der Merwe-stasie bedrywig en het ‘n hele klomp Australiese berede magte hier gevang. Hy het in die guerrilla-fase van die oorlog, vanaf September 1900, een van die eerste Boeregeneraals geword om die tref-en-trap-tegniek, veral teenoor spoorlyne en die blokhuis-stelsel, toe te pas. Klaarblyklik was dit Ben se kommando wat groot skade aan die spoorlyn rondom Van der Merwe-stasie aangerig het.

Geskrifte wys dat ‘n Britse konstruksie-trein op 24 Julie uit Pretoria vertrek het om aan bruggies naby Van der Merwe-stasie, wat vandag op Delfsand se grond is, te werk.


‘n Historiese sandsteen duiksloot-struktuur wat deel was van die NZASM spoorlyn in die vleiland tussen Pienaarspoort en Van der Merwe-stasie. Vandag vorm dit deel van ‘n damwal vir die dreineringslyn wat deur Delfsand se eiendom loop
Foto: Delfsand Argeologiese Impakstudie

Pienaarspoort
‘n Verskeidenheid klipstrukture van beide Boer en Brit is in die heuwels in dié omgewing gevind. Op 29 Julie het Lord Roberts by Pienaarspoort posisie ingeneem en in ‘Aerial location of fortifications of the Anglo Boer War using a microlight aircraft’ deur DC Panagos en L Faber is daar bewyse gevind van die oorblyfsels van die Britse militêre strukture in dié omgewing.

Die Boereskanse het gewoonlik wes gewys, na die Britse posisies teen die Pienaarsrivier.
Bevestiging of die skanse aan Boer of Brit behoort het, is in oorblyfsels soos koeëls, helmets, doringdraad, stukke sinkplaat, blikkies, stewels en gebreekte botels gevind.


Die roete van die historiese NZASM spoorlyn deur Pienaarspoort tot by Van der Merwe-stasie. Die sandsteen duikslote word met pyltjies aangedui
Foto: Delfsand Argeologiese Impakstudie

Blokhuise
Om die verdediging van die NZASM-treinspoor te bevorder het die Britte vanaf Januarie 1901 gewapende treine, so te sê ‘n fort-op-wiele, en blokhuise met doringdrade, loopgrawe en alarmstelsels, begin gebruik.


Die treintrokke wat in die gebou by Getaway Farms ingebou is

Die blokhuise is aanvanklik in Januarie 1901 omtrent 2,4 km uit mekaar vanaf Pretoria teen die treinspoor af gebou. Vanaf Mei 1901 is die blokhuise nader aan mekaar gebou totdat die afstand tussen blokhuise 366 meter was.


Die lokomotief wat vandag by Getaway Farms staan

‘n Blokhuis is by Van der Merwe-stasie opgerig en drie sinkplaat blokhuise in die Pienaarspoort-omgewing. Een was ‘n reghoekige blokhuis op die suidelike heuwel, wat oor Panpoort uitkyk. Die tweede was ‘n sirkelvormige blokhuis op die noordelike heuwel en ‘n derde blokhuis se fondasie is ook gevind.

Konsentrasiekamp
Daar is min bekend oor die swart konsentrasiekamp by Van der Merwe-stasie. Historikus dr Robert de Jong wat met navorsing oor dié kamp besig was, het na Australië geïmmigreer. Daar was 66 swart konsentrasiekampe, teenoor die 56 blanke kampe, in die Engelse Oorlog. Rekords wys dat daar
115 700 swart geïnterneerdes was en dat 14 154 in die kampe dood is, maar daar is ‘n vermoede dat dié getal nader aan 20 000 is.


Historikus dr Robert de Jong het in 2011 ‘n lesing oor die geskiedenis van die
NZASM-spoorlyn by die Cullinan-bewarea aangebied
Foto: Cullinan Bewarea

 

© 2020 Die/The Bronberger